Word vernuwe in julle gemoed!


Verkeerde gesindhede kan ons ondergang beteken. Fil. 2: 5 lees: Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was …

Watter gesindheid word hier na verwys?

Ons lees verder: “Hy wat in die gestalte van GOD was, het dit geen roof geag om aan GOD gelyk te word nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk te word.

en in gedaante gevind as ‘n mens het Hy homself verneder (nie verkleineer nie) deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

“Daarom het GOD Hom ook uitermate verhoog … “

Ons gesindheid is die sleutel om dit te bereik wat GOD wil hê ons moet bereik. Een van die grootste bates wat ons kan en mag hê is om positief te wees want ons aanbid ‘n positiewe GOD.

Mense word egter nie met ‘n positiewe gees gebore nie. Dit is iets wat jy bekom deur oefening, deur met deur GOD se Woord gewas te word, jou te laat reinig deur die Woord. Dis ‘n groeiproses.

Let op dat die Skrif sê: “Hierdie gesindheid moet in julle wees…”

Dit beteken dat dit ons verantwoordelikheid is om te sorg dat ons die regte, positiewe, gesindheid het.

Elkeen van ons het die mag om te kies tussen ‘n positiewe of ‘n negatiewe gesindheid. Ons keuse (reg of verkeerd) bepaal ons toekomspad.

Om te begryp hoe kragtig en dinamies ‘n positiewe gesindheid kan wees is dit nodig dat ons die geestelike pad as ‘n avontuur beskou, ‘n geloofs-avontuur, ‘n uitdaging, maar ook ‘n roeping!

2 Kor. 4:8-9 lees: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie, ons is verleë, maar nie radeloos nie, vervolg, maar nie verlate nie, neergewerp, maar nie vernietig nie.

Let op hoe ons nie moet toelaat dat die negatiewe ons dwing om ons positiewe gesindheid te verander nie!

Die verklarende woordeboek sê gesindheid beteken ook denkwyse, stemming.

Efes. 4:23 pas skitterend hierby aan: “… dat julle vernuwe word in die gees van julle gemoed.”

As ons gemoed nie vernuwe word nie, dan bly ons verduisterd in die verstand, aldus Efes. 4:18.

Rom. 12:2 lees “… maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed (hoekom?) sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van GOD is.”

Wanneer mens vir baie mense vra hoe dit met hulle gaan, dan begin hulle telkens die antwoord met “onder die omstandighede,” maar wanneer mens gedurigdeur vernuwe word in jou gemoed, dan lewe jy bo die omstandighede.

Ons mag nooit toelaat dat omstandighede enige inbreuk op ons maak nie. Ons gesindheid moet positief bly wat ook al die verandering in omstandighede rondom ons. Hand. 20:24 "Maar ek bekommer my glad nie ..."

“Ons gesindheid het ‘n ontsettende groot impak op ons lewens. Iemand het een keer gesê jou gesindheid kan jou grootste bate of jou grootste vyand wees.

Fil. 4:6 lees “Wees oor niks (absoluut niks) besorg nie… “

Dit klink byna onmoontlik maar die Skrif leer ons wat om te doen sou ons ‘n probleem hiermee hê. Hoe kan mens oor niks besorg wees nie wanneer jy onmoontlike situasies in die gesig staar? Jy kan nie, tensy jy oortuig is dat GOD groter is as die omstandighede!

As daar “onmoontlike” omstandighede sou opduik, word weereens vernuwe in jou gemoed volgens Fil. 4:6 “laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word (waar? – by die bure? Nee!) by GOD! En die vrede van GOD wat alle verstand te bowe gaan sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Ps. 27:1 “Die HERE is my lig en my heil, vir wie sou ek vrees. Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek beangs wees?

Lees maar die hele Ps. 27 en let op dat wanneer ons gesindheid reg is, wanneer ons gedurig vernuwe word in ons gemoed, niks teen ons sal kan standhou nie.

Ons het ‘n keuse. Ons kan op die probleem fokus of ons kan die manifestering van die goedheid van GOD in ons lewens ervaar.

Ons gesindheid gaan die rigting van ons lewensloop bepaal. Die kwaliteit van ons lewens word bepaal deur die gesindheid wat ons openbaar te midde van alle uitdagings.

As ons gesindhede in die verlede nie was wat dit moes wees nie, laat ons dan die verantwoordelikheid opneem om vernuwe te word in ons gemoed.

Ons moet ophou om onsself te bestraf – ‘n smartvraat te wees – oor foute van die verlede. Leer liewer daaruit en gaan aan met jou lewe. Fokus op die goeie dinge van die verlede al sou jy voel dat daar nou nie juis veel sulke wonderlike belewenisse was nie.

Begin deur te besef dat GOD jou liefhet. Dit maak nie saak wat enigiemand te sê het of wat ook al gebeur het nie, die waarheid, die realiteit van die dag is, GOD het jou lief! As daar fout is sal GOD jou vergewe. Vergewe ook jouself!

Vergewe ander in die lewe wat jou kwaad aangedoen het. Deur dit te doen sal jy weer beheer oor jou eie lewe inneem. Deur vas te hou aan leed wat ander jou aangedoen het, is om te verhoed dat jy ‘n vry, geesvervulde en oorwinnende lewe in Christus kan lei.



Hosted by www.Geocities.ws

1