· 700 000 preke
sonder ’n bekeerling!
Vandag se verlede…
Waarom predikers misluk!
deur
Oswald J. Smith (Herlewing Is Nodig)
Oswald J. Smith was ‘n prediker
rondom 1900. Wat hy hier – ‘n 100
jaar gelede – beskryf het, is
presies wat ons vandag in Suid-Afrika
en reg oor die wêreld heen beleef.
Die
Kerk strewe dikwels nie na positief geestelike resultate nie en kry dit ook
nie. Mense preek en dink nooit daaraan dat iets buitengewoons moet gebeur nie.
O’ hoe ver het ons weggedryf! Hoe magteloos het ons nie geword nie!
In 1904 in Wallis is beraam dat 7 000
gemeentes gedurende die jaar nie een siel vir Jesus Christus gewen het nie.
Altesame 7 000 Evangelie bedienaars
het ‘n jaar lank sowat 700 000 keer die Evangelie verkondig sonder om een
verlore siel te bereik.
Nou, my broers, daar moet êrens ‘n
baie ernstige skroef los wees. Daar moet of iets verkeerd wees met die 7 000
predikers, of daar is fout met 700 000 preke of met albei!
Toe ek die Twaalf Reëls van die vroeë
Metodiste Kerk lees, is ek getref deur die feit dat dit gemik is op die wen van
siele en dat hulle dit as hul vernaamste taak beskou.
Ek haal aan: “Gee uself dus geheel en al oor aan u werk. U taak is om nie soveel keer moontlik te
preek nie, maar om soveel moontlik siele te wen as wat u kan, om soveel
sondaars as wat u maar kan, tot berou te bring, en om met al u mag hulle in
heiligmaking op te bou, waarsonder hulle die HERE nie sal sien nie” – Uit: Die
Twaalf Reëls deur John Wesley.
Toe het ek my
bediening met die beloftes van God vergelyk.
In Jer.
23:29 lees ek: “Is my antwoord nie so, soos ‘n vuur, spreek
die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?”
En in Efes. 6:17: “…die swaard van die
Gees – dit is die Woord van God.”
Maar hoe meer ek daaroor nagedink het,
hoe meer het ek onder die oortuiging gekom dat in my bediening, die Woord van
God nie ‘n vuur, ‘n hamer en ‘n swaard was nie. Dit het nie gebrand, gebreek en deurgedring nie. Daar was geen
teregstelling nie.
·
Heb.
4:12 verklaar: “Die Woord van God is
lewend en kragtig en skerper as ’n tweesnydende swaard, en dring deur tot die
skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die
oorlegginge en gedagtes van die hart!
John Wesley het dit so
ingesien. John Smith was ‘n gedurige
waarnemer
daarvan. David Brainerd was ‘n getuie van die
realiteite daarvan, maar nie ek nie.
“So sal my Woord wees wat uit my mond
uitgaan: dit sal nie leeg na My
terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit
stuur.” (Jes. 55:11).
Ek het geweet dat hierdie wonderlike
belofte nie in my prediking in vervulling getree het nie. Ek het geen getuienis gehad soos Paulus,
Bramwell en Finney, in wie se geval die Woord nooit leeg teruggekeer het nie.
Ek was ook geregtig op hierdie
belofte. Dit was dus vir my ‘n
uitdaging.
Nie net my prediking nie, maar ook my
gebedslewe het onder die soeklig gekom.
Dit moes ook uitgedaag en getoets word aan die uitslag.
Ek is gedwing om te erken dat die
hoopvolle versekering wat straal uit Jer. 33:3
“Roep My aan, en Ek sal jou antwoord, en jou bekend maak groot en
ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie,”
dat dit in my ondervinding nie ‘n werklikheid was nie.
Die “groot en ondeurgrondelike dinge”
was die byna daaglikse ondervinding van Evan Roberts, Jonathan Goforth en
ander, maar nie myne nie. Daar was geen
definitiewe en daaglikse antwoorde op my gebede nie.
Die volgende was dus nie ‘n
werklikheid in my lewe nie: “Wat julle
ook al in my Naam vra, dit sal Ek doen,”
en “As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.” (Joh. 14:13,14).
Hierdie beloftes was nie vir my ‘n
lewende werklikheid nie omdat ek so baie dinge gevra het wat nie volgens die beloftes was nie. So het ek besef dat daar met my gebedslewe iets
radikaals verkeerd was.
Toe ek die outobiografie van Charles
Finney lees, ontdek ek dat hy dieselfde mislukking in sy lewe ondervind
het.
By die afsluit van sy boodskap het
John Wesley altyd vir God aangeroep om
“Sy Woord te bevestig” en God het dit gedoen.
Sondaars het onmiddellik om genade
begin roep omdat hulle onder diepe en ontsettende oortuiging van sonde gekom
het, waarna hulle onmiddellik vryheid
verkry het en met onuitspreeklike vreugde vervul is.
Finney skryf hieroor soos volg in sy
dagboek:
“Ons het verstaan dat baie aanstoot
geneem het weens die uitroepe van diegene oor wie die krag van God gekom
het. Onder hulle was ‘n geneesheer wat
baie bang was dat daar bedrog daarin kon wees.
Vandag het iemand wat hy baie jare al ken, hard uitgeroep en in
trane. Die geneesheer kon skaars sy oë
en ore glo.
“Hy het digby haar gestaan en elke
simptoom waargeneem totdat groot sweetdruppels langs haar wange afgerol het en
haar ledemate begin skud het, toe het hy geweet daar is nie bedrog of enige
natuurlike ongesteldheid nie.
“Maar toe haar siel en liggaam in ‘n
oogwenk genees is, het hy die hand van God daarin erken!”
Dit was ook die ervaring van die vroeë
Kerk, want daar staan geskrywe: Toe
hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander
apostels gesê: Wat moet ons doen broeders? (Hand. 2:37).
“Hulle het toe ‘n geruime tyd daar
deurgebring en vrymoediglik gespreek in die HERE, wat aan die woord van Sy
genade getuienis gegee het deur te beskik dat tekens en wonders deur hulle
hande plaasvind.” (Hand. 14:3).
Hulle het gebid dat “tekens en wonders
mag plaasvind.” (Hand. 4:30). En Paulus
het verklaar dat die Evangelie “’n krag van God tot redding” is (Rom. 1”16).
Nogtans was dit alles aan my onbekend.
Gedurende die Ierse herlewing van 1859
is “tekens en wonders” oral waargeneem.
Onder die vroeë Metodiste het dit daagliks voorgekom.
Maar in my eie geval was die Evangelie
nie “die krag van God tot redding” nie. God het “Sy Woord nie bevestig nie,” Sy
“seël nie daarop gesit nie,” of “daar getuienis van gegee” wanneer ek dit
verkondig het nie.
Nogtans het ek geweet dat ek die reg
gehad het om dit te verwag omdat Jesus die belofte gegee het. “Die werke wat Ek
doen, sal julle ook doen en julle sal meer werke doen as dit,” het Jesus in
Joh. 14:12 verklaar.
Toe het ek eendag die Handelinge van
die Apostels gelees om uit te vind of God se diensknegte in die eerste Kerk
resultate gekry het oral waar hulle gegaan het. En ek het gevind dat hulle na
vrug mik, daarvoor gearbei, en dit verwag het, en hulle is nooit teleurgestel
nie.
So preek Petrus op Pinksterdag en 3
000 siele neem die uitnodiging aan om Jesus te volg. Met Paulus was dit dieselfde, sodat hy oral gemeentes gestig het.
Hoe ver het
ek nie te kort geskiet nie! Hoe verduidelik ek dat ek misluk het! Ek het te
kort geskiet juis in die saak waarvoor God my geroep het. Ook was dit nie vir my moontlik om saam met
Paulus te kon sê “watter groot dinge
God deur my diens gedoen het” nie.
God verklaar: “Ek het julle uitverkies en julle aangestel
om vrug te dra.” (Joh. 15:16).
Te lank was ek tevrede om net te saai
en die Evangelie te verkondig, met die verskoning dat ek die resultate aan God
oorlaat, denkende dat ek my plig gedoen het.
Wanneer mense gered word en baie seën
ontvang sal hulle daarvan begin vertel, en as hulle dit nie doen nie, is daar
rede om te twyfel aan die uitslag.
Dr Watts skryf: “Gaan na die dienste met die doel om siele
te bereik en te oortuig tot bekering en redding. Gaan om die oë van die blindes
te open, om dowe ore te ontsluit, om die kreupeles te laat wandel, om die dwase
wys te maak, om diegene wat dood is in die sonde, op te wek tot ‘n Hemelse en
Goddelike Lewe, en om skuldige rebelle te laat terugkeer na die Liefde en gehoorsaamheid
van hul Skepper deur Jesus Christus, die Groot Versoener, sodat hulle vergifnis
van hulle sondes kan ontvang en gered kan word. Gaan om die geur van Christus
en sy Evangelie deur die hele vergadering te versprei en om siele te lok om
deel te hê aan Sy Genade en heerlikheid.”
Ek het gevoel ek moet jong Christene
lering gee oor die diepere lewe in Christus en het altyd toesprake hieroor
voorberei, totdat God in Sy genade my oë oopgemaak het en my gewys het hoe ver
ek die spoor byster was.
·
Daar is niks wat die Christelike ondervinding so sal
verdiep, wat gelowiges so vinnig sal opbou in die geloof nie, as juis wanneer
sondaars tot bekering kom!
Diepgaande Heilige
Gees-vergaderings, waar die krag van God
sondaars kragdadig oortuig en red, sal meer vir Christene doen as jare
se prediking daarsonder.
John Smith het
gesê: “Die man wat ernstig en
Skriftuurlik na die bekering van sondaars strewe, sal die een wees wat die
sekerste en doeltreffendste die gelowiges opbou.”
Dr Watts het gesê: “Baie van hierdie mense het meer
leerstellige kennis aangaande Goddelike waarhede geleer sedert ek hulle die
eerste maal besoek het, as wat aan hul verstand gebring kon word deur die
toegewydste gebruik van goeie leermiddels vir jare aaneen, sonder so ‘n
Goddelike invloed.”
Dit maak geen saak hoe
geestelik ‘n kerk mag voorgee om te wees nie, as siele nie gered word nie, is
daar iets radikaals verkeerd, en die beweerde geestelikheid is eenvoudig ‘n
valse ondervinding, ‘n misleiding van die duiwel. Mense wat bymekaar kom eenvoudig om ‘n aangename tyd met mekaar
te hê, is ver van God af.
Daar sal ‘n hunkering na
en ‘n Liefde vir siele moet wees. Ons het na plekke gegaan wat die naam dra dat
hulle diep geestelik is, maar ons het dikwels gevind dat dit net in hulle
gedagtes was, maar hul harte nie geroer
het nie. Heel dikwels was daar sonde wat nie bely was nie.
“Hulle het ‘n gedaante
van Godsaligheid, maar die krag daarvan het hulle verloën.” Is dit nie pateties nie!
Laat ons, ons geestelike
toestand ondersoek en vra: Wat bring
dit voort? Niks anders as ‘n ware
geestelike herlewing en ontwaking onder die wedergeborenes , sal ooit die hart
van God bevredig nie.