·
Nie deur Krag of Geweld nie…
Die HERE kan ‘n koning se gedagtes
verander soos water in ‘n leivoor
Hier is die
bewyse van Goddelike ingrypings
Nie
deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare in
Sag. 4:6.
Die God van die Bybel, is presies
dieselfde God wat ons vandag aanbid.
Vir Hom is niks onmoontlik nie.
Omdat Hy Almagtig is, kan Hy die geskiedenis verander, Hy kan die lewe
van enige volk op aarde omskep, ja, Hy kan selfs oorloë laat ophou – in
antwoord op gebed!
Die Here is in beheer van die koning.
In Spreuke 21:1 lees ons: "Die koning se hart is in die hand van die Here
soos waterstrome; Hy lei dit waarheen
Hy wil."
Die nuwe vertaling lees: "Die
Here kan 'n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in 'n leivoor en
dit stuur in die rigting wat Hy wil!”
Israel pleeg ‘n gruwelike sonde. Die HERE sê aan Moses: “Laat My dan nou
begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Maar Moses besluit om 40 dae lank op die
berg te gaan bid.
Dis nie lank nie. Selfs in ons dag bid mense so lank en selfs
langer.
Moses was bang vir die toorn en die
grimmigheid van die HERE (Deut. 9:19), maar hy het God nie met rus gelaat
nie.
Dit is wat ons ‘n (magtige) gebedstryd
noem, wanneer iemand bid asof sy lewe daarvan afhang.
Moses het nie nodig gehad om so vir sy
volk in te tree nie. Sy saak met God
was skoon. HY het boonop God se belofte
gehad: “Dan sal Ek jou tot ‘n groot
nasie maak!”
Hy is egter deeglik daarvan bewus wat
die uiteinde gaan wees as God sy toorn teen die volk sou verhef. Hy tree vir sy volk in die bres, 40 dae
lank. Hoeveel van ons bid ‘n uur
lank? En ons kan nie verstaan hoekom
niks gebeur nie.
Aan die Kruis op Golgotha bid Jesus
dat Sy moordenaars vergewe moet word.
Op die berg bid Moses: “Ag,
hierdie volk het ‘n groot sonde begaan en vir hulle goue gode gemaak. Nou dan, as U tog maar hulle sonde sou
vergewe. En so nie, delg my dan maar
uit u boek wat U geskryf het!” Ex.
32:31,32.
Moses het oorwin en so is die lot van
‘n volk bepaal. Is jy op oorwinningsgrond?
Ons gebede is soveel werd as wat ons werd is. Die maat waarmee ons meet, sal ons mee gemeet word.
Daar Dawid se groot gebed toe Absalom
in opstand gekom het en die koning in skaamte moes vlug. Dawid se saak het hopeloos gelyk. Daar sit die indringer in die hoofstad
Jerusalem op Dawid se troon.
Psalms sê Dawid was ‘n man van
gebed. In Ps. 3 bid hy: “O HERE, hoe
het my teenstanders vermenigvuldig!
Baie sê van my: Daar is geen heil
vir hom by God nie… Maar U, HERE, is ‘n
skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef.
“Luid roep ek die HERE aan, en Hy
verhoor my vanaf Sy heilige berg. Ek
het gaan lê en aan die slaap geraak; ek
het wakker geword, want die HERE ondersteun my. Ek sal nie vrees vir tienduisende mense wat rondom teen my gereed
staan nie… Die heil behoort aan die
HERE; laat U seën wees oor u volk!
Sela.”
Die oorwinning wat later op die
slagveld behaal is, Absalom se tragiese einde en die herbevestiging van Dawid
as koning, was reeds in die onsigbare area van gebed besleg.
Christene sit soms maande by beraders
in die hoop om gehelp te word met probleme wat oor hulle pad gekom het. Hulle het nog nie die geheim geleer dat
selfs die lot van konings en volkere bepaal kan word deur die knie wat in die
teenwoordigheid van God buig nie, tesame met die stem van belydenis en smeking
wat die Troon van Genade bereik nie.
Daniël se gebede het die groot
Babiloniese en ook die Medo-Persiese ryke geskud. Hy het nie die koning se bevel gevrees nie en het geweier om die
beeld te aanbid. Daniël kon dit doen, want hy het met ‘n skoon gewete voor God kon
staan. Dit is ook hoe hy geweet het dat
God hom sou red.
Dit baat nie ons wil ook 40 dae lank
bid maar ons saak met God is nie reg nie.
God laat Hom nie bespot nie.
Daniël se saak met God was reg en
daarom kon hy die goddelose politieke kwaaddoeners wat sy ondergang gesoek het,
trotseer.
“En toe Daniël verneem dat die
bevelskrif geskrywe was, het hy in sy huis gegaan; en hy het in sy bokamer vensters gehad wat oop was in die rigting
van Jerusalem, en hy het drie maal per dag op sy knieë geval en gebid, en
lofprysinge teenoor God gespreek.”
So beland Daniël in die leeukuil. Sy oorwinning in die leeukuil was nie toe hy heelhuids daar uitklim nie, maar juis
toe hy daar ingegaan het. Hy het die
leeukuil in oorwinning betree. Hy had
‘n vaste vertroue in sy God.
Duisende het in afwagting gesit om te
sien hoe die leeus Daniël verskeur. En
toe gebeur daar niks. ‘n Engel het die
leeus se bekke toegestop.
“Toe het koning Darius aan al die
volke, nasies en tale wat op die hele aarde woon, geskrywe: Mag julle vrede groot wees!
“Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my
koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende
God en Hy bestaan in ewigheid en Sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word
nie en Sy heerskappy duur tot die einde toe.
“Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die Hemel en op die
aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het.”
Paulus se middernagtelike gebed in die gevangenis van Filippi was een
van die beslissingsoomblikke in die verloop van die mensdom. God sou hom daar uit laat stap om die
boodskap van die Kruis in die ganse Europa verkondig, sou hy in ‘n gesig die
man van Macedonië hoor sê: “Kom oor en
help ons!’
“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer
van God gesing.” Dan skud die
fondamente van die gevangenis en die tronkbewaarder roep uit: “Menere, wat moet ek doen om gered te
word?” Nie ver daarvandaan nie was ‘n
getroue groep gelowiges ook in gebed.
Daar is ‘n uitnodiging ook vandag aan die mensdom: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy moet My eer!”
In die Tuin van Getsemané vind ons Jesus Christus in gebed en word die
ewige lotsbestemming van die ganse mensdom besleg. Die Verlosser had die sleutel in Sy hand.
Hy moes gekruisig word, Sy bloed moes vloei, ‘n lam ter slagting
gelei. Nie langer hoef die mens ‘n
bokkie te neem, sy sondes daarop af te bid en die bokkie te offer nie. Nee, die Lam van God is vir almal se sondes
geslag, ‘n volmaakte werk.
Sy Getsemané-gebed was nie oor vrees vir die dood nie, maar dat Hy wat
sonder sonde was, die wêreld se sondes op Hom moes neem. Die Seun van die Mens triomfeer egter ook
hieroor.
Die mensdom met sy pyn en skande en dood, sal verlossing vind.
Waar is daar ‘n meer kritieke uur in die lewe van die Kerk as toe Graaf
von Zinzendorf in 1714 in Herrnhut, Duitsland die naam van die HERE begin
aanroep het.
Hy was diep neergeboë in ‘n siele-angs omdat hy gesien het wat aangaan
onder Protestantse gelowiges van die verskillende evangeliese bewegings. Dit was ‘n tydperk van vurige vervolging.
Luther het sy taak voltooi. Calvyn het op ‘n magtige wyse gewerk. Huss was ‘n gewyde nagedagtenis. Zwingli het sy volgelinge gelei, maar daar
was verwarring en steeds het die bloed van die Christen-martelare gevloei.
Sedert sy jeug was Graaf von Zinzendorf ‘n ywerige Christen asook ‘n
man van aksie. Hy het sy deure van sy
reuse landgoed vir die vervolgde Protestante van Europa oopgestel, sodat hulle
iewers skuilplek teen die genadelose storm kon vind.
Toe het Von Zinzendorf se barenswee begin. Hy het gehoop op liefde en begrip: wat hy gehoor het was die stem van geskille – en ons hoor dit
vandag weer.
Die geskille was oor tientalle sake, alles van minder belang. Von Zinzendorf het verlang om God se kinders
verenig te sien, maar eindelose teologiese twispunte het die uitdra van die
Evangelie verteer.
Von Zinzendorf het dae en nagte in gebed deurgebring. Ander sluit later by hom aan. Op 14 Augustus 1714 het die antwoord
gekom. Von Zinzendorf het ‘n
Nagmaalsdiens gehou waarheen almal genooi was.
Die heerlikheid was meer as wat vlees en bloed kon hanteer. Gelowiges het in die HERE se teenwoordigheid
neergeval. Die Kruis met sy diepste
betekenis is onthul. ‘n Goddelike
metamorfose vind onder die aanwesiges plaas.
Christus word vir almal alles.
Die Morawiese beweging kom op dreef.
Hulle het ‘n 24-uurse gebeds-siklus gevorm en groepe het dag en nag tien
jaar lank gebid. Ja, jy lees reg: Tien
jaar lank dag en nag.
Die gevolg daarvan was dat oor ‘n tydperk van 25 jaar 100 sendelinge na
alle dele van die aardbol uitgereik.
Die Morawiërs het ‘n wêreldwye beweging op tou gesit wat uiteindelik
Protestantisme van polemiek tot sending laat swaai het.
John Wesley, ‘n spruit van die Morawiërs, het na sy grootse
ondervinding in Aldersgate na Herrnhut gegaan om die wonderwerk self te
aanskou.
Hy skryf aan die gelowiges tuis:
“Ek het ‘n kerk gevind waar mens die atmosfeer van die Hemel self
inasem.”
Dit is wat Suid-Afrika nodig het:
‘n Goddelike ingryping! Wat baat
dit ons om te verklaar dat ons Christene is en niemand sien God in aksie in ons
lewens en in ons land nie.
Reg oor SA skakel Christene by gebedsgroepe in. Ons glo daar is ‘n Goddelike ingryping in
wording, ‘n kragtige geestelike herlewing is aan die kom, nie net in SA nie,
maar reg oor die wêreld.
Nie deur krag of geweld nie, maar deur Sy Gees.