Grootse seëninge wag op ons!

“Luister en doen, wat Ek sê…”


DIT is belangrik om die Woord van GOD te ken, maar dis veel meer belangriker om te handel volgens Sy Woord. Wanneer dit by die seëninge van GOD kom, dan gaan dit nie oor watter aanbiddingsplek jy bywoon nie.

Om GOD se seëninge in jou lewe te sien manifesteer, moet jy ‘n dader van die Woord wees.

‘n Vrou vertel eendag dat sy die orreliste in haar gemeente is, sy

is ook koorleidster, komiteelid van die Vroue-vereniging en Sondagskool- onderwyseres. Sy bak vir elke basaar, woon alle dienste en bidure getrou by, sorg vir haar man en haar kinders en die huis is altyd netjies.

Maar iets was verkeerd, iets wat niemand van geweet het nie, of so het sy gedink.

Op ‘n dag toe bel sy ons kantore en vra benoud: Help asseblief!

Op pad na haar huis het ons gebid, die satan gebind en hom in Jesus Christus se naam gebied om sy werke in daardie vrou se lewe te openbaar.

Ons het skaars gesit of die vrou het van haar ontugtige verhouding met ‘n getroude man begin vertel. Toe sy klaar vertel het, het sy na haar asem gesnak en gesê: Hoe kon ek ooit hierdie goed bekendgemaak het?

Ons het haar getroos en gesê: Toemaar, jy het dit nie gedoen nie. Die demone wat jou teister het hulself in die naam van Jesus Christus geopenbaar.

Waar hierdie vrou ‘n lewe van Christelike vereenselwiging gelei het, het sy daarna — na diepe berou, baie trane en skuldbelydenis — ‘n oorwinnende lewe in Christus begin lei.

Ons moet vir onsself afvra: Stap ons net saam, of is ons inderdaad Christen in Gees en in Waarheid?

Anders gestel: Vereenselwig ons onsself met die Christelike lewe, of het ons ‘n persoonlike verhouding met GOD?

Die HERE sê Hy seën ons in oorvloed, maar meeste van ons het nie eers genoeg nie, wat nog te praat van oorvloed.

Wanneer mens iemand nie vergewe nie, dan beroof jy jouself van GOD se vermenigvuldende seëninge.

Gaan lees weer die Onse Vader — vergewe ons, ons skulde soos wat ons, ons skuldenaars vergewe.

Die strofés net nà die Onse Vader, verduidelik dat as ons nie vergewe nie, kan GOD ons nie vergewe nie en beroof ons onsself van Sy seëninge.

GOD vra reg deur die Bybel net twee dinge van Sy Volk: Luister na wat Ek sê en doen dit!

Ouers sê vandag aan hulle kinders presies dieselfde: Jy sal nooit ‘n pak slae kry as jy net na my wil luister en doen wat ek sê nie!

Dit is waarom ons GOD eerste moet stel in ons lewens.

‘n Vrou bel ook op ‘n dag en sê sy is sterwend aan leukemia, wil ons nie asseblief kom bid nie.

Weer ‘n keer, op pad na haar huis, bid ons en gebied die satan in die naam van Jesus Christus om sy werke in die vrou se lewe te openbaar.

Nog voordat die vrou kon praat, toe sê ons aan haar: Mevrou, die

HERE kan jou nie genees nie want jy lewe met ‘n verterende haat in jou hart jeens iemand anders.

Sy het geantwoord: Dit was so, maar dit is nie meer so nie.

Ons sê toe aan haar: Dit is steeds so, maar omdat jy so siek is, kan jy nie meer so baie aandag aan die haat skenk nie, nou verbeel jy vir jou die haat is nie meer daar nie.

Ons voeg toe by: As daar nou ‘n klop aan die voordeur is en jy maak ook en daar staan die mense wat jy so haat voor jou, sal jy hulle hartlik groet en na binne nooi en verneem of hulle graag tee of koffie wil drink?

Sy het antwoord: Nee, darem nie so nie.

Ons het vir haar gesê dat ons vir haar sal bid vir genesing op voorwaarde dat sy haar saak met die vriende gaan regmaak en waarlik vergewe.

Drie jaar later sien ons haar vir die eerste keer weer, blakend gesond besig om saam met haar man inkopies te doen – vry en in oorwinning!

Skuld jy iemand geld of iets anders wat jy geleen het en jy gee nie terug nie? Sulke dinge veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees en jy kan nie in oorwinning lewe nie, ook kan GOD jou nie in oorvloed seën nie.

Sit jy in daardie toestand by die Nagmaaltafel aan en drink oordele oor jouself — dis wat jy oor jouself bring as jy onwaardig by die Nagmaaltafel aansit!

Wat is liefde? Om dit elke dag vir iemand te sê? Soms ja, maar die bewys van die liefde lê in die doen, in die vrug daarvan, sodat vriend en ook vyand dit kan sien en beleef.

Petrus sê drie keer: HERE ek het U lief.

Hy het van fileo-liefde, menselike liefde, gepraat, terwyl Jesus Christus elke keer verwys het na agapé-liefde, Goddelike liefde.

As ons GOD en medemens met Goddelike liefde liefhet, dan begin alles verander, dan oorheers die liefde net mooi alles!

Maar hoe langer ons in gebreke bly om hierdie uiters sensitiewe saak reg te stel, hoe langer sal ons onder strafgerigte gebuk moet gaan.

Nogtans, GOD se liefde teenoor ons is so groot dat Hy nie eers ‘n geknakte riet sal verbreek nie.

Voel jy soos ‘n geknakte riet? Tel jou kop op, maak jou paaie gelyk, luister en doen wat GOD sê, en jy sal oorwinning en grootste seëninge beleef, en let op wat gebeur dan:

“As jy goed luister na die stem van die HERE jou GOD om sorgvuldig te hou, al Sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou GOD jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde.

“En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou GOD.

“Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld.

“Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrug van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.

“Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel.

“Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang.

“Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.

“Die HERE sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan.” – Deut. 28:1-8.

Maar dis nie al nie. As ons as Sy volk ook goed luister na die stem van die HERE onse GOD en sorgvuldig Sy gebooie bewaar, dan gebeur die volgende:

“Die HERE sal jou as heilige volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van die HERE jou GOD hou en in Sy weë wandel.

“En al die volke van die aarde sal sien dat die naam van die HERE oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees.

“En die HERE sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee.

“Die HERE sal Sy goeie skatkamer, die Hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën, en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.

“En die HERE sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie – as jy luister na die gebooie van die HERE jou GOD wat ek jou beveel om te doen.

“En jy nie regs of links afwyk van al die woorde wat ek julle beveel, om agter ander gode aan te loop en hulle te dien nie.”

Vanaf strofé 15 sê die HERE watter vloeke en trauma ons sal inhaal as ons nie luister en nie doen nie.

Die keuse is ons sin!



Hosted by www.Geocities.ws

1