1 Korinthiërs 13
NOU wys ek julle 'n weg wat nog die allerbeste is:
Al praat ek die tale van mense en engele,
maar ek het geen liefde nie,
het ek 'n stuk klinkende metaal
en 'n galmende simbaal geword.
Al het ek die gawe van profesie
en ken ek al die geheimenisse,
en besit ek al die kennis,
en al het ek die geloof om berge te versit,
maar ek het geen liefde nie,
dan is ek niks.
Al deel ek al wat ek het aan ander uit,
en al gee ek my liggaam prys,
om my daarop te kan beroem,
maar ek het geen liefde nie,
baat dit my niks.
Die liefde is geduldig
die liefde is vriendelik
dit is nie afgunstig nie
dit is nie grootpraterig nie
dit is nie verwaand nie.
Dit handel nie onwelvoeglik nie
dit soek nie sy eie belang nie
dit is nie liggeraak nie
dit hou nie boek van die kwaad nie.
Dit verbly hom nie oor onreg nie,
maar verheug hom oor die waarheid!
Die liefde bedek alles,
Glo alles
Hoop alles
Verdra alles
Die liefde vergaan nooit nie,
Maar profetiese gawes raak uitgedien
Tale sal ophou
Kennis sal uitgedien raak.
Want ons ken maar gedeeltelik
en ons profeteer maar gedeeltelik
maar wanneer die volledige kom
sal wat gedeeltelik is uitgedien wees
Toe ek ‘n kind was
het ek gepraat soos ‘n kind,
gedink soos ‘n kind,
geredeneer soos ‘n kind.
maar noudat ek groot is,
Is ek klaar met die dinge van ‘n kind
Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël
en sien ‘n raaiselagtige beeld,
maar eendag sal ons alles sien,
soos wat dit werklik is.
Nou ken ek nog gedeeltelik,
maar eendag sal ek ten volle ken,
soos God my ten volle ken.
En nou bly
Geloof, Hoop en Liefde –
hierdie drie.
En die grootste hiervan,
is die (Agapé) Liefde!
Ns
Al onderhou ek al die wette van die Ou Testament
en ek het nie die liefde nie,
kan ek ook nie 70 maal 7 keer vergewe nie.
Dit beteken nie dat al die genoemde gawes minderwaardig
of uitgedien is nie, maar al sou mens al die gawes hê en jy
openbaar nie Goddelike (Agapé) liefde nie, het jy beslis net
‘n galmende simbaal geword.