‘n Belewenis wat jy nie
durf misloop nie
Julle sal krag ontvang,
wanneer die Heilige Gees oor julle kom
Julle
sal krag ontvang (wanneer?) wanneer die Heilige Gees oor julle kom, aldus Hand.
1:8.
Dit was Jesus Christus se laaste
woorde voordat Hy opgevaar het na die Hemel.
Het jy al hierdie wonderkrag ontvang?
Ontelbare getalle mense getuig vandag
reg oor die wêreld dat hulle hierdie besondere salwing ervaar het, terwyl ander
nie eers daarvan weet nie omdat hulle kerke aangeleenthede oor die werkinge van
die Heilige Gees vermy.
Hoekom hulle dit doen weet
nugter, want hulle beroof hulleself,
want juis daarin lê die dinamika waarmee die Koninkryk van God gebou moet word!
Die bekende Chas. H. Spurgeon, het
gesê: “Die Heilige Gees is in staat om
die Woord net so suksesvol in ons dae te maak as wat dit in die tyd van die
apostels was. Hy kan siele in eens en
twees inbring, maar Hy kan hulle ook in hulle honderde en duisende inbring.
“Die rede waarom ons nie langer
voorspoed beleef nie, is omdat ons nie die Heilige Gees met mag en krag in ons
midde het soos vroeër nie.
“As ons die Heilige Gees gehad het om
sy seël op ons bediening te plaas, sou talente nie die probleem gewees het
nie. Mense mag arm en ongeletterd wees,
hulle woorde gebroke en ongrammatikaal, maar as die krag van die Heilige Gees
daarmee gepaard gaan, dan sal die eenvoudigste evangelis meer welslae hê as die
geleerdste godgeleerdes of die welsprekendste
predikers.
“Die is die buitengewone krag van God
en nie talente nie, wat die oorwinning sal behaal. Dit is daardie buitengewone geestelike salwing, nie die
buitengewone verstandelike krag wat ons nodig het nie. Verstandelike krag mag ‘n kerkgebou vul,
maar dit is geestelike krag wat die aanwesiges met siele-angs vervul.
“Verstandelike krag mag ‘n groot
gemeente byeenbring, maar slegs geestelike krag sal siele red. Ons groot behoefte is geestelike krag.”
Nog ‘n bekende prediker Arthur T.
Pierson, het gesê: “As die Heilige Gees
ontbreek, kan daar wysheid van woorde wees, maar nie die wysheid van God
nie; die kragte van welsprekendheid,
maar nie die krag van God nie; die
vertoning van argument en logika van die leerskole, maar nie die vertoon van
die Heilige Gees nie.
“Toe die Heilige Gees uitgestort is,
is die dissipels met krag uit die hoogte vervul, sodat die ongeletterdste tong
die teenparty kon stilmaak, en sy pad deurbrand deur hindernisse wat soos
vlamme, aangewakker deur magtige winde, deur ‘n bos trek.”
Die vraag wat ons elkeen onsself moet
afvra is dit: “Wat baat dit om te
getuig dat jy ‘n Christen is, as God nie in aksie in jou lewe is nie? Wat gebeur as gevolg van jou prediking wat
demonstreer dat dit wat jy gepreek het, die waarheid is?
Eerw. Dell sê: “As jy hierdie krag
van die Heilige Gees nie besit nie, dan het jy geen krag nie. Daarom, omdat die Evangeliedienaars geen
krag het nie, moet hulle in besit kom van krag uit die Hemel van God, die krag
van die Heilige Gees.”
Christus het die belofte gemaak. Hy sal Sy Woord gestand doen, nogtans het
ons nie daardie krag nie, nie voordat dit “oor ons kom nie.”
Joh. 6:63 sê: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees
is van geen nut nie.”
Joh. 3:6 sê: “Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees
gebore is, is Gees.” Ons het ‘n
dringende behoefte aan hierdie Heilige Gees krag!
Ek en jy kan nie mense oorreed om die
wedergeboorte deelagtig te word nie, alleen die Heilige Gees kan. Ons hoef ook nie die Bybel te verdedig nie,
die Gees sal.
Maar ons moet hierdie besondere
Heilige Gees krag hê om die Evangelie in sy volheid te kan uitdra. Dit is wel ons wat die siekes die hande
oplê, maar dit is en bly God wat genees.
Prof. J.C. van der Spuy sê, of die
genesing plaasvind weens ‘n operasie, medikasie of gebed, dit is en bly God wat
genees want geen mens kan genees nie.
Chas. G. Finney vertel: “Ek het die oggend van 10 Oktober 1821
kragdadig tot bekering gekom. Daarna
aand is ek op oorweldigende wyse met
die Heilige Gees vervul en dit was asof dit dwarsdeur my siel en deur my
liggaam gegaan het. Ek skryf die
bekerings wat op my boodskappe gevolg het, toe aan hierdie krag wat ek ontvang
het.
In die omgewing van 1972 kom hierdie
besondere salwing gepaard met Goddelike krag oor sowat 10 000 Roomse katolieke
in die St. Petrus Katedraal. Kort
daarna gebeur presies dieselfde met
Anglikane op Grahamstad.
Saam hiermee breek uit
wat genoem was die charismatiese beweging.
Reg deur Suid-Afrika het gereformeerdes en ander dieselfde ervaring
beleef. Mense het na God begin roep,
hulle sondes bely en lewende getuies van die waarmakende Evangelie geword. SA het wedergeboortes vir sowat vyf na sewe
jaar lank beleef.
Die oormag in die land
het die beweging van die Heilige Gees onderdruk. Predikante het daarteen gepreek skynbaar uit vrees vir
kerkskeurings. Mense is versoek om die
gereformeerde- en ander kerke te verlaat.
Hulle sou kwansuis die kerk skeur as hulle toegelaat sou word om aan te
bly.
Talle nuwe onafhanklike
Christen gemeentes is gestig. Huiskerke
het oral ontspring. Vandag is hulle
doodstil met net hier en daar ‘n rimpeling op die oppervlak. Dit het so stil geword en die kerke het so
leeggeloop, dat een prediker ‘n tyd gelede in Bloemfontein in sy preek gesê het
hy is oortuig ons bevind ons in die tyd van die groot afval.
Dis sommer ‘n goedkoop
verskoning, want ons het nog nie die tyd van die laatreëns belewe nie.
Intussen het teologiese-
en Bybel-leerskole, seminare en soortgelyke byeenkomste oral ontspring, die een
slimmer as die ander in die Bybel. Die
realiteit van die dag is, dat as daar nie vrug op die werk is nie, is die
Heilige Gees beslis nie betrokke nie.
Ons het ‘n gedaante van Godsaligheid, maar die krag daarvan het ons
verloën.
Weg is die sielesmart,
weg is die oortuiging van sonde, weg is die trane en die snikke van
doodsangs. In die plek daarvan word
almal getroos met die leuen: God is ‘n
God van Liefde en Hy sal nooit toelaat dat Sy skrikwekkende oordele oor ons kom
nie, wil hulle graag glo.
Daarmee regverdig ons,
ons leefwyse om nie kerk toe te gaan nie, nie te bid nie, nie Bybelstudie te
doen, nie stiltetyd te handhaaf nie, nie ons kinders in die weë van God groot
te maak nie. Ons regverdig ons deelname
aan die verleidelike en sondige dinge van hierdie wêreld.
Die spreekwoordelik kis
van Pandora is oop. Die verkragting van 60 vroue per dag, motorkapings, moorde,
die totale verval van moraliteit skeel ons min. Gerieflikheidshalwe word ander daarvoor te blameer.
Maar ons is die sout van
die aarde, ons moet preserveer, ons moet die groot verskil tussen Lig en
duisternis beteken. Ons het ‘n roeping,
‘n verantwoordelikheid.
As jy bely dat jy
waarlik Kind van God is, waarom doen jy hierdie dinge? Glo jy nie meer aan God se almag nie?
Jak. 1:7 sê: “Hy wat twyfel, moenie dink dat hy iets van
die HERE kan ontvang nie.” Weier om te
twyfel. Neem God op Sy Woord.
God sê: Nie deur krag of geweld nie, maar deur my
Gees. Waarom bid u Hom nie ook vir die
salwing van krag nie?
Hand. 1:8 is ‘n absolute
realiteit: “Julle sal krag ontvang
wanneer die Heilige Gees oor julle kom!”
Die meeste van ons het
nog nooit daardie krag ontvang nie, ons weet nie eers dat dit beskikbaar is
nie, dat ons nie daarsonder durf gaan nie.
As jy wedergebore is en
jy dien die HERE in waarheid en gees, dan is die belofte vir jou. En net soos met al die ander beloftes, moet
jy dit bloot ontvang.
Niemand het hierdie
belofte egter al ontvang wat nie daarna kon getuig dat hy of sy dit te midde
van ‘n besondere salwing ontvang het nie.
Meeste mense getuig dat hulle gereeld met tussenposes sulke salwings
ontvang. Dit is ook reg so. Sulke mense word ook duidelik geken aan die
vrugte wat hulle oplewer.
Natuurlik is daar mense
wat valse beweringe maak dat hulle wel sulke salwings ontvang het of steeds
ontvang. Die getuienis as bewysgrond ontbreek egter, daar is geen vrug nie.
‘n Tyd gelede staan ‘n
prediker in ‘n gereformeerde gemeente en voordat hy kon preek begin hy
bitterlik op die kansel ween. Toe hy
tot bedaring kom, sê hy aan die gemeente:
Verskoon my trane, maar terwyl ek so oor julle heen gekyk het, het die
Heilige Gees het aan my getoon hoeveel ongereddes hier onder julle is, en toe
bring hy ‘n dringende boodskap oor die wedergeboorte.
Talle het hom daaroor
veroordeel en gesê hy durf nie so ‘n uitlating maak nie, want almal wat in die
diens was is Verbondskinders. Vriend,
daar is net een manier om ‘n Verbondskind te word en dit is by Golgotha. Daar
is geen ander manier nie.