Daar is genesing vir die Siek wêreld waarin ons woon
Maar dan moet ons NOU optree!
Die geestestoestand van skoliere en studente reg oor die wêreld, ook in Suid-Afrika, is besig om ernstige afmetings aan te neem.
Die skrikwekkende gevalle van kinderverkragtings, seksuele teistering, aanrandings, verwaarlosing en selfs mutimoorde, op van babas tot skoolkinders en selfs deur ouers, familielede en onderwysers is een van die tekens van die morele verval wat daar in SA plaasvind het.
Erkenning van kinderregte help min want owerheidsoptrede en ook gemeenskapsaksies bereik weens die toename in hierdie soort misdryf, nie die punt waar hulle die situasie omgekeer kry na voorkoming nie.
Maar dis nie waaroor hierdie artikel handel nie. Hier gaan dit oor jeugdiges, selfs uit die voortienergroep, wat ‘n onrusbarende groot deel van ons misdadiger bevolking uitmaak.
Hulle is dikwels in middestedelike gebiede betrokke as inbrekers, sakkerollers, dwelmsmouse en dies meer. Hulle is arrogant en as hulle gevang word, intimideer hulle, hulle slagoffers met die dreigement dat hulle spoedig sal terugkeer om wraak te neem.
Dit gebeur dan ook, danksy die feit dat hulle meesal gou weer vrygelaat moet word. Jeugmisdaad is nie tot huislose straatkinders of kleur beperk nie beperk nie. Dit het tot in die ouerhuise en die skole deurgedring.
In die wit woonbuurte gebruik hulle dwelms, ruk stopstraat- en ander padtekens uit die aarde en vernietig straatnaamborde, gooi ruite en ligte van poskantore en biblioteke flenters, beskadig onskuldige motoriste se motors en skep behae daarin om drankbottels in strate en op sypaadjies flenters te gooi.
Dink ook maar aan al die berigte oor die rassistiese aanrandings en selfs moord deur skoolkinders op mekaar en op hulle onderwysers, en op hulle ouers.
Daar is ‘n ontsaglike wanbalans. Intimidasie is algemeen, asook dwelmhandel en dwelmmisbruik onder skoolkinders. Jeugdiges word by bendes betrek en is ‘n algemene gesig onder skares wat met plakkate teen die wetlike gesag van die howe protesteer.
‘n Belangrike deel van die probleem is die eensydigheid van die beskerming van kinderregte. Net soos die res van die program van menseregte val die klem feitlik uitsluitlik op regte en dan ter uitsluiting van verantwoordelikhede en, in die geval van kinders, van doeltreffende dissiplinering.
Lyfstraf deur onderwysers en die howe is afgeskaf en ‘n kind kan selfs sy ouer aankla as dié hom met die lat bykom. Ook ander vorme van dissiplinering is aan strenge en neutraliserende bepalings onderworpe.
Die uitwerking hiervan is dat daar in die skole en die samelewing nie doeltreffende metodes bestaan om kinders te dissiplineer en hulle ook deur tug verantwoordelik op te voed nie.
Alle kinders wat oor die tou trap is nie misdadig nie, maar kan so word as hulle nie ook die nodige verantwoordelike tug ervaar wat die sielkundige uitwerking het om ‘n kind geborge te laat voel nie.
‘n Verdere probleem is dat daar in baie skole onderwysers is en in baie huise ook ouers wat self nie die voorbeeld van ‘n gedissiplineerde lewe stel nie.
‘n Mens hoor selfs van onderwysers wat dronk in die klaskamer kom en geen respek vir tydroosters het nie. Selfs wit onderwysers word geskors oor die gebruik van dwelms en ander wanpraktyke.
Daar is ‘n saak uit te maak om lyfstraf in skole en die howe terug te bring, hoewel onder streng voorwaardes en beheer. Die probleem is die baie onderwysers, skoolhoofde inkluis, wat nie met so ‘n verantwoordelikheid vertrou kan word nie.
Lyfstraf is natuurlik ook nie al metode van doeltreffende tug nie, hoewel dit in sommige gevalle aangewese kan wees. Van owerheidsweë is die tyd meer as ryp dat daar behoorlike rehabilitasiesentrums vir jeugmisdadigers tot stand kom waar ook verantwoordelike maar doeltreffende maniere van tug toegepas kan word.
Vandag se kinders moet more die volwasse verantwoordelikhede van die samelewing dra. As hulle dissiplineloos grootword, gaan dit ook tot ‘n dissiplinelose samelewing lei, iets wat ons reeds in te hoë mate ervaar.
Kom ons stel dit meer drasties: Daar is vandag in SA meer ongebalanseerde en ongedissiplineerde mense as normale gedissiplineerdes.
Met ander woorde, die skaal hang reeds na die verkeerde kant toe, en die wanbalans neem toe. Na regte moet daar meer normale gedissiplineerde mense wees as andersom.
Navorsing in Engeland toon dat 40% van alle studente probleme met geestesiektes ondervind. Angsvlakke onder studente in meer as twee keer hoër as onder nie-studente.
In Beijing toon navorsing dat 16% van alle studente psigiatriese probleme het, met 28% van kollege studente wat probleme het met angs en depressie.
In Amerika ly 10% van die studente aan depressie. Daar is ‘n ontsettende sterk toename in die vraag na psigiatriese behandeling. Daar is ook ‘n toename in eetwanbalanse en gebruik van medikasie en dwelms.
‘n Bolandse moeder skryf: “Die stelsel werk nie. Die polisie keer daagliks jeugmisdadigers aan wat steel, inbreek, roof, verkrag en ook moor.
Die kinders word weer en weer voor die hof gebring, en net so gereeld deur die hof in die sorg van hul ouers geplaas.
Dit beteken huisarres, maar die kinders bly nie by die huis nie. Die ouers weet nie bedags of snags waar hulle is nie.
Twaalf jaar is die gemiddelde ouderdom van die jeugmisdadigers. Dit is volgens wet te jonk om tronk toe te gaan. Maar nie te jonk om onskuldige mense se lewens te verwoes nie.
Word die jeugdiges na sogenaamde plekke van veilige bewaring verwys (waar daar geen slot of grendel is nie), is die stout kinders dieselfde nag nog terug in hul tuisdorp.
As daar 'n stelsel was wat gewerk het, sou die twee kindertjies wat in die Bergrivier gegooi is om te verdrink, vandag nog geleef het.”
Mnr D.R. de Jager van Technikon Pretoria, sê: “Die jeugmisdadiger se dialek: 'n sosiolinguistiese perspektief binne die forensiese linguistiek.
SA beleef tans 'n erge belewenis t.o.v. misdaad, en dit bedreig ons persoonlike ruimte en ekonomie.
Bekampingsmaatreëls blyk nie oral suksesvol te wees nie, en daarom moet daar na die oorsprong gekyk word om sodoende verloop te voorspel.
Misdaad as 'n gedragsprobleem vind sy oorsprong in die jeug en manifesteer homself in jeugmisdaad.
As 'n diepte studie gemaak word van die jeugmisdadiger se dialek, dus sy taalgebruik, is dit moontlik om toekomstige jeugmisdadigers te identifiseer en sodoende proaktief op te tree.
Die jeugmisdadiger se dialek werp noodwendig meer lig op die sosiologiese asook die psigologiese aspekte wat bydra tot die konteks waarin misdaad geskied.
Hierdie inligting skep dus 'n betroubare, holistiese profiel van 'n prototipiese jeugmisdadiger. In dié lesing word gekyk na bevindinge t o v die jeugdialek met spesifieke verwysing na bendetaal, flaaitaal ens. Uitkomste t.o.v. korrelasies word ook onder die loep geneem.”
‘n Bloemfonteinse koerant, Ons Stad, berig: “Skokkende verhale van satanistiese bedrywighede in Bloemfontein waar die bloedlose liggaam van 'n man op Naval Hill gekry is met sy keel en boude afgesny – waarskynlik om mensvet vir die maak van kerse en bloed te bekom vir rituele – het ontvou op die amptelike opening van die Auksano-krisissentrum in die stad.
Die doel van die Auksano-sentrum is om kinders en volwassenes wat vasgevang is in die wêreld van satanisme en destruktiewe subkulture en ouers van dié kinders by te staan met 'n multiprofessionele benadering.
Mnr. Johan de Beer, wat sy werk in die polisie bedank het om heeltyds diens by Auksano te lewer, sê satanistiese bedrywighede in die stad neem "dramaties toe" en het 'n reuse krisis geword. Net in Januarie het 31 nuwe gevalle by Auksano om hulp kom aangeklop en vandeesmaand (Februarie) 18 - almal kinders met 'n gevoel van hopeloosheid en haat vir die lewe nadat hulle by satanisme betrokke geraak het.
"Seerkry en haat laat dikwels die kinders by satanisme betrokke raak," sê De Beer.
In een geval is 'n eerstejaarstudent aan 'n tersiêre inrigting in die stad deur haar pa verkrag, wat glo veroorsaak het dat sy by satanisme betrokke geraak het. In 'n ander geval het 'n kind van slegs nege jaar aan satanistiese bedrywighede deelgeneem waar 'n kat geslag en bloed gedrink is.
"Kinders wat betrokke is, dra dikwels swart klere en sluip in pype in die stad rond. Van hulle het reeds selfmoord gepleeg en ander oorweeg dié dramatiese stap dikwels as laaste uitweg."
Dokters, psigiaters, prokureurs en ander gemeenskapsleiers wat die opening van Auksano bygewoon het, sê hulle is "tot in hul wese geskok" oor die inligting wat op dié geselligheid bekend gemaak is.
Die skyfievertoning het skrikwekkende beeldmateriaal bevat oor okkulte bedrywighede in die stad.
Mnre. Danie Krugel, wat nou by 'n tersiêre instelling in die stad werk, en De Beer het onderskeidelik 12 en 13 jaar diens in die polisiemag waar hulle veral met okkulte bedrywighede doenig was.
Albei werk nou vir Auksano – De Beer heeltyds en Krugel bedags in sy vrye tyd nadat hulle aangegryp is deur die menseleed. Die derde vennoot is ds. Johan Cilliers wat by 'n gemeente in die stad betrokke is en wat werk aan 'n doktorsgraad oor okkulte gekweldheid.
De Beer sê twee soorte mense is by satanisme betrokke. Selfs van die stad se dokters, prokureurs, sake- en polisiemanne behoort aan die topgroepe sataniste in die stad met name soos Brotherhood of the Ram, Order of Darkness en Sons of Satan. Dan is daar die kinders wat met satanisme begin eksperimenteer en ingetrek word.
Hy sê seksuele promiskuïteit speel 'n geweldige rol by satanisme. Seksueel oordraagbare siektes soos hepatitis B en MIV/vigs word versprei deur die bloed wat in rituele gedrink word en briewe wat met 'n mengsel van bloed en urine verseël word.
Misdaad speel 'n groot rol en hoewel hulle godsdiensvryheid het, kan 'n mens nie by satanisme betrokke raak sonder om ook by misdaad betrokke te raak nie. Satanisme as sodanig is nie 'n misdaad nie.
Tipiese soorte misdade waarby mense betrokke raak, is opsetlike saakbeskadiging, grafskending om "God te tart", moord, verkragting en aanranding.
Dwelms speel in 100% van die gevalle 'n rol. "Kinders raak eers by dwelms betrokke en dan by satanisme, " sê De Beer. Soorte dwelmmiddels wat by die kinders gekry word, is: Crack, Ecstasy (wat tussen R80 en R120 per tablet kos), LSD, dagga en kokaïen (wat tussen R200 en R450 per gram kos).”
Mens wil nie eers begin om al die redes op te noem wat wêreldwyd aangevoer word waarom die jongmense oor die afgrond stort nie. Alhoewel van die redes, elemente van moontlike waarhede kan bevat, is die hoofoorsaak dat dit nie wel is met die sieleheil van die ouers nie en daarom is die kinders en jongmense slagoffers hiervan.
Die waarskuwingstekens was wat SA betref al in 1974 duidelik sigbaar. Vandag moet ons erken dat die morele aanslag teen die jeug van SA en die nie-kommunistiese wêreld, geslaag het.
Maar so is die mens mos, hy weet altyd beter. Vandag besef almal dat as daar in 1974 na die waarskuwings geluister was, dinge baie anders daaruit sou gesien het.
Daar is hard en duidelik teen die morele aanslag gewaarsku, want toe reeds was daar onderwyseresse wat bedags in die klaskamer as onderwyseres en snags as onkleedanser opgetree het.
Toe reeds het die pornografie in verskeie vorme die land binnegekom.
Toe reeds het vaders hulle plig as hoë priester van hulle gesinne versaak want aandgodsdiens en Bybelstudie moes plek maak vir die TV.
Oornag het daar wêreldwyd ‘n onversadigbare dors ontstaan na wellus in natuurlike en onnatuurlike vorms. Vandag is daar miljoene webblaaie op die Internet oor bestialiteit en die vuilste smerigste vorms van seks. Huwelike val daaroor uitmekaar met kinders wat ongebalanseerd grootword.
Ons hoef nie verder as die vaders van die gesinne te kyk nie. Omdat hulle, hulle plig versaak het, het die vakuum vir die sataniese bedrywighede ontstaan.
In die skool word seksvoorligting aangebied, asof dit nou enigsins sal help. Hoekom word gesinsvoorligting, die rol van die vader, moeder en kinders in gesinsverband, nie aangebied nie, en dan op grond van die Skrif?
In 1974 word in Denemarke ‘n rolprent gemaak met die naam “The Love Affairs of Jesus.” Die Deense regering het die maak van die rolprent mildelik subsidieer.
Nogal interessant dat die Moslem-gemeenskap in SA in 1974 die eerste was om beswaar te maak teen “The love affairs of Jesus.”
Die verklaring deur die Moslem-gemeenskap het gelees: “Die Moslem gemeenskap van SA teken sy sterkste beswaar aan teen die ontheiliging van die verhewe karakter van die heilige profeet Jesus Christus in die beoogde rolprent oor sy lewe. Staak asseblief die verfilming.”
Hierdie optrede van die Moslems het in 1974 reeds bewys hoe diep die traagheid en valse gerustheid reeds in die lewe van ons “Christelike” nasie ingedring het.
Tensy ons nou inderdaad onsself gaan wakker skud uit hierdie fatale doodsheid en ons verlamde knieë oprig met nuwe moed, nuwe visie en ‘n nuwe ywer van voorwaarts Christen-stryders, sal ons kinders in hierdie Sodom en Gomorra sterf en ons sal in die ewige verdoemenis eindig. God sal ons uit Sy mond uit braak, sê Hy!
Ons en ons kinders is geestelike siek. Dit verhoog die verantwoordelikheid van diegene wat nog op die normale gedissiplineerde Christus-weg is: Julle moet toegewyd bid vir geestelike herlewing. Bind julleself twee-twee soos Simson se jakkalse aanmekaar, word besield met die vuur van die Heilige Gees en brand die weivelde van bose af in vurige gebed want alleen die vurige gebed van die regverdige het groot krag.
Ergste van alles is dat in 1974 die ernstige waarskuwing ook gelui het: As die Christendom homself nie nou oprig en wal gooi teen morele oorlog nie, kan ons selfs in ‘n kommunistiese staat eindig.
Nou waarsku ons weer: Verootmoedig julle, keer terug na God, herstel die huisaltare en maak alles nuut, of anders is ons more nie meer hier nie!