En wat dan van die Heilige Gees?

 

Terwyl sommige geleerdes hulle deesdae besig hou met ‘n sogenaamde historiese Jesus – en boonop volop en onnodige media-dekking geniet – vergeet hulle of weet hulle nie, van die kragtige werking van die Heilige Gees nie!

          Jesus verlaat die aarde en gee aan ons die Heilige Gees.

          Die dag van Pinkster was die begin van ‘n nuwe era vir die ganse wêreld, ‘n nuwe krag van regverdigmaking en geregtigheid, ‘n nuwe missie van verlossing en ‘n nuwe basis van gemeenskap.

          Die Gees van God was van die begin af bedrywig oor die ganse aarde.  Hy is die kreatiewe “Agent”, die Behoeder en die Vernuwer van die Wêreldnatuur.

          Hy is die HERE God, die Gewer van Lewe!

          Daar is minstens drie elemente waarom die krag van die Heilige Gees in besonder in die Nuwe Testament aan ons gegee is:

 

·        Sodat ons kan sien, begryp en die eenheid in Christus kan beleef (Joh. 14:20);

·        Om met alle krag bekragtig te word volgens die mag van Sy heerlikheid tot alle lydsaamheid en lankmoedigheid met blydskap,  waarvoor ons die Vader dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig.  Kol. 1:11-12;

·        Sodat ons kragtig kan word in die HERE (Efes. 6:10) en in die krag van Sy sterkte.

 

Dit beteken dat alleenlik die persoon wat met die Heilige Gees vervul is,  verstaan en is by magte om te reageer op aanvalle van die duisternis teen hom!

Die Gees van God het in die Ou Testament onder andere oor mense soos Moses, Simson, Gideon, Samuel en die profete vaardig geraak.

In die Nuwe Testament word hierdie manifestasie deur elke Christen beleef wat met die Heilige Gees vervul is.

Profete soos Jesaja en Joel het getuig van die dag wat sou kom waar die volheid van die Heilige Gees ‘n steeds toenemende gawe van verlossing en genade sou wees.  Daardie dag het op Pinksterdag aangebreek.

In die Nuwe Testament is die Heilige Gees die “Agent” wat die wedergeboorte bewerk.  In die Evangelies was Hy nog nie betrokke nie.

Jesus se missie moes eers voltooi word om die vuur op die aarde te bring (Luk. 12:49 en verder).  Die Gees was op die aarde, maar nog nie uitgegee nie (Joh. 7:39).

Die volheid van die Gees is op Pinksterdag uitgestort.  Van toe af  was die Heilige Gees betrokke in ‘n steeds toenemende maat.  Hy was die geskenk van God aan Sy Seun, en Sy Seun se geskenk aan ons.

Die wêreld sou nooit weer dieselfde wees nie.  Vrede is vir almal beskikbaar as hulle dit maar net wil aanvaar.

Die Christendom groei tot die grootste godsdiens in die wêreld.  Die Bybel word en is steeds die mees gedrukte en gelese boek in die wêreld.

Elke dag nog word by die gemeentes gevoeg wat gered is en steeds word nuwe gemeentes gestig.

Die dood het geen angel meer nie.  Christene gaan nie dood nie, hulle het die Ewige Lewe!

Blindes sien, dowes hoor, kreupeles loop, ja, selfs dooies word opgewek.

In Suid-Afrika weet ons van drie gevalle waar dooies opgewek is:  Die geval van die Hatfield-broers, eerw. Van Zyl wat in die Paarl vir ‘n dooie man gebid en wyle prof. Jac Muller wat op Caledon vir ‘n dooie seuntjie gebid het.

Vele gevalle van kliniese dood en opstanding is deur medici in talle boeke vermeld.

Of die genesing deur gebed kom, deur medikasie of deur chirurgie, dit is en bly die kragtige werking van die Heilige Gees.

Daar is ook ‘n miskenning van die krag van die Heilige Gees onder ons mense, vandaar die geestelike en morele verval.

Dit is waarom dit so dringend noodsaaklik geword het dat mense hulle voor God sal verootmoedig.  Dit is waarom ons so dringend ‘n geestelike herlewing nodig het.

Dit is waarom u by ‘n gebedskring moet inskakel of een moet begin.  Wat baat dit om te sê ons is kinders van ‘n Lewende God, maar ons sien nie Sy Gees vaardig in ons lewens en in ons gemeenskappe nie.

Kom, bid saam vir ‘n kragtige herlewing sodat die Gees van God weer vaardig kan raak oor ons en ons land!

 

 

 

Hosted by www.Geocities.ws

1