DIT
is hoe eenvoudig dit is: Die besluit is jou eie – wil jy wen, of wil jy
verloor!
Gal. 6: 7-10 stel elkeen van ons voor
die ‘n keuse: Lewe of Verderf:
·
Moenie
dwaal nie, GOD laat Hom nie bespot nie
·
Want
net wat die mens saai, dit sal hy ook maai
·
Hy
wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai!
·
Hy
wat in die Gees saai, sal uit die Gees die Ewige Lewe maai
Die keuse is jou eie. Saai in die vlees – daardie dinge wat jou vernietig, jou vlees vernietig, soos ook om onwaardig by die Nagmaaltafel aan te sit.
Daardie dinge wat jy weens oortuiging van die Gees, in jou diepste wese weet, is verkeerd, skadelik. Daardie dinge wat ‘n binding in jou gees veroorsaak sodat jy nie met GOD en almal rondom jou in die Lig kan wandel nie.
Die sinneloosheid wat jy aan jouself opdis met allerlei praatjies en verskonings, net om jou onreinhede te regverdig, terwyl jy goed weet, jy is met verkeerde dinge besig.
Die valse troos wat jy self opdis: Maar ek dien mos die HERE, ek probeer my bes, almal is nie volmaak nie, ag, julle verstaan nie, ek is soos ek is en ek vind geen probleem daarmee nie.
Die keuse in jou eie: Kies vlees en jy sal voorwaar verderf maai. Jy gee jou eie vlees aan die verderf oor. Die besluit is jou eie.
GOD dwing weliswaar niemand nie, maar Hy laat Hom ook nie bespot nie. Moenie vir Hom probeer verskonings aanbied waarom jy nie dinge van die verderf kan of wil los nie. Jy sal Hom nie kan bluf nie.
Hy weet dat jy weet dat Hy weet jou lewe is ‘n klug. Jy probeer aan Hom vertel dat soet en bitter water uit dieselfde fontein kan voortvloei, terwyl Hy juis daarop wys dat so iets onmoontlik is.
Kompromie is die sonde van ons tyd. GOD haat kompomieë. Kompromieë sê dit is verkeerd maar ek is darem op die goue middeweg.
Helaas, ook die goue middeweg is veroordeel, want was jy maar koud of was jy maar warm, maar louwarm op die goeie middeweg word jy uitgespuug – dis die goue helleweg.
Die besluit is jou eie!
Saai uit die Gees en jy kies Lewe!
· Laat ons nie moeg word om goed (en reg) te doen nie
· Want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie
· Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen
· Veral aan die huisgenote van die geloof.
Volgens Gen. 8:22 sal saaityd en oestyd voortduur tot en met Sy Wederkoms. Dis ‘n Verbond wat ons met Hom het. Dit geld vir die landbouer, maar dit is eweveel van toepassing op wat ons in die daaglikse lewe saai.
Ons moet nooit moed opgee oor die oes nie want GOD vergeet nooit van saad wat gesaai word nie.
Die grootste leuenaar is misleiding. Dis ook GOD se eerste waarskuwing in die gelese gedeelte: Moenie dwaal nie!
Misleiding beteken dit wat ‘n valse indruk skep, of dit nou deur voorkoms of deur ‘n standpunt is.
In die Tuin van Eeden sien ons
duidelik die valse indruk geskep deur ‘n standpunt. Die standpunt was vals, die
indruk was vals.
Misleiding is satan se magtigste
wapen, daardeur het regerings al tot ‘n val gekom.
Hy ag dit sy taak om jou wys te maak
dat die goeie saad wat jy saai nie ‘n opbrengs sal lewer nie. Hy weet ook dat
as jy vasstaan en uit die Gees saai, jy beslis die goeie sal maai, maar jy ‘n
ontsettende gevaar vir sy eie koningkry word.
Naas misleiding is moegheid, gebrek aan uithouvermoë. Sy
Woord is die lamp vir jou voet, sonder die lamp sal jy sekerlik moeg word. Die
keuse is jou eie: Gaan jy die Lamp aangeskakel hou of nie?
As jy in Sy Woord bly bly Hy in jou.
As jy nie in Sy Woord bly nie, bly Hy nie in jou nie en uiteindelik maai jy
verderf.
In Jes. 40:28-31 sê GOD Hy word nie
moeg of mat nie. Hy wil ook nie hê ons moet moeg of mat word nie, en belowe dan
deur Sy groot genade en Liefde vir ons:
Hy gee die vermoeide krag en
vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.
Hy aanvaar heeltemal dat jy moedeloos
kan word. Hy sê dan ook: die jonges word moeg en mat en die jongmanne struikel
selfs, maar:
Die wat op die HERE wag, kry nuwe
krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie
moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
Die besluit is jou eie!
Saai in die vlees en jy eindig in die
verderf, maar saai in die Gees en sou jy moeg en mat word, maar die wil
openbaar om in Sy Woord te bly, dan neem Hy jou hand, hy hef jou op, jy ontvang
nuwe krag, jy hardloop selfs en word nie moeg nie.
Let op na die oplossing: Diegene wat
op die HERE wag! Neem Sy Woord en gaan wag op Hom.
Hoe belangrik is dit vir jou om die
goeie te kan oes? Wil jy werklik die goeie in die lewe en hierna oes? Wees dan
op die uitkyk vir die rowers van misleiding, moeg- en matheid en sonde.
Moenie met ander begin twis oor wat is
sonde en wat nie. Die HERE sê Hy het die werk in jou begin en Hy sal dit
voleindig. Praat met Hòm daaroor. Moenie regverdiging vir jou verkeerde dade by
vriende soek nie, die misleiding sal net vererger en jy het uiteindelik ‘n
goeie verskoning: Ja, niemand weet of
dit reg of verkeerd is nie en totdat iemand dit nie kan bewys nie, gaan ek
voort op my pad.
So maklik is dit nie. GOD laat Hom nie
bespot nie. Hy nooi jou ook om die saak met Hòm uit te maak, nie met iemand
anders nie.
Hy lewer weereens die teenprestasie in
1 John. 1:9 wanneer Hy belowe:
As julle julle sondes bely – Ek is
getrou en regverdig om die sondes te vergewe (en nie net dit nie) maar om julle
van alle ongeregtighede te reinig.
Die besluit is jou eie?
Lees maar Jeremia 5 en let op strofé
25: Julle ongeregtighede het hierdie dinge afgeweer en julle sondes het die
goeie van julle teruggehou.
Nou weet jy waarom dit met sommige
Christene so goed en vooruitstrewend gaan, en waarom ander op krom kieries deur
die lewe aansukkel.
Die Besluit is jou eie. Waarom sou jy
so dwaas wees om die vlees-
pad
na die verderf te bewandel, as jy
daagliks in oorwinning kan lewe!
Onthou: Die besluit is jou eie!
Niemand anders gaan vir jou besluit
nie, niemand gaan jou dwing nie. Die besluit is jou eie!