·
Die armoede verswelg ons
Maar daar is Hoop!
Kort
voor SWA se onafhanklikheid is gesê van biljoene dollar se ontwikkeling wat die
land sou binnestroom. Olie sou van
Angola af kom en petrol sou na 1990 net 20c per liter kos.
En onafhanklikheid het gekom en gegaan
en van al die beloftes het niks gekom nie.
Soortgelyke beloftes is in Suid-Afrika
gemaak. Ook daarvan het niks gekom nie.
Angola met sy rykdomme waar die blaam
vir alle verval vrykwistig op UNITA geplaas is, rapporteer die NGO
Global Witness nou dat Angola verlede jaar sowat R45 miljard uit olie
alleen verdien het. Nogtans leef die
bevolking van ‘n skamele R11 per dag per kop, en dit teen veel hoër pryse as
hier.
Die olie-inkomste beloop na raming 87%
van die staatsomset, en ten spyte daarvan is maatskaplike en ekonomiese
ontwikkeling op ‘n pad van rampspoed.
Boonop, volgens die Global Witness,
het daar verlede jaar sowat R22
miljard uit die staatskas verdwyn.
Meer as 30% van alle kinders sterf
voor die ouderdom van vyf jaar. Kinders
sterf teen ‘n tempo van bykans 500 per dag.
Driekwart van die bevolking leef in absolute armoede.
Daar is net meer as 3 miljoen mense.
Nogtans is hulle lewensverwagting net 44 jaar.
Toe daar later vrae gevra is waarom
olie dan nie van Angola af ingevoer word nie, is gesê dat die gehalte daarvan
glo te swak is. Vraag is: Hoe kan dit swak
wees as die Angolese nogtans sowat R45 miljard daaruit verdien, veral wanneer
die wêreld se groottes soos Chevron
Texaco, Total Final Elf en Exxon Mobil daarby betrokke is?
Volgens die Global Witness is
die burgeroorlog en die ekonomiese en politieke onstabiliteit wat daarmee
saamgeloop het, uitgebuit om onder meer inkomste uit die oliebronne te
verduister.
Ten spyte van dit alles, moet die VN
R2 200 miljoen begroot om Angola se hongersnood te verlig.
Inderdaad gaan dit dus veel slegter
met Angolese as met Suid-Afrikaners, nogtans is Suid-Afrikaners besig om hulle
spaarbussies leeg te maak.
Die verswakte rand, hoër rentekoerse
wat steeds gaan styg, asook toenemende prysstygings van feitlik alle
kommoditeite, tesame met toenemende werkloosheid, word ons mense deur
toenemende armoede verswelg.
Elkana het, toe die rentekoerse so laag was,
gewaarsku dat sy lesers nie huurkope en dies meer moes aangaan nie want die
rentekoerse sal aanstons weer styg en dan sal dit bars gaan om die
premie-terugbetalings vol te hou.
Vir ons almal gaan sake veel erger
word, maar daar is hoop!
Wanneer die Bybel praat van hoop, dan is dit nie hoop soos in “ek wens”
nie, maar soos in “toekoms-feite”. Hoop beteken volstrekte sekerheid.
Hoop staan nie in teenstelling met
geloof nie, maar is ‘n verlenging daarvan.
Net soos die geloof afhanklik is van
die belofte van God, so is ook die hoop gevestig op die toesegging van God.
Dié toesegging word nie altyd dadelik
vervul nie, maar deur die geloof is ‘n mens in die hoop van die vervulling
verseker.
Die hoop is dan ook altyd of God
gerig. Ps. 25.5; 39:8. Daarteenoor vergaan die hoop van die goddelose. Spreuke
10:29.
Ps. 9:2-3 lees: “Ek wil God loof met my hele hart; ek wil al
U wonders vertel. In U wil ek bly wees
en juig; ek wil U naam psalmsing.
Strofé 10 lees: “So is God dan ‘n rotsvesting vir die
verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.” (Lees hierin hoë kostes, armoede en wanhoop).
En 11: “En hulle wat U naam ken, sal op U vertrou, omdat U diegene wat U
soek, nie verlaat nie, o’ God!”
Met ander woorde, al styg die pryse
ook hoe hoog, God sal voorsien, solank ons getrou bly, Hom getrou dien en die
geloof beoefen.
Jak. 1 vanaf strofé 2 lees: “Ag dit loutere vrede wanneer julle in allerhande
versoekinge (probleme) val, omdat julle weet dat die beproewing van julle
geloof lydsaamheid werk.
“Maar die lydsaamheid moet tot volle
verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks
kortkom nie.”
Strofé 6 waarsku: “Maar jy moet in die geloof bid, sonder
om te twyfel, want die een wat twyfel, is soos ‘n golf van die see
wat deur die wind gedrywe word en voortgesweep word, want dié mens moenie dink
dat hy iets van God sal ontvang nie! So
‘n dubbelhartige mens is onbestendig in
al sy weë.”
Weier dus om te twyfel. Staan vas in die geloof. Deur in totaliteit in die geloof te lewe,
totaal afhanklik van God, leef ons bo
die omstandighede van hoë pryse, armoede en wanhoop, en nie daar onder nie.
God is en bly ons toevlug, ons
besliste hoop. Dan laat ons nie toe dat
ons negatiewe gedagtes koester nie. Ons
weier om ons te bekommer oor wat ook al, want ons weet dat ons ‘n besliste hoop
het, maak nie saak wat in wêreld gebeur nie.
Dan is ons emosies onder beheer. Ons skrik nie vir die koerant se opskrifte
oor resessie en depressie nie, nee, want ons God lewe en Hy belowe om vir ons
in die bres te tree.
Van ons word bloot die teenprestasie
van getrouheid, waarheid en geloof verwag!
·
As u nie hierdie geloofsekerheid het nie, skrywe gerus aan
ons, ons wil u graag bystaan.