“Dan sal die
Koninkryk van die Hemele wees soos die tien maagde wat hulle lampe geneem en
uitgegaan het om die Bruidegom te ontmoet.
“En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die Bruidegom; gaan uit, Hom
tegemoet.” – Matt. 25:1-6.
Die aandag word op Sy Wederkoms
gevestig, nie as Verlosser nie, maar as Bruidegom : “Daar kom die Bruidegom!”
Hy kom nie as Regter nie, ook nie as
Krygsman van Armageddon nie, maar as Bruidegom.
Christus kom as Juwelier na sy Juwele
(Mal:3:17), om sy Oes in te haal (Matt. 13:30, as die Koopman vir sy Pêrels
(Matt. 13:45), as Edelman vir sy Onderdane (Luk. 19:12), as die Herder van sy
Skape (1 Pet. 5:4).
Ja, natuurlik kom Hy as die
Bevelvoerder vir die Slag van Armageddon, maar eers, kom hy as Bruidegom!
Wees gewaarsku! Hy kom vir seker. Die tyd is reeds bepaal.
Die skedules is reeds gedruk.
Die Groot Dag is aan God bekend.
Daar is egter ‘n verrassingselement:
Die Bruid weet nie wanneer haar Bruidegom haar kom haal nie, juis daarom moet
sy deurentyd gereed wees.
Niks kan Sy koms verhoed nie. Die besluit oor sy Wederkoms is
onomkeerbaar. Hy het dit belowe in sy
Woord en Hy bly ‘n waarmaker van Sy beloftes.
Geen verdraaiing van sy Woord kan die
Wederkoms vertraag, stop of verander nie.
Valse profete kan maar profeteer soos hulle wil, Hy kom inderdaad!
Christus se Wederkoms is so seker as
die integriteit van die Almagtige God!
Vraag is: Is jy gereed?