Gelukkig saam vir die res van hulle lewe…


Dit is bekende woorde, veral na huwelike: En toe woon hulle gelukkig saam vir die res van hulle lewe. Maar is dit waar?

Dit klink meer na ‘n feëverhaal, ‘n sprokie. Ons wat getroud is, ons weet dat daar geen waarborg is dat jy vir die res van julle gelukkig saam sal woon nie – of is daar!

Ag, al probeer ons, ons uiterste bes kom daar tye van bitterheid, vyandigheid, onrus, misverstande en treurmare. Daar is niks wat enigiemand meer ongelukkig kan maak as juis ongelukkigheid in ‘n huwelik nie.

Hoe baie het mens dit nie tydens beradings beleef nie. En met ‘n egskeidingsyfer van twee uit elke drie huwelike, is dit nodig dat ons van tyd tot tyd opnuut na die huwelikslewe kyk.

1 Pet. 3: 4 sê dat ons ‘n sagmoedige en stille gees moet hê wat vir God baie kosbaar is. So ‘n gees is ook ‘n onverganklike versiering.

In plaas van te fokus op wat verkeerd is met ons huweliksmaat, moet ons eerder God vra om die euwel in onsself te openbaar. God sal dit doen, met verdrag, in mooiheid en genadiglik.

Ons sal onsself dan begin sien soos wat ons werklik is. Ons sal dan agterkom dat ons nie die bedagsame, geduldige, beleefde, vriendelike en selfbeheersde persoon is wat graag wil gee eerder as om net te ontvang nie en wat ons onsself verbeel het ons is nie.

Ons – ek my maat, jy en jou maat – sal dan agterkom in hoe ‘n groot mate ons God se vergifnis nodig het. Ons sal agterkom hoe ons die hulpende hand van die Heilige Gees in ons lewens nodig het (1 Pet. 3: 1-12) om ons te help om te doen wat lieflik en liefdevol is, selfs wanneer ons verkeerd opgetree het.

Ons groei in die genade van God sal ons huweliksmaat verander. Die lig verdryf die duisternis. Die enigste waarborg in hierdie lewe is God se liefde.

Met Sy hulp kan ons verander. Ons sal die “probleme” in ons huwelik soos volwassenes en liefdevolle mense hanteer.

Onthou altyd: In jou huwelik is julle ‘n driemanskap – jy, jou maat en God. Julle huwelik is immers in die teenwoordigheid van God voltrek. Ons kan nie wanneer dinge lyk of dit skeef begin loop, God uit die huwelik uitsluit nie.

Ons durf Hom ook nie uitsluit wanneer dit goed gaan nie. Hy is en bly deel van die driedubbele gevlegte tou. Hy is daar om ons te help om van ons huwelik ‘n sukses te maak.

Sukses in die huwelik is nie om die regte persoon te vind nie, maar om die regte persoon te word!


Hosted by www.Geocities.ws

1