En hoe moet
ons bid om seker te wees dat
ons antwoorde
op ons gebed verkry?
AS
God Almagtig is en enigiets kan doen
volgens Sy wil, het Hy dan nog enigiets nodig van enigeen van Sy skepsels?
Hy wat die heelal geskep het deur
enkele woorde te spreek, en steeds alles in stand hou sonder dat Hy die mens
benodig, waarom sou Hy ons nou nodig hê vir enigiets wat Hy teweeg wil bring?
As Hy ons nie nodig gehad het om die
heelal te skep nie, waarom het Hy gebed ingestel? Wanneer het Hy dan van ons
“afhanklik” geword? Waarom kan Hy niks doen in die sfeer van menslike
verlossing, behalwe deur menslike samewerking en dit deur gebed en geloof nie?
Hoe het God Homself dan so in ‘n hoek
toegeverf? As God in totaliteit selfgenoegsaam is – wanneer Hy deur bloot ‘n
woord te spreek enige moontlike en onmoontlike ding tot stand kan laat kom –
waarom gaan Hy dan nie voort, sonder die hulp van enigiemand se intelligensie
of wil, en tree arbitrêr op en spreek net die woord nie?
Is God dan “hulpeloos” sonder die
mens. Die misterie van gebed as instelling word opgeklaar in Eseg. 22: 30-31.
In ‘n tyd van nasionale
geloofsversaking, het God gesê: “En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n
muur kan bou en voor My aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek
dit nie verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie.
“Daarom het Ek my toorn oor hulle uitgegiet;
deur die vuur van My grimmigheid het Ek hulle verteer; hulle wandel het Ek op
hulle hoof laat neerkom, spreek die HERE, HERE.”
Hier sien mens duidelik dat God na
rede soek om ‘n verdiende loon uit te oefen. Hyself verlang daarna om die volk
te spaar, maar vreemd genoeg is Hy “magteloos” sonder menslike ingryping,
sonder ‘n bemiddelaar.
As niemand in die bres wil tree nie,
kan Hy nie Sy oordele, Sy toorn, terughou nie.
Maar waarom moet Hy van ons gebed
“afhanklik” wees om die volk te verdedig teen Sy eie toorn? God is tog Almagtig
en verhewe, soewerein in die heelal?
Hy is tog die uiteindelik Regter, die
Jurie, die Uitvoerende Mag, die Een wat gesag toepas. Of is Hy dalk nie?
As Hy verlang om nie sy volk te
oordeel nie, as Hy graag genade wil betoon, hoekom gebruik Hy nie Sy Almag en
soewereiniteit nie, ten spyte selfs van wat ons mag bid of nie bid nie?
Anders gestel: God se Wil is soewerein
in alle dinge. As Hy wil dat siele gered word, dat herlewing moet uitbreek, dat
Sy afgedwaalde volk na Hom moet terugkeer, hoekom gaan Hy nie net arbitrêr oor
ons koppe en voer Sy Wil uit nie?
Waarom het Hy ‘n stelsel daar geplaas
wat hom “afhanklik” maak van ons? Is dit nie ‘n verstommende misterie nie?
God pleit by ons om te bid. Hy wil
niks doen in die sfeer van menslike verlossing, sonder ons gebed en intersessie
nie.
Hy pleit nie net dat ons tussenbeide
moet tree met gebed nie, Hy dring daarop aan, soebat ons eintlik.
In Matt. 7:7 dring Hy daarop aan dat
ons moet klop en nogmaals klop, en voeg dan by: Vir elkeen wat klop sal
oopgemaak word.
Dan verduidelik hy self: Die man en sy
vrou en kinders slaap reeds, die deure is gegrendel – toe die vriend opdaag en aanklop en vra vir drie brode.
Maar die man wil nie opstaan en sy
vriend help nie. Dan sê Jesus: Alhoewel hy nie sal opstaan en help omdat dit sy
vriend is wat aanklop nie, staan hy uiteindelik tog op en help vanweë die
vriend se aanhoudende irreterende geklop.
Met ander woorde, as mens ophou klop,
word daar nie oopgemaak nie. Soms moet mens nogal lank klop, maar die belofte
staan vas: As jy aanhou klop dan sal daar vir jou oopgemaak word!
En verder: As jy aanhou soek, sal jy
beslis vind.
Dit is duidelik dat God niks doen, en
niks gebeur, as ons nie bid nie.
God is die God van die oes, nogtans
dring Hy in Matt. 9:38 daarop aan dat ons moet bid dat Hy arbeiders in die veld
moet stuur.
Die oes is syne en die arbeiders is
tog syne. Hoekom sou Hy “hulpeloos” toekyk terwyl Hy wag dat ons bid dat Hy
arbeiders in die oes moet instuur? Hoekom stuur hy arbeiders alleen uit in
antwoord op ons gebed?
Die fundamentele belangrikheid van
hierdie instelling van gebed in God se Raadsplan, word verder beklemtoon
daardeur dat God homself onomwonde verbind om te antwoord!
God se belofte om te antwoord is byna
soos ‘n blanko tjek wat reeds Sy handtekening dra. Dis ‘n verbysterende
gedagte, maar ‘n werklikheid. Dis of God Sy septer aan ons oorhandig het en by
ons pleit om dit te gebruik.
Die volgende voorbeelde ruim alle twyfel
uit die weg:
·
En wat julle ook al in My naam mag
vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle
iets in My naam vra, sal Ek dit doen. –
Joh. 14: 13-14.
·
As julle in My bly en My woorde in
julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. – Joh.
15:7.
·
En in daardie dag (nà die Hemelvaart)
sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle
die Vader sal vra IN MY NAAM, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in My
Naam gevra nie. Bid, en julle sal ontvang (hoekom?) sodat julle blydskap
volkome kan wees! – Joh. 16:23-24.
Daar is geen voorwaardes wat God bind of verhoed om die
gebed van ‘n getroue kind van Hom te beantwoord nie. God self hoef aan geen
voorwaardes te voldoen nie.
Die voorwaarde: As julle in My bly en My woorde in
julle, is moontlik en binne bereik van elke wedergeborene wat dit erns met God
bedoel.
As dit nie moontlik was om hierdie voorwaarde na te kom
nie, dan sou dit sekerlik ‘n risiko aan die kant van God wees om sulke
verreikende beloftes te maak – en so iets is tog onmoontlik, God sal nie ‘n
fout maak nie.
As God dus nie kan fouteer nie, dat is die totale
verantwoordelikheid vir gebedloosheid
of oneffektiewe gebed, ons sin.
Van God se kant af is dit dus ‘n eervolle optrede. Van
God se kant af is dit ‘n waterdigte aangeleentheid. Sy deel is reeds gedoen. Sy
belofte is om altyd te antwoord ingevolge Sy Wil. Daar is dus ook geen fynskrif
nie.
Die getroue kind van God sal nooit iets vra buite die Vader
se Wil nie.
God wou in ‘n stadium iemand hê om in die bres te staan
vir die volk. Dit is dus Sy Wil dat ons tot Hom bid om herlewing en restourasie
van die volk.
As ons sekere middele daarvoor benodig, dan sal Hy dit
ook gee. Dieselfde geld in die geval van siele inwin vir Sy Koninkryk.
Ook geld dit ons blydskap want dit is Sy Wil dat ons
blydskap volkome sal wees!
God se aanbod aan ons is ‘n bona fide aanbod, ‘n aanbod
ter goeder trou. Dit is ‘n uitnodiging aan die wedergeborenes om in volle
vennootskap saam met Hom te lewe. Nie dat ons namens Hom besluite sou neem nie,
maar meer in die sin van medewerker.
Die verantwoordelikheid en die uitvoer van God se
raadsbesluite, plaas Hy op die skouers van Sy Kerk.
En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots
sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig
nie. En Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die Hemele gee; en wat jy
(My gemeente) ook op die aarde mag bind, sal in die Hemel gebonde wees, en wat
jy ook op die aarde mag ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees. – Matt. 16:
18-19.
Die belofte word aan die Kerk in die algemeen herhaal in
Matt. 18:18: “Voorwaar Ek sê vir julle,
alles wat julle op die aarde bind, sal in die Hemel gebonde wees, en alles wat
julle op die aarde ontbind, sal in die Hemel ontbonde wees.
“Kyk, ek gee aan julle mag om op slange en skerpioene te
trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”
– Lukas 10:19.
“Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur
Ek julle ook. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle
vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou."” Joh.
20:21.
Wat betref Joh. 20: 21-23 is dit duidelik dat ons as God
se verteenwoordigers op aarde aangestel is. Soos wat die Vader Hom gestuur het,
stuur Hy ons ook.
Hy sou ook nie die opdrag gegee het as Hy ons ook nie
die krag voorsien het om die taak uit te voer nie.
Die vraag is: Waarom het God verkies om binne die
raamwerk van gebed te opereer? Waarom het hy die volle verantwoordelikheid vir
die uitvoer en administrasie van Sy
Goddelike regering op aarde, op die skouers van die wedergeborenes
geplaas?
Waarom sal Hy hom nie inmeng in aardse aangeleenthede
nie, behalwe om op te tree in medewerking met Sy Kerk?
God het uit en uit van Sy magte aan Sy Kerk gedelegeer.
Hoe anders kon dit moontlik word om die Evangelie na elke uithoek van die
wêreld te neem?
Deel van die Opdrag is:
“En leer hulle”. Hoe sou dit moontlik wees om die nuwe siele wat inkom
in die Koninkryk te leer, as dit nie die plig van die wedergeborenes is nie?
God had iets oneindig groot in gedagte toe Hy die
stelsel van gebed ingestel het. God se ewigheidsdoel met die heelal en Sy volk
was om ‘n Ewigheidsmaat vir Christus op aarde te skep.
Hierdie feit is deel van die openbaarmaking van die
misterie in die Boek Efesiërs wat die klimaks in Hoofstuk 5 bereik.
Hierdie hoofstuk verklaar die Goddelike openbarende
parallel tussen God se menslike en Goddelike huweliksprogramme.
Strofé 32 klaar die misterie op wanneer Paulus onomwonde
verklaar dat die huweliksmaats in die
huweliksprogram, Christus en die Bruid (ons die wedergeborenes) is.
Hoekom? Want die Bruid (die Kerk van Christus) in sy
hoedanigheid as Bruid van Christus, as huweliksmaat, sal die hoogste amp in die
heelal beklee, naas die Godheid self.
As Bruid van die Ewige Seun, sal sy saam met Hom
universele soewereiniteit deel!
“Weet julle nie dat die Heiliges die wêreld sal oordeel
nie. Weet julle nie dat ons Engele sal oordeel nie?” – 1 Kor. 6: 2a-3a.
“As ons verdra, sal ons saam met Hom regeer.” 2 Tim.
2:12.
“En aan hom wat oorwin en My werke tot die einde toe
bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee.” Openb. 2:26.
“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op
My troon, soos Ek ook oorwin het en saam met My Vader op Sy troon gaan sit
het.” Openb. 3:21.
“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die
boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met U
bloed gekoop, uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en
priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” –
Openb. 5: 9-10.
Omdat die wedergeborenes Christus se Geliefde en Bruid
is, moet sy onderrig word, geleer word, en voorberei word vir haar Koninklike
rol.
Deur Sy gesag aan die Bruid te delegeer om Sy
administrasie en besluite op aarde uit te oefen moet die Bruid leef
soos een wat gereed is om in die huwelik te tree.
Die Bruid moet toenemend in die binnekamer in gebed
verkeer rakend God se Raadsbesluite en die uitoefening daarvan. Ons kan dit ook
in-diens-opleiding noem.
Sy moet die kuns van geestelike oorlog aanleer en
begryp, oor hoe om die onheilsmagte te verslaan in voorbereiding vir haar huwelik
met die Lam van God en haar troon-bestyging.
Om haar in staat te stel om die tegniek van oorwinning
aan te leer, het God die stelsel van gebed ingestel.
Let op hoe word haar sfeer van aksie beklemtoon: “Wat jy
ook al bind op die aarde sal in die Hemel gebonde wees,” “wat jy ook al ontbind
op die aarde sal in die Hemel ontbonde wees.”
En, “As twee van julle saamstem op die aarde oor enige
saak wat hulle mag vra, dit sal hulle
ten deel val van My Vader wat in die
Hemel is.” Matt: 18:19.
Hierdie delegering en verantwoordelikheid betreffende
gesag en administrasie wat aardse aangeleenthede aanbetref, beslaan die hoogste eer, en verhoog die
Bruid tot die hoogste rangorde onder alle lewende wesens.
Geen Engel of Aartsengel sal ooit hierdie hoë rangorde beklee
nie, want nie Engele nie, maar alleen wedergeborenes is in die beeld van God
geskape en kwalifiseer om die Bruid te wees en die Bruidegom se troon te deel.
Hierdie raadsplan van God is nie as ‘n losse gedagte
agterna ingestel nie, maar kom nog voor die grondlegging van die aarde af,
aldus Efes. 1: 4. “Hy het die
wedergeborenes uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en
sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.”
Dit was God se oorspronklike doel met die skepping van
die heelal. En Sy gebedsprogram is die metode om die Bruid voor te berei vir
haar toekomstige rol as Koningin.
Dit is waarom God nooit oor die kop van Sy Kerk gaan
nie. Hy sal nie dinge uit ons hande neem nie. Ons het ‘n kardinale rol om te
vervul.
Deur Haar rol
hier op aarde te vervul, kan Sy haar volle status bereik as mederegeerder van
die heelal. God kan Haar nie verlos voordat Sy nie haar verantwoordelikheid
aanvaar en ‘n sukses van haar taak maak nie.
2 Petrus 3: 0 lees: “Die HERE vertraag nie die belofte
(van Sy Wederkoms) soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig
oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering
moet kom.”
Hoe lank ons dus nog op hierdie aarde gaan wees voordat
ons oor die konings en priesters van hierdie wêreld gaan regeer, hang alles van
ons eie prestasie af.
Feit is, Hy kom nie voordat Sy Bruid nie sonder vlek of
rimpel is nie. Efes. 5: 27.
God sal dus niks doen, anders as in antwoord op gebed
nie. Die wedergeborenes moet in gebed en intersessie intree vir God se volk,
vir herlewing, vir restourasie.
Die grootste wat enige wedergeborene vir God en vir die
mens kan doen, is om te bid!
Natuurlik kan ons meer doen as net bid nadat ons gebid
het, maar ons kan niks doen alvorens ons nie gebid het nie.
Deur gebed slaan ons die uitklophou. Deur
dienswilligheid versamel ons die resultate. Hoe meer gebed daar is, hoe ‘n
beter plek sal die wêreld wees waarin ons woon, en hoe magtige sal ons teen die
onheil staande kan bly.
Ons het en maak tyd vir alles, behalwe om te bid. Maar
hopelik, nou dat ons almal besef wie ons werklik is en watter belangrike rol
ons op aarde moet vervul en watter groter rol ons in die Hiernamaals gaan
vervul, hopelik sal ons nou tyd maak om
met God te versoen en ons voor te berei vir die komende Huwelik.
Van nou af aan, laat die volgende strofê ons slagspreuk
of ons wagwoord wees: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles
tot verheerliking van God!” – 1 Kor. 10: 31.
En wat leer Die Bybel, hoe bid ek om seker
te maak dat my gebede beantwoord word?
Baie
mense bid nie meer nie. Hulle sê dit help nie want hulle gebede word tog nie
beantwoord nie.
Wat ons hier gaan doen is nie om te
kyk wat ons nie moet doen nie, maar wat ons wel moet doen, om seker te maak dat
ons antwoorde op ons gebede kry.
Ten eerste moet ons besluit presies
wat ons van die Vader verlang. Hoekom?
Want Jak. 3:6-8 sê: “Maar hy moet in
die geloof bid, sonder om te twyfel: want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van
die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word … want dié mens, moenie
dink dat hy iets van die Vader sal ontvang nie.” Met ander woorde, so iemand
sal niks van die Here ontvang nie.
Jakobus sê verder dat so iemand
dubbelhartig is en boonop onbestendig is al sy weë.
Dis soos iemand wat ‘n trollie op en
af in ‘n hipermark stoot en nie kan besluit wat om te koop nie, net omdat hy of
sy nie vooraf besluit het wat hulle nodig het nie.
As twyfel u probleem is, bely dit en
weier om te twyfel.
Ons moet aanvaar dat daar twee magte
op die aarde aanwesig is: God se mag en die satan se mag. Die twee staan
teenoor mekaar. Twyfel kan nooit van die Hemel af kom nie.
Die amptelike opdrag is in Jak. 4:7:
“Onderwerp julle dan aan God: weerstaan die duiwel, en hy sal van julle
wegvlug!”
Om te twyfel is dus sonde.
Ten tweede moet ons die Vader vra vir
dit wat ons nodig het. Onthou, Hy voorsien dit wat ons nodig het, en nie dit
wat ons wil hê nie!
Matt. 7:7-8 lees: “Bid, en vir julle
sal gegee word: soek en julle sal vind: klop, en vir julle sal oopgemaak word.
Want, elkeen wat bid, ontvang: en hy wat soek, sal vind, en vir hom wat klop
sal oopgemaak word.”
En verder (Matt. 6:8) “… julle Vader
weet wat julle nodig het nog voordat julle vra.”
Hoeveel mense het nie al hierdie
strofé aangehaal en gesê maar hulle hoef nie te bid nie want die Vader weet
reeds wat hulle nodig het.
Maar, waarom moet ons dan nogtans vra?
Dis
eenvoudig. Wanneer u agterkom dat u kind se skoene vervang moet word en u
vervang dit voordat hyself agtergekom het dit is flenters, dan het daardie kind
geen waardering vir die nuwe skoene nie.
Kom die kind egter self agter dat sy
skoene vervang moet word en hy vra mooi dat sy ouers vir hom nuwes moet koop,
dan sal hy net waardering openbaar nie, maar
hy sal die skoene ook oppas.
Ten derde moet ons glo dat ons wel
ontvang.
“Want voorwaar, ek sê vir julle dat
elkeen wat vir hierdie berg (probleem) sê: hef jou op en werp jou in die see –
en nie in sy hart twyfel nie, maar glo wat hy sê sal gebeur – hy sal verkry net
wat hy sê.
“Daarom sê Ek vir julle: alles wat
julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang glo dat julle dit reeds
ontvang het), en julle sal dit verkry.” Mark. 11:23-24.
Vierdens moet ons Skriftuurplase lees
wat beloftes vir ons gebed bevestig.
Fil. 4: 8.
Asook Jos. 1: 8; “Hierdie wetboek mag
nie uit jou mond wyk nie, maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan
handel volgens alles wat daarin geskrywe staan: want dan sal jy in jou weë
voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”
Die opdrag is dat ons die Woord van
Here deeglik sal ken, sodat ons nougeset kan wandel – natuurlik ook wat betref
wat rondom ons aangaan sodat ons presies kan weet waarvoor om te bid of in die
bres voor te staan.
Christus het nooit ‘n wapen saam met
Hom rondgedra nie. Hy het deurentyd die Woord as swaard gebruik, bv toe die
duiwel Hom drie keer versoek het.
Die volk gaan ten gronde weens ‘n
gebrek aan kennis. Kyk net wat leer mens nie al net uit hierdie geskrif nie.
Joh. 15:7 lees: “As julle in My bly en My woorde (kennis) in juille, sal
julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.”
Ons het geen verskoning daarvoor as
ons nie die Woord ken nie.
Vyfdens moet ons aan God lofprysinge
gee. Fil. 4: 6 lees: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes (oor
die dinge wat julle werklik benodig) in alles deur gebed en versoeke (nie
smeking) met danksegging by God bekend word.”
Ps. 149 sê lofprysinge is soos ‘n
tweesnydende swaard: Aan die een kant maak ons God se naam groot, terwyl ons
aan die anderkant “wraak uitoefen oor
die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te
bind en hulle edeles met ysterboeie, om ‘n vonnis wat (reeds) opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek. ‘n Eer is dit vir al Sy gunsgenote. Hallelujah!”
Sesdens bid ons altyd in die naam van
Jesus Christus. Joh. 16: 23 lees” “En in daardie dag sal julle my niks vra nie.
Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in My
naam, sal Hy julle gee.
2 Kronieke 7:14 is ‘n realiteit: “As My Volk oor wie my Naam uitgeroep is,
hulle verootmoedig en bid en My aangesig soek, en hulle bekeer van hulle
verkeerde weë, dan sal Ek (beslis) uit die Hemel hoor en hulle vergewe en hulle
land genees.”
Waarom toets ons nie God aan sy Woord
nie?
Inderdaad is gebed ‘n nasie-skuddende,
geskiedenis-makende, wêreld-verskuiwende saak.
Nie dan gebed as sodanig magtig is nie, maar onse God is!
Alles is reeds probeer vir vryheid en
reg, behalwe deurdringende, aanhoudende gebed.
Begin vandag nog ‘n gebedswaak in jou
eie huis. Dit is die antwoord, die
enigste antwoord! Al is julle net twee wat begin, maak daardie begin.
·
Ons herinner net weer: U mag enige
van hierdie boodskappe op enige wyse elektronies, per fotostaat of andersins
versprei of as boodskappe gebruik solank u dit gratis doen.