Dié smart, durf jy
nooit misken nie
‘n Siel is en bly
jou verantwoordelikheid!
Meeste
van ons ken die trauma wat afspeel in ‘n hospitaalgang, of –wagkamer wanneer ons familie of vriende in die kake van die dood verkeer
weens ‘n misdaad, motorongeluk of siekte.
Die kommer is duidelik op elke gesig
afgeëts. Daar is soms ook trane,
verwyte, rou en veral baie gebede. Daar
word soms na strooihalms gegryp, enigiets, solank mens net die trauma kan
oorleef, en die een wat om sy lewe moes veg, die hospitaal lewend en hopelik
gesond, kan verlaat.
Ons maak baie telefoonoproepe, skryf
briewe, stuur SMS-boodskappe. Almal
moet weet iemand is in die wurggreep van die dood vasgevang. Oproepe om hulp, om gebede word onverwyld
gemaak. O’ hoe troos ‘n bietjie medelye nie.
Daar is slapelose nagte en deurnagwake
in die hospitaalgange of, as dit moontlik is, in die siekekamer. Dis ‘n tyd van nood, van ernstige krisis.
Hierdie soort smart is heeltemal
natuurlik en bekend aan ons almal. Maar
daar is ‘n ander smart wat ook ‘n inherente deel van ons natuur moet uitmaak,
maar dis by die meeste van ons afwesig, of dit word onderdruk – en dit is
sielesmart!
Jes. 66:8 lees: Sion het weë gekry, meteens haar kinders
gebaar.
Kan kinders sonder pyn gebore
word? Niks behalwe geestelike weë kan
geestelike kinders baar nie.
Die prediker Charles Finney vertel dat
hy geen woorde kon uitspreek wanneer hy vir ‘n verlore siel by God ingetree het
nie, hy kon maar net ween en kreun. Dit
is geestelike barensweë.
‘n Sekere ouma het haar lewe lank, tot
op haar sterfbed, vir haar een kleinseun voor die troon van genade
ingetree. Op 81-jarige ouderdom, op
haar sterfbed, bring ‘n verpleegster
aan haar ‘n brief. Dit was van die
betrokke kleinseun en het sy getuienis van redding bevat.
Toe sy klaar gelees het, het sy met
blydskap gesê: Nou is alles volbring,
Nou
is almal gered vir wie ek my lewe lank by God ingetree het!
Hoe kan ons die pyn en smart verduur
van ‘n kleinkind wat verdrink, of ‘n geliefde wat na ‘n motorkaping in die kake
van die dood om sy lewe veg, maar nie
vir ‘n verlore siel nie?
Besef ons nie dat iemand wat sonder
God sterwe, die ewige verdoemenis ingaan, dat ons so iemand nooit weer sal sien
nie?
Iemand het al gesê: Jong, los hom, hy ken die pad, maar hy wil
nie daarop wandel nie.
Van waar haal jy die regverdiging om
iemand af te skryf? Die ouma se
kleinseun het ook die pad geken en wou ook nie daarop wandel nie, maar weet
dit, niemand het nog in sielesmart vir die redding van ‘n siel gebid en God het
nie geantwoord nie, al, was die antwoord eers op die ouma se sterfbed.
Sielesmart behoort ‘n natuurlike deel
van ons lewens uit te maak.
Ons is verder onder
verpligting want, die Here sê in Esegiël 3:18: “As Ek aan die godlose sê: Jy
sal sekerlik sterwe en jy – kind van die Vader – waarsku nie die goddelose nie,
en spreek nie om die godlose vir sy
godlose weg te waarsku nie, dan sal die
godlose deur sy ongeregtigheid sterwe,
maar… sy bloed sal van jou hand geeis word.” Hoe verskriklik tog!
Maar God is regverdig en
Hy voeg by: “Maar… as jy die godlose waarsku, en hy hom nie van sy godlose weg
bekeer nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe, maar jy het jou siel gered.”
Dis hoe regverdig die Vader is!
In Liefde moet ons vir mekaar bid en mekaar se laste
dra, ook die laste van die teruggevallene en die laste van die onwedergeborene.
Dit is nie moeilik om siele-foltering te ondervind
wanneer ons die doodskis in die lykswa sien wat ‘n dierbare na die graf wegvoer
nie.
Maar om te besef dat siele, kosbare siele, onsterflike
siele, besig is om rondom ons verlore te gaan – selfs in ons eie huise gaan
hulle verlore – en heen moet gaan in die stikdonker duisternis van ewige
wanhoop, ewig verlore, en dat ons dan geen smart ondervind nie, geen trane
stort nie en geen barensweë ken nie!
Het ons so verslag!
Hoe koud is ons harte nie! In plaas van vir die
redding van ons “probleemkind” se siel te bid,
neem ons die kind na sielkundiges, psigiaters en predikante, enigiets,
solank ons nie dae en nagte om in barensweë vir daardie kind moet verkeer nie.
Hoe koud is ons harte nie! Hoe min kennis het ons van die ontferming van die Here
Jesus. Hoe dink jy het jy dan die
wedergeboorte deelagtig word? Was dit
nie vanweë onvoorwaardelike Liefde nie?
‘n Nederlander en sy vrou immigreer na
Suid-Afrika. Op die lughawe van Skipol
wil iemand met hom oor die Evangelie praat.
Hy weier en sê: As daar so iets
is soos wedergeboorte, dan sal dit wel met my in Afrika gebeur.
Hyself was nooit in sy lewe in ‘n kerkdiens nie en sy
vrou was “’n slegte Roomse Katoliek,”
want sy het net dan en wan kerk toe gegaan, meer uit tradisie as
enigiets anders.
In SA begin hy ‘n suksesvolle sakeonderneming. Op ‘n dag begin by die Bybel lees, van begin tot einde. Toe hy pas daarmee klaar is, ontmoet hy ‘n wedergeborene wat sy getuienis aan hom gee.
Die Nederlander vra toe: “Waarom dink jy het ek ewe skielik die Bybel deurgelees en waarom staan ek hier na jou getuienis en luister? Sulke dinge sou ek nooit in my lewe gedoen het nie.
· En die wedergeborene antwoord: Omdat iemand baie naby aan julle getrou vir die redding van julle siele bid.
Die volgende dag was die Nederlander
terug met ‘n brief in sy hand. “Toe jy
gister sê dat iemand getrou vir die redding van ons siele bid, het ek besef ek
het daardie woorde iewers vantevore gehoor.
Toe krap ek deur ou briewe van my suster in Nederland en hier is die brief
en hier staan die woorde: Ons bid
getrou vir die redding van julle siele!”
Toe weet die Nederlander dat dit in antwoord op gebed is dat die Heilige Gees hom die Bybel laat deurlees het en dat hy na ‘n wedergeborene se getuienis moes luister.
Toe hy en sy vrou enkele dae later gered is, het hy ook verstaan dat hy op die lughawe van Skipol ‘n profesie oor homself uitgespreek het toe hy gesê het: As daar wel iets soos wedergeboorte is, dan sal dit wel met my in Afrika gebeur!
Die Nederlander en sy vrou het vir ‘n paar jaar die Evangelie in Nederland gaan uitdra en ‘n groot oes vir die HERE ingebring. Hulle is nou terug in SA om die Evangelie hier uit te dra.
Waar het dit begin? Iemand het in barensweë voor die troon van God vir die redding van hulle siele ingetree.
As jy intussen verkoel het in jou geestelike lewe, dan nooi die Here Jesus jou terug in Sy hoede met die volgende uitnodiging:
“As ons, ons sondes BELY… Hy is getrou en regverdig om ons sondes te vergewe en ons van al ons ongeregtighede te REINIG.” – (Joh. 1:9).
Bely dan jou sondes, dat jy afgedwaal het, dat jy die HERE bedroef het, en in Sy onbaatsugtige Liefde is Hy gereed om jou te vergewe en boonop, jou van alle ongeregtighede te reinig. Waar het jy ooit van ‘n groter Liefde as dit gehoor?
Kom die groot opdrag dan na en begin in barensweë by die troon van God intree vir die verlore siele in jou huis, jou familie, jou vriendekring. Doen dit onverwyld. Koop die tyd uit. Elke dag wat verbygaan is ‘n ongeredde siel nader aan die hel. Hy en sy is jou verantwoordelikheid!
Ds Dawie Pypers het altyd gesê: Each one, reach one. Ons maak SA oornag ‘n ware Nuwe SA as ons hierdie beleid sou volg.
Wedergeboorte en bekering is die werk van die Heilige Gees, maar dis jou gebed wat daardie werking van die Gees in aksie stel. Jy kan nie ‘n siel red nie, net God kan, maar dit begin alles by jou pleidooie vir die ongeredde.
Ons moet almal eerlik wees, ons bid hopeloos te min. Die eerste verhouding in ons lewens moet tussen ons en God wees. Dit is die fondament van ons algehele lewensbestaan. En ons verwaarloos dit.
Daarom val ons huwelike en gesinslewens uit mekaar. Daarom het ons “probleemkinders”. Daar is ouerhuise waar die ouers en die kinders nog nooit saam gebid het nie, nog nooit! Hulle het nog nooit saam Bybelstudie gedoen nie.
Vaders besef nie hulle is die hoë priester van hulle gesinslewe nie en daarom het hulle sekere verpligtinge nie. Daar is ouerhuise waar die moeder die ete moet seën want die vader weet nie wat sy rol as hoë priester is nie en in meeste gevalle het hy ook nie ‘n verhouding met God nie.
Die vader wat wedergebore is, en Lief is vir sy vrou en kinders, maak dit sy werk om sy Goddelike rol as vader in te studeer. Hy en sy vrou bid ook sonder ophou en in barensweë vir hulle kinders, familie en vriende.
Kom dan, niemand veroordeel jou nie, maak jou saak met God reg en begin nie net bid vir die redding van jou vrou, man, kinders se siele nie, maar verwag dit want God gaan vir seker jou gebede beantwoord.