Dié  smart,  durf  jy  nooit  misken  nie

‘n Siel is en bly

jou verantwoordelikheid!

 

Meeste van ons ken die trauma wat afspeel in ‘n hospitaalgang,  of –wagkamer  wanneer ons familie of vriende in die kake van die dood verkeer weens ‘n misdaad, motorongeluk of siekte.

          Die kommer is duidelik op elke gesig afgeëts.  Daar is soms ook trane, verwyte, rou en veral baie gebede.  Daar word soms na strooihalms gegryp, enigiets, solank mens net die trauma kan oorleef, en die een wat om sy lewe moes veg, die hospitaal lewend en hopelik gesond, kan verlaat.

          Ons maak baie telefoonoproepe, skryf briewe, stuur SMS-boodskappe.  Almal moet weet iemand is in die wurggreep van die dood vasgevang.  Oproepe om hulp, om gebede word onverwyld gemaak. O’ hoe troos ‘n bietjie medelye nie.

          Daar is slapelose nagte en deurnagwake in die hospitaalgange of, as dit moontlik is, in die siekekamer.  Dis ‘n tyd van nood, van ernstige krisis.

          Hierdie soort smart is heeltemal natuurlik en bekend aan ons almal.  Maar daar is ‘n ander smart wat ook ‘n inherente deel van ons natuur moet uitmaak, maar dis by die meeste van ons afwesig, of dit word onderdruk – en dit is sielesmart!

          Jes. 66:8 lees:  Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.

          Kan kinders sonder pyn gebore word?  Niks behalwe geestelike weë kan geestelike kinders baar nie. 

          Die prediker Charles Finney vertel dat hy geen woorde kon uitspreek wanneer hy vir ‘n verlore siel by God ingetree het nie, hy kon maar net ween en kreun.  Dit is geestelike barensweë.

          ‘n Sekere ouma het haar lewe lank, tot op haar sterfbed, vir haar een kleinseun voor die troon van genade ingetree.  Op 81-jarige ouderdom, op haar sterfbed,  bring ‘n verpleegster aan haar ‘n brief.  Dit was van die betrokke kleinseun en het sy getuienis van redding bevat.

          Toe sy klaar gelees het, het sy met blydskap gesê:  Nou is alles volbring,

Nou is almal gered vir wie ek my lewe lank by God ingetree het!

          Hoe kan ons die pyn en smart verduur van ‘n kleinkind wat verdrink, of ‘n geliefde wat na ‘n motorkaping in die kake van die dood om sy lewe veg,  maar nie vir ‘n verlore siel nie?

          Besef ons nie dat iemand wat sonder God sterwe, die ewige verdoemenis ingaan, dat ons so iemand nooit weer sal sien nie?

          Iemand het al gesê:  Jong, los hom, hy ken die pad, maar hy wil nie daarop wandel nie.

          Van waar haal jy die regverdiging om iemand af te skryf?  Die ouma se kleinseun het ook die pad geken en wou ook nie daarop wandel nie, maar weet dit, niemand het nog in sielesmart vir die redding van ‘n siel gebid en God het nie geantwoord nie, al, was die antwoord eers op die ouma se sterfbed.

          Sielesmart behoort ‘n natuurlike deel van ons lewens uit te maak.

          Ons is verder onder verpligting want, die Here sê in Esegiël 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie, en spreek nie om die  godlose vir sy godlose weg te waarsku nie,  dan sal die godlose deur sy  ongeregtigheid sterwe, maar… sy bloed sal van jou hand geeis word.” Hoe verskriklik tog!

          Maar God is regverdig en Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou  siel gered.”

Dis hoe regverdig die Vader is!

In Liefde moet ons vir mekaar bid en mekaar se laste dra, ook die laste van die teruggevallene en die laste van die onwedergeborene.

Dit is nie moeilik om siele-foltering te ondervind wanneer ons die doodskis in die lykswa sien wat ‘n dierbare na die graf wegvoer nie. 

Maar om te besef dat siele, kosbare siele, onsterflike siele, besig is om rondom ons verlore te gaan – selfs in ons eie huise gaan hulle verlore – en heen moet gaan in die stikdonker duisternis van ewige wanhoop, ewig verlore, en dat ons dan geen smart ondervind nie, geen trane stort nie en geen barensweë ken nie!  Het ons so verslag!

Hoe koud is ons harte nie! In plaas van vir die redding van ons “probleemkind” se siel te bid,  neem ons die kind na sielkundiges, psigiaters en predikante, enigiets, solank ons nie dae en nagte om in barensweë vir daardie  kind moet verkeer nie. 

Hoe koud is ons harte nie!  Hoe min kennis het ons van die ontferming van die Here Jesus.  Hoe dink jy het jy dan die wedergeboorte deelagtig word?  Was dit nie vanweë onvoorwaardelike Liefde nie?

‘n Nederlander en sy vrou immigreer na Suid-Afrika.  Op die lughawe van Skipol wil iemand met hom oor die Evangelie praat.  Hy weier en sê:  As daar so iets is soos wedergeboorte, dan sal dit wel met my in Afrika gebeur.

Hyself was nooit in sy lewe in ‘n kerkdiens nie en sy vrou was “’n slegte Roomse Katoliek,”  want sy het net dan en wan kerk toe gegaan, meer uit tradisie as enigiets anders.

In SA begin hy ‘n suksesvolle sakeonderneming.  Op ‘n dag begin by die Bybel lees, van begin tot einde.  Toe hy pas daarmee klaar is, ontmoet hy ‘n wedergeborene wat sy getuienis aan hom gee.

Die Nederlander vra toe:  “Waarom dink jy het ek ewe skielik die Bybel deurgelees en waarom staan ek hier na jou getuienis en luister?  Sulke dinge sou ek nooit in my lewe gedoen het nie.

·        En die wedergeborene antwoord:  Omdat iemand baie naby aan julle getrou vir die redding van julle siele bid.

Die volgende dag was die Nederlander terug met ‘n brief in sy hand.  “Toe jy gister sê dat iemand getrou vir die redding van ons siele bid, het ek besef ek het daardie woorde iewers vantevore gehoor.  Toe krap ek deur ou briewe van my suster in Nederland en hier is die brief en hier staan die woorde:  Ons bid getrou vir die redding van julle siele!”

Toe weet die Nederlander dat dit in antwoord op gebed is dat die Heilige Gees hom die Bybel laat deurlees het en dat hy na ‘n wedergeborene se getuienis moes luister.

Toe hy en sy vrou enkele dae later gered is, het hy ook verstaan dat hy op die lughawe van Skipol ‘n profesie oor homself uitgespreek het toe hy gesê het:  As daar wel iets soos wedergeboorte is, dan sal dit wel met my in Afrika gebeur!

Die Nederlander en sy vrou het vir ‘n paar jaar die Evangelie in Nederland gaan uitdra en ‘n groot oes vir die HERE ingebring.  Hulle is nou terug in SA om die Evangelie hier uit te dra.

Waar het dit begin?  Iemand het in barensweë voor die troon van God vir die redding van hulle siele ingetree.

As jy intussen verkoel het in jou geestelike lewe, dan nooi die Here Jesus jou terug in Sy hoede met die volgende uitnodiging:

“As ons, ons sondes BELY…  Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van al ons ongeregtighede te REINIG.” – (Joh. 1:9).

Bely dan jou sondes, dat jy afgedwaal het, dat jy die HERE bedroef het, en in Sy onbaatsugtige Liefde is Hy gereed om jou te vergewe en boonop, jou van alle ongeregtighede te reinig. Waar het jy ooit van ‘n groter Liefde as dit gehoor?      

Kom die groot opdrag dan na en begin in barensweë by die troon van God intree vir die verlore siele in jou huis, jou familie, jou vriendekring.  Doen dit onverwyld. Koop die tyd uit.  Elke dag wat verbygaan is ‘n ongeredde siel nader aan die hel.  Hy en sy is jou verantwoordelikheid!

Ds Dawie Pypers het altyd gesê:  Each one, reach one.  Ons maak SA  oornag ‘n ware Nuwe SA as ons hierdie beleid sou volg.

Wedergeboorte en bekering is die werk van die Heilige Gees, maar dis jou gebed wat daardie werking van die Gees in aksie stel.  Jy kan nie ‘n siel red nie, net God kan, maar dit begin alles by jou pleidooie vir die ongeredde.

Ons moet almal eerlik wees, ons bid hopeloos te min. Die eerste verhouding in ons lewens moet tussen ons en God wees.  Dit is die fondament van ons algehele lewensbestaan.  En ons verwaarloos dit.

Daarom val ons huwelike en gesinslewens uit mekaar.  Daarom het ons “probleemkinders”.  Daar is ouerhuise waar die ouers en die kinders nog nooit saam gebid het nie, nog nooit!  Hulle het nog nooit saam Bybelstudie gedoen nie.

Vaders besef nie hulle is die hoë priester van hulle gesinslewe nie en daarom het hulle sekere verpligtinge nie.  Daar is ouerhuise waar die moeder die ete moet seën want die vader weet nie wat sy rol as hoë priester is nie en in meeste gevalle het hy ook nie ‘n verhouding met God nie.

Die vader wat wedergebore is, en Lief is vir sy vrou en kinders, maak dit sy werk om sy Goddelike rol as vader in te studeer.  Hy en sy vrou bid ook sonder ophou en in barensweë vir hulle kinders, familie en vriende.

Kom dan, niemand veroordeel jou nie, maak jou saak met God reg en begin nie net bid vir die redding van jou vrou, man, kinders se siele nie, maar verwag dit want God gaan vir seker jou gebede beantwoord.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hosted by www.Geocities.ws

1