·
Christene
gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis
Nooi
Jesus Christus terug in die gemeente en in jou huis!
deur
Chris Ebersohn (VDM)
Die Bybel verwag ‘n
bediening waar Christus in beheer is, waar gelowiges saam bid, waar liefde die
hoofkenmerk is en waar God toegelaat word om sy Almag te demonstreer. Sulke
gemeentes, veral waar daar gebid word, is raar.
‘n Peiling in Amerika toon dat 89% van
die Amerikaners sê dat hulle bid, maar net 14% bid saam met ander gelowiges in
hul huise, saam met familie of saam in die kerke.
Die res sê hulle bid “privaat”. Natuurlik mag mens privaat ook bid, maar jy
is deel van God se Heiligdom en jy moet ook saam met ander bid.
Hoe kan jy wanneer jy deel is van
Christus se Bruid op aarde, ‘n privaatlewe voer? So ‘n privaatlewe gee aanleiding tot sektarisme, privaat
moraliteit en ‘n privaat geestelike lewe wat tot chaos lei.
Ons moet as feit aanvaar dat wanneer
ons gesamentlike aanbidding in ons huise en gemeentes verwaarloos, dan ontstaan
‘n ernstige krisis situasie.
A.W. Tozer sê ondermeer die volgende
in sy boek The Waning Authority of Christ in the Churches: “Alle gesag in die Hemel en op aarde behoort
aan Christus. Hy laat Sy gesag in Sy eie tyd tot volheid kom.
“Maar op die oomblik word Christus se
gesag uitgedaag deur die wêreld en geignoreer deur die kerke.
“Christus is vandag bloot ‘n geliefde
simbool. Ons sing Besing die lof van
Jesus saam (All hail the power of Jesus’ name), maar ons behandel Jesus Christus soos ‘n simbool.
“Diegene wat dan in beheer is, besluit wat die morele standaarde van
die kerke moet wees sowel as die doelstellings en metodes hoe om dit te bereik
en te handhaaf.
“Die wyse waarop predikante deesdae
opgelei word, gee aan hulle meer gesag in die gemeentes as wat Christus het.”
Een van die tekens van Christus se
kwynende gesag vandag, is die feit dat lidmate aangeneem word, maar geen lering
kry hoe om hulle aan Christus se gesag te onderwerp nie. Daar word nooit dissipels van hulle gemaak
nie.
Pleks van dissipelskap word die
kerkwette as norm van gesag voorgehou.
Sommige kerke se selfopgestelde kerkwette is selfs dikker as Die
Bybel. Lidmate besef ook nie hoe nodig
dit is dat hulle dissipels gemaak word nie.
Christene moet geleer word om alles te
onderhou wat Christus van hulle verwag.
Omdat dit nie gebeur nie, gaan sy Volk ten gronde weens ‘n gebrek aan
kennis!
Preke tydens die Nagmaal het meesal
niks met die Nagmaal te doen nie.
Christene sit onwaardig by die Nagmaalstafel aan sonder dat hulle besef
dat hulle met vuur speel. Hulle word
nie geleer dat selfondersoek die Nagmaal voorafgaan nie.
Ander besef wel hulle mag nie die
Nagmaal gebruik nie, maar weens huigelary, geveinsdheid en hoogmoed, sit hulle
aan en drink ‘n oordeel oor hulleself.
Die selfondersoek vereis dat ek myself
afvra of ek gehoorsaam is aan Christus se gesag. Die Nagmaal is nie maar net ‘n ritueel nie. Die waarde daarvan word deur meeste
onderskat.
Konflik binne ‘n gemeente word vandag
deur middel van kerkwette besleg, in plaas van deur Christus se gesag.
Christene en predikante skaam hulle
skynbaar vir Christus. Hy mag nie die
sentrale plek in die gemeente inneem nie, ook nie die Heilige Gees nie, want
hulle het die kerkwette en die kennis.
Dit word gesê dat ‘n gemeente aan drie
vereistes moet voldoen: Eerstens dat hy
die Evangelie verkondig, tweedens dat hy God se insettinge onderhou en derdens
dat hy hom onderwerp aan dissipline.
Kerkdissipline moet egter nie ‘n vrees by lidmate inboesem nie.
Waarom is daar predikante wat nie vir
siekes in sy gemeente wil bid nie? Is
hy bang hulle genees nie? Die onus om
te genees is mos nie op die predikant of die ouderling nie, dit is op
Christus. Al wat jy moet doen is om die
opdrag uit te voer en vir die siekes hande op te lê en vir hulle te bid,
wat daarna gebeur is in elk geval nie in jou hande nie.
Predikante dra so swaar aan die gesag
in die gemeente dat hulle skynbaar bang is dat lidmate hulle amp kan bedreig as
lidmate aktief begin deelneem deur self siele te wen, self te preek, te bid,
hande op te lê, ens.
Die realiteit is dat herders nie
lammers kry nie, maar skape wel.
Die onderskeie bedieninge moet in die
gemeente aangemoedig word.
Eintlik het predikante nie veel gesag
nie. Hulle is niks meer as voltydse
ouderlinge nie. Hulle moet Christus se
gesag laat geld. Daar moet ontsag vir Christus wees, nie vir die predikant nie.
Nou wil sommige begin palmtakke swaai,
kerse aansteek, kruise dra en wat nog.
Met ander woorde, Christus moet nog verder uit die gemeente uitgedruk
word, ten spyte daarvan dat Christus sê waar twee of drie in Sy naam vergader,
daar is Hy (hoekom?) want Hy wil graag daar wees.
Wanneer die teenwoordigheid en die
krag van Christus teruggeplaas word in die gemeentelewe dan sal ons God in
aksie sien. Die liefde sal terugkeer,
gelowiges sal weer omgee vir mekaar. Hulle sal weer saam bid.
Lidmate sal Christus ook weer die
gesag in hulle huise maak en mekaar en hulle kinders leer om onder Christus se
gesag te staan.
Daar is ‘n rits oordele wat oor die
wêreld kom. Sulke oordele sou oor
Ninevé ook gekom het. Die wêreld kan
soos in die geval van Ninevé die situasie omkeer as hy verootmoedig. Maar sal
hy?
Alle kerke se gemeentes, alle
huisgemeentes, alle nie-kerklike gemeentes, almal, moet Jesus Christus terugnooi na die gemeentes toe, na die huise toe,
na die gesinslewens toe, na die skole toe.
Die teenwoordigheid van Christus is
van kardinale belang! Sonder hom is ons
soos weeskinders.