KORT na my
aankoms in Lesotho, die land met van die hoogste berge in Suid-Afrika, kom daar
eendag ‘n Basotho te perd by my aan.
Hy het gesoek na ‘n witman wat vir sy
vader sou vertel “hoe hy oor die rivier kon kom.” Teen hierdie tyd het ek uit
eie ondervinding al besef hoe moeilik dit is om ‘n rivier sonder ‘n brug of ‘n
pont oor te steek.
Tog het ek terselfdertyd besef dat
hier geen sprake was van ‘n aardse rivier nie maar, dat dit stellig GOD was wat
met die Basotho se vader gepraat het.
Om hierdie rede het ek my perd
opgesaal en saam met die Basotho na die anderkant van die berg gery.
Toe my gids uiteindelik voor ‘n klein
kleihut stilhou en sê: “Hier woon my vader,” het ek van my perd afgeklim en die
hut binne gegaan.
Voor my het die swart gesig van ‘n ou
man met ‘n sneeuwit hare gesien, asook
sy vrou, net so oud soos hy, langs hom. Skaars het ek op die kleivloer
plaasgeneem of die ou man het begin praat.
“Nou weet ek dat ek reg gedroom het.
Die witman wat vir my moet sê hoe ek oor die rivier kan kom, het gekom.”
Nadat ek hom gevra het wat hy daarby
bedoel het hy my begin vertel hoe hy die vorige nag gedroom het dat hy op ‘n
breë pad, saam met medereisigers loop. Sommige was dronk, ander het baklei,
ander het spelende en dansend ‘n lasterlike lewe gelei.
“Ek het gesien hoe
hierdie breë pad na ‘n verskriklike afgrond lei. Ek was moeg vir hierdie lewe
en het gewens om tog eenmaal uit die ellende te kom.
“Toe sien ek ‘n diep vallei waarin ‘n
breë stroom vloei. Oorkant die rivier het ‘n skitterende stad gestaan soos wat
ek nog nooit in my lewe gesien het nie.
“As ek maar daardie stad kon bereik,
het ek gedink, sou ek tevrede wees en rus vind vir my siel.
“Terwyl ek wens dat ek na daardie stad
kon vlug, sien ek skielik ‘n smal voetpaadjie wat uit die breë pad uitdraai.
Dadelik het ek daardie paadjie gevolg, af na die groot rivier.
“Tot my teleurstelling moes ek ontdek
dat dit onmoontlik was om oor die rivier te kom want, daar was geen brug of
skuit of enige ander middel om my oor hierdie diep en donker stroom te neem
nie.
“Met traangevulde oë en ‘n diepe
droefheid in my, het ek van hierdie verruklike stad voor my weggedraai om na
die pad van verderf terug te keer.
“Skielik het daar ‘n Engel verskyn en
aan my gesê: ‘Gaan na die anderkant van die berg en daar sal jy ‘n witman kry
wat vir jou sal vertel hoe jy oor die rivier kan kom.’
“Ek het uit my slaap wakker geword en
daar ek swak was om self te gaan, het ek my seun gestuur om hierdie witman te
soek en hom na my te bring sodat hy my kan vertel hoe ek oor die groot rivier
kan kom.
“Nou het die witman gekom en sal hy
vir my vertel hoe ek oor die rivier kan kom.”
Hoe heerlik was dit nie vir my om hom
van die Jesus Christus, die Seun van GOD, te vertel nie. Van Hom wat uit die
Hemel neergedaal het en gesê het: “Ek is die weg, die waarheid en die Ewige
Lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Ek is die deur, as iemand
deur My ingaan sal hy gered word, en hy sal uitgaan en ingaan en weiding vind.”
Ek het die ou man so eenvoudig
moontlik vertel hoe Jesus die Seun van GOD, gekom het om vir ons deur Sy
gestorte bloed die weg na die Hemel oop te maak; hoe Hy ons ook waarsku teen
die breë pad wat tot die ewige verderf lei en dat Hy gesê het dat die smal pad
tot die Ewige Lewe lei.
Terwyl ek myself afvra hoeveel die ou
man van alles kon begryp, kniel hy en sy vrou meteens neer en sê: “Dit is
genoeg, ek sien die pad. Deur die bloed van Jesus het ek toegang tot GOD.”
Saam met sy vrou gee hy hom toe oor
aan die HERE, vind volle vergifnis en reiniging van hulle sondes en smaak hulle
die vrede van GOD in hulle harte. Later is hy en sy vrou ook gedoop.
Sowat ses maande later het ek ‘n lang
sendingreis na die hoë berge onderneem. My weg het langs die ouman se kraaltjie
verbygegaan.
Ons het daar by die blymoedige ouman en sy vrou – so oud, en tog sulke
jong Christene – ‘n diens gehou, saam met hulle gebid en hulle op hul pelgrimsreis
aangemoedig.
By die afskeid
omklem hy my hande met albei sy hande, en terwyl die trane oor sy wange rol, sê
hy: “Ek bedank u nogmaals uit die diepte van my hart, dat u gekom het om ons te
wys hoe om oor die rivier te kom. In die geloof het ek reeds oorgegaan, maar
weldra sal ek geheel-en-al oorgaan.”
Toe ek van daardie reis af terugkom, het ek verneem dat hy ‘n paar dae
tevore met groot vreugde die Ewigheid
ingegaan het na die heerlike stad, die nuwe Jerusalem, waarna hy so
uitgesien het.
Vir my was hierdie ondervinding ‘n blywende aansporing om sendingwerk
nie as ‘n swaar plig te beskou nie, maar as die grootste voorreg wat aan ons,
nie aan die Engele nie, geskenk is.
Soos in die geval van Cornelius, was dit nie ‘n Engel wat aan hom moes
sê hoe om gered te word nie, maar ‘n man met die naam Petrus. So kon die Engel
ook nie vir hierdie ou swartman sê hoe om oor die rivier te gaan nie, maar ‘n
man, in hierdie geval ekself.
Die voorreg is aan ons as geredde mensekinders gegee om die Evangelie aan
alle mensewesens te verkondig. Dit is nie ‘n swaar taak nie, maar ‘n dure plig,
‘n opdrag: “Gee júlle, vir hulle iets om te eet.”
Terselfdertyd is dit ook ‘n verantwoordelikheid om die Evangelie te
verkondig. As ons dit nie doen nie, kan die siele ons by die oordeelsdag
beskuldig dat ons hulle nie die blye nuus gebring het nie. – J.R.
Gschwend.