Natuurlik, ons het beslis herlewing
nodig!
Die
vraag word gevra: Het ons herlewing
nodig?
Luister mooi. Hoeveel van ons kerke het hulle deure
gesluit? Hoeveel kerke is Sondae half
leeg? Watter menigtes het nog nooit die
binnekant van ‘n kerk gesien nie?
Meer as 34 miljoen mense het in die
2000-sensus gesê hulle is lidmate van ‘n Christenkerk. As al daardie lidmate elke Sondag in ‘n
kerkdiens is en elkeen gee sy tiende en offerande, dan, inderdaad, het ons
seker nie ‘n herlewing nodig nie.
Baie van diegene wat gemeen het dat
hulle Christene is, is nie waarlik wedergebore nie. Ander het hulle eerste Liefde verlaat en verkoel in hul
geestelike lewe, meesal weens ‘n gebrek aan kennis.
As die 34 miljoen Suid-Afrikaners die
korrekte lering en ondervinding gehad het oor die krag van gebed, dat sou die
bidure beter bygewoon gewees het as die kerkdienste.
As ons mense hulself waarlik liefgehad
het, sou hulle God waarlik liefgehad het, maar die liefde het so sy gees en
waarheid verloor, dat ons nie meer onsself liefhet nie.
Ware gelowiges het die HERE lief met
julle hele hart, julle hele verstand en in al hulle krag.
Daagliks flits die
smerigste SMS-boodskappe kruis en dwars deur die land op selfone. Klink dit na gelowiges wat die HERE liefhet
met hulle hele verstand? Waarvoor word
hulle verstand aangewend?
Die HERE vra ook dat
ons, ons naaste moet liefhê soos onsself.
Talle maak groot ophef daaroor oor wie nou eintlik ons naaste sou wees,
maar al het hulle die antwoorde, kom hulle nog nie die opdrag na van: Bid vir mekaar, dra mekaar se laste, nie.
Die misdaad in SA vier
weliswaar hoogty, maar so ook die sonde.
Die mense wat invul dat hulle Christene is en aan Christenkerke behoort,
dit is hulle wat in brassery en dronkenskap verkeer, wat eerder ‘n smerige grap as ‘n verrykende
Bybelteks met ‘n ander deel.
Dis hulle wat die
dobbelhole en bordele aan die gang hou, wat owerspel pleeg, nie liefde teenoor
hulle kinders openbaar nie, wat die verval van die immoraliteit aanhelp.
Dit is die mense wat nie
eers in die klein dingetjies vertrou kan word nie. Hulle steel maklik die maatskappy se pen, misbruik die maatskappy
se motor, raak sonder vrees by bedrog en korrupsie betrokke, bedrieg die Ontvanger, besteel sy naaste –
Ja, ander doen dit, waarom mag jy dit nie doen nie?
Ons besef nie dat wat
ons het, het ons uit genade ontvang nie.
Ons leef in die rykste land in Afrika, ryker as menige ander wêreld land
– maar watter verskil maak ons aan die land?
Ons is nie hier om toe te kyk hoe die land ondergaan, of om daagliks te
kritiseer nie, nee, ons hier om ‘n verskil te maak en ons maak dit deur gebed,
deur ons getuienis, deur woord en deur daad.
Het ons herlewing nodig? Natuurlik,
want, hoeveel Christene lewe die lewe van Christus voor hul medemens? Hoe gelykvormig het ons nie aan die wêreld
geword nie? Hoe min teenstand ondervind
ons? Waar is die vervolginge?
Jesus sê: Terwille van my Naam sal julle vervolg word! Dis nie ‘n waarskuwing nie, maar ‘n
belofte. Daar is egter geen vervolginge
nie want ons het gedoen wat ons juis nie durf doen nie, ons het aan die wêreld
gelykvormig geword. Kyk hoe maklik is
dit om vandag ‘n Christen te wees.
Dan is daar die predikante. Wat het van die treffende geesbelaaide
boodskappe geword? Kom mense nog tot
bekering? Word hulle gered as gevolg
van die prediking?
Baie van ons is godsdienstig nogal erg
bedrywig. Daar was die vroutjie wat
koorleidster in haar gemeente was. Sy
was ook die orreliste, voorsitter van die Vrouevereniging, onderwyseres in die
Sondagskool en tesouriere.
·
Godsdienstig
was sy dus baie bedrywig – tot op ‘n dag toe sy skielik die foon optel en
skakel. ‘n Rou kreet volg: Ek het hulp nodig, ek is sonder God, ek lewe
in owerspel.
Iemand baie naby aan
haar het agtergekom daar is fout, en in stilte, getrou vir haar gebid en die
HERE, wat ‘n waarmaker van sy Woord is, het die gebed verhoor en die Heilige
Gees het hierdie pragtige mense nie met rus gelaat nie – en uiteindelik die
waarheid en ure later, ware vrede, en Gal. 6:1-4 gaan in vervulling!
Daar is nie oortuiging
van sonde vandag nie, want Christene beskinder eerder mekaar as om vir mekaar
te bid. Met die geskinder probeer hulle
natuurlik hul eie sondes verdoesel en soek hulle selfregverdiging vir hulle eie
sondes.
‘n Meisie, swaar belaai
met skuldgevoelens, vra: Is dit wat ek
doen ‘n sonde? Die antwoord was: Die HERE sê dat in alles wat jy doen of sê
moet jy Hom verheerlik! Dink jy, jy
verheerlik die HERE met dit wat jy doen?
En sy antwoord: Nee.
En die prediker
antwoord: Gaan dan heen en sondig nie
meer nie.
Waarom sou ons bereid
wees om vir onsself te lieg? Hoe lank
gaan ons nog teen die prikkels skop?
Ons weet mos lank reeds dat die Heilige Gees met ons besig is. Gaan ons die Heilige Gees bedroef? Dis ‘n uiters gevaarlike spel, want die
Bybel sê: Dis vreeslik om te val in die
hande van die Lewende God.
Het ons herlewing nodig,
vra jy? Natuurlik! Sien jy dan nie self hoe ons mense van God
vergeet het nie. Sonde floreer op elke
gebied van die samelewing. Sogenaamde
Christelike koerante weier nie om sedelose advertensies van prostitusie te
plaas nie, weier nie om oor sonde te berig nie, maar skop vas wanneer hulle
berigte oor Goddelike ingrypings en getuienisse aangebied word.
Wie hou hom nog by die
norme, by die morele?
‘n Mens sonder beginsels, is ‘n
beginsellose mens. ‘n Volk sonder beginsels, is ‘n onbeskaafde volk.
As ‘n volk sy beginsel vergeet,
oorboord begin gooi, dan verval hy in barbarisme.
As ‘n volk gesonde beginsels verwerp,
word hy ‘n dweepsieke volk.
Die denkende Christen moes 30 jaar
gelede sy gesonde beginsels op twee fronte verdedig het. Toe het dit om sensuur wetgewing gedraai, so
asof , wet mense kan help om in die Hemel te kom.
Vandag het hy weer geleentheid om gesonde Christen-norme te verdedig,
maar ons verdedig dit juis deur dit uit te leef:
Die eerste is teen die verwaarlosing van alle beginsels
wat ly tot sosiale en persoonlike
agteruitgang.
Die ander is die aanname van vals
beginsels wat die wêreld in anargie dompel.
Die gevaar op die oomblik is dat ‘n
groot deel van die genoemde 34 miljoen Christene, vergeet het dat ons Christen-
en politieke beginsels ooit bestaan.
Ons moet onsself verdedig deur
vernuwing van ons bewuste ware geestelike, morele, politieke en ekonomiese
beginsels. Ons moet dit ook onverwyld in elke sektor van ons volks-, gemeenskaps- en gesinslewe toepas.
Om dit te kan doen moet ons ten eerste
onsself voor God verootmoedig, dan kom die herlewing en dan is ons weer tot
alles in staat deur Christus wat ons die krag daartoe gee.
Die preekstoel het min en feitlik geen
uitwerking meer nie. Die leiers het nie
die antwoord nie. Niemand behalwe God,
het die antwoord nie.
Die antwoord is dat ons die sonde aan
bande moet lê deur middel van verootmoediging, ‘n onvoorwaardelik terugkeer na
die weë en insettinge van God.
Die HERE sê: “Julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en
julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor
nie.” Jes. 59:2).
Wie wil dit waag om met God te stry?
Joël sê God verlang om ons te seën,
maar sonde weerhou die seën en Hy laat in sy liefde en medelye ‘n verskriklike
oordeel oor ons kom. Die oordeel is
byna by die poorte van die stad.
Ons moenie praat van liefde nie want
ons het lankal vergeet wat dit is. Ons
het nie onsself lief nie, ons weet nie wat dit is om ons kinders lief te hê nie
en ons weet nie wat dit is om ons vroue te bemin en lief te hê nie.
Maat let asseblief op hoe groot God se
liefde is. Joël 2:12-14 lees: Maar selfs nou nog – hier in die jaar 2003 –
spreek die HERE,, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween
en rouklag.
“En skeur julle hart en nie julle
klere nie, en bekeer julle tot die HERE God; want Hy is genadig en barmhartig,
lankmoedig en groot van goedertierenheid en Een wat berou het oor die onheil;
wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ‘n seën sal agterlaat?”
God weet wat jou sonde is, al wil jy
dit verdoesel. Hou maar op met bid as
jy nie bereid is om jou sonde te bely en dit te laat staan nie. God sal jou nie hoor terwyl daar ongeregtigheid
in jou hart is nie.
Lees gerus die hele hoofstuk van Joël.
Sien hoe die priesters en die dienaars van God
in die voorportaal ween en sê:
O’ HERE, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die
nasies hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is die 34 miljoen Suid-Afrikaanse
Christene se God?
Bely, bekeer en bid vir jou huis, vir
jou straat, vir jou gemeenskap, sodat die Gees van God vaardig kan word.
Ons het beslis herlewing nodig. Jy en ek is die sleutelfigure. Dan gaan God sy “Gees uitgiet op alle vlees
en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle oumense sal drome droom,
julle jongelinge gesigte sien.
“En ook op die diensknegte en die
diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet!”
God wil ons seën. Hy wag vir ons. Kom, waarom sou ons langer
in die onheil, die sonde, die vrees, die bange onsekerheid, die rusteloosheid,
voortgaan.
God wil ons en ons kinders vrymaak van
die bandeloosheid, die dwelms, die drank misbruik, die leuentaal, die
korrupsie, die bedrog, ja, van alles. Hoekom?
Omdat Hy ons en ons kinders wil seën
en omdat Hy, wanneer hy kom om Sy Bruid te kom haal, dat ek en jy inderdaad,
sonder vlek of rimpel sal wees!