Gelowiges misken hulle ware identiteit in Christus Jesus

 

Baie gelowiges het nog nie kennis gemaak met die realiteit van hul ware identiteit nie.  Weens hierdie gebrek aan kennis, lewe hulle in onsekerheid, selfs vrees, en staan hulle nie in die geloof op vaste grond nie.

          Dit is hulle wat sê hulle hoop hulle sal die Hemel sien, in plaas daarvan dat hulle weet, dat hulle die Hemel beslis sal sien.

          Die hoop waarvan hulle praat is ‘n wens wat hulle uitspreek, maar wanneer die Bybel praat van hoop, dan bedoel hy “toekomstige feit.”

          Wat is die realiteit van jou identiteit?

          Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus (hoekom?) omdat Hy jou geseën (waarmee?) met alle geestelike seëning in die hemele in Christus soos wat Hy jou uitverkies het (wanneer?) voor die grondlegging van die wêreld (hoekom?) sodat jy sonder gebrek vir Hom in liefde kan wees.  Efes. 1: 3-4.

          Jy is vrygekoop deur Jesus se bloed.  Jy is nou ‘n nuwe skepsel, ‘n Goddelike wese.  Jy hoef niemand en niks te vrees nie.  Jy is deur die Waarheid vrygemaak. Joh. 8:31-33.

          Die HERE sê in Jer. 1:5 dat hy jou geken het nog voordat jy die moederskoot ingegaan het.  In Ps. 139 sê Hy, hy weet net mooi alles van jou af. 

          Daarom sê Hy ook in Efes. 1:5 dat Hy jou voorbeskik het om jou as Sy kind vir Homself aan te neem deur Jesus Christus (hoekom?) omdat dit na die welbehae van Sy wil is.

          In strofé 6 sê Hy, jy is Sy kind tot lof van die heerlikheid van Sy genade waarmee hy jou begenadig het in Christus.

          In Gal. 1:4 sê Hy dat Hy homself gegee het vir jou sondes (hoekom?) sodat Hy jou kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld (hoekom?) want dit is die Wil van onse God en Vader.

          In 11 Kor. 1 vanaf strofé 3, sê hy dat Hy hom oor jou ontferm  en jou vertroos in jou verdrukking (hoekom?) sodat jy weer ander wat onder verdrukking verkeer kan troos.

          In 1 Kor. 1 vanaf  strofé 5 sê hy dat jy weens die genade in Christus, in alle opsigte in Hom ryk gemaak is, in elke woord en elke kennis (hoekom?) sodat jy in geen enkele genadegawe agterstaan nie.

          Volgens Rom. 1:7 is jy ‘n geroepe Heilige, ook omdat jy saam met Christus opgewek is. Rom. 2:12.

          Let op, jy het ook ‘n Heilige roeping, aldus 2 Tim. 1:9.  En saam daarmee is jy meer as ‘n oorwinnaar sê Rom. 8:37.

          Jy het ook lewe in oorvloed, aldus Joh. 10:10.  Daarom is jy ook tot alles instaat deur Christus wat jou die krag daartoe gee. Fil. 4:13.

          In 11 Kor. 2:14 lees jy:  Maar dank GOD, want Hy laat my altyd triomfeer in Christus. Boonop laat Hy die geur van Sy kennis oral deur my versprei.

          Jou identiteits-dokument in Christus is sommer baie, baie lank. 

          Wat maak jy daarmee?

          Hierdie identiteit van jou kan net tot realiteit kom as jy gereeld Bybelstudie doen en die beloftes wat God aan jou maak, jou eie maak.

          Dit baat niks dat jy ‘n prokureursbrief ontvang wat jou inlig dat jy geld en ‘n plaas geërf het, maar jy gaan eis dit nie op nie, gaan maak dit nie jou eie nie.  Totdat jy na die prokureurskantoor gaan en sekere dokumente daar invul en onderteken, is die geld en die plaas nog nie joune nie.

          Sy Nuwe Testament bemaak aan jou as Sy erfgenaam ook talryke wonderlike seëninge.  Totdat jy die Testament nie gelees en jou erfporsie aangeneem het nie, is dit nog nie joune nie.

          Een deel het jy reg gedoen.  Jy het jou verlossing in Jesus Christus opgeëis.  Wat nou van die res.  Jy is skatryk in Christus Jesus en jy weet dit nie, want jy lees nie die Testament nie, jy kom nie die voorwaardes van die erfporsie na nie.

          Verstaan jy nou wat dit beteken wanneer die HERE sê jy gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis?

          Ernstige doelgerigte Bybelstudie sal jou al klaar help om die broodnodige kennis op te doen.  Waarom sou jy langer gebrek ly.  Hoe lank wil jy nog neem voordat jy rigting kry?

          Totdat jy die kennis opgedoen het, leef jy voort in geestelike armoede en beteken jy vir jouself en ander rondom jou, net mooi niks, leef jy in ‘n bange hoop, in plaas van in volkome blydskap.

          Soos Paulus skryf ek hierdie dinge aan jou, sodat jou blydskap volkome kan wees. 1 Joh. 1:12;  2 Joh. 12; Gal. 5:22; Joh. 15:11.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

         

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

         

         

 

         

 

Hosted by www.Geocities.ws

1