Voordat ons nie
geestelike vry is nie, kan God se vermenigvuldende krag nie ons situasie omkeer
nie!
Altesame 3 655 928 Blankes in Suid-Afrika het in die
2000-sensus aangedui dat hulle aan Christen-kerke behoort. Dit beteken natuurlik nie dat hulle wel kerk
toe gaan nie.
Bereken teen ‘n gemiddelde van 1 000
lidmate per gemeente, moet daar 3 655 Christen-gemeentes in die land wees. Dit beteken dat elke Sondag word sowat 7 000
preke in Blanke kerke gelewer. Dit is
sowat 350 000 preke per jaar.
Voeg hierby dat die 3 655 gemeentes
een keer per week biduur het en ons het ‘n bykomende sowat 180 000 geloofsbyeenkomste
per jaar, dus, altesame sowat
560
000 kerkbyeenkomste per jaar het.
Wat word daar gepreek as die land lyk
soos hy lyk en ons nie herlewing ondervind nie, en die Kerk se stem nie gehoor
word nie, en Christene nie ‘n verskil aan hulle gemeenskappe maak nie?
Wat alle groeperinge betref, d.w.s.
wit, Swart, Bruines en Asiër het 34 689 907 mense aangedui dat hulle aan
Christen-kerke behoort.
Aanvaar hierdie keer dat daar 2 000
lidmate per Christen-gemeente is. Dit
is sowat 17 000 gemeentes, wat beteken
daar word elke Sondag sowat 34 000 preke landwyd in Suid-Afrika
gelewer. Dit is 1 700 000 preke per
jaar, plus die boodskappe van sowat 17 000 per week by bidure.
Dan is daar nog die talryke boodskappe
per week op radio en TV. Nogtans, die
getal boodskappe wat per week, per maand, per jaar verkondig word, maak feitlik geen verskil aan die land se
situasie wat byvoorbeeld misdaad betref nie. Die lys van probleme is droewig
lank.
Wat sou die inhoud van al hierdie
boodskappe wees dat daar so ‘n geringe uitwerking is? As die boodskappe nie ‘n beduidende verskil binne en buite die
Kerk maak nie, dan vra dit nie kritiek nie, maar besliste diepteondersoeke.
Moet die boodskappe nie dadelik
stopgesit en vervang word met lering en gebed nie? Dis duidelik dat selfs die Kerk ten gronde gaan weens ‘n gebrek
aan kennis.
Ons kan nie aangaan soos ons aangaan
nie, want ons belewe nie die vrug wat so broodnodig is nie. Die situasie versleg en dit word nie beter
nie.
Daar word deur sommige medici bespiegel
dat die moontlikheid ontstaan dat die VIGS-virus, soos die griepvirus en ander
virusse, in die lug kan begin beweeg.
Mens hoop dit gebeur nie, maar sou dit gebeur en mense begin daagliks in
hulle duisende sterf, gaan ons dan onsself bekeer?
Hoekom moet ons wag totdat ons van
ellende krepeer?
Talle Blanke gemeentes moes al hulle
deure sluit. Ander moes saamsmelt en in sommige gevalle is kerkgeboue al
verkoop. Dis duidelik dat honderde
duisende Christene nie langer dienste bywoon nie en ‘n geldnood bedreig die
voortbestaan van talle ander.
In een geval moes ‘n gemeente van 1
500 lidmate by ‘n ander inskakel omdat hy nie langer geldelik die mas kon opkom
nie. Dit is skrikwekkend.
Dis of die statistiek ons onsself in
‘n spieël laat kyk, en mens sidder.
Nogtans, kan die hele situasie wat die
Kerk en die samelewing betref, omgekeer word.
God se vermenigvuldende krag kan weer in werking gestel word.
As ons dit nie geweet het en nie geglo
het nie, sou ons nooit hierdie boodskap geskryf het nie.
Die antwoord en oplossing lê in
verootmoediging, ‘n algehele terugkeer na God en Sy insettinge wat ‘n magtige
herlewing tot gevolg sal hê.
Waar begin ons? Ons begin daar waar elke getroue Christen
ten spyte van wat ook al, steeds getrou die HERE dien. Dit begin by gebed en nogmaals gebed.
Ook sal ons, ons tonge moet muilband
en dit soos ‘n skip se roer in die regte rigting moet stuur. Ons tonge het skindertonge geword. Ons weet meer van ander se sake as van ons
eie. Ons bid nie vir mekaar nie en ons
dra nie mekaar se laste nie omdat ons, ons eerste liefde verlaat het. Ons
bemoedig nie mekaar nie en ons seën nie mekaar nie.
Verdeeldheid kom wyd voor weens die
skindertonge. Wanneer mens van iemand
skinder het dit ‘n binding in jou eie gees tot gevolg en jy beteken vir God,
vir jouself en vir ander om jou absoluut niks.
Weens hierdie binding in ons gees,
raadpleeg ons ook nie vir God nie, maar dwaal ons in dwaasheid voort met eie
mensgemaakte planne. Dawid sê in Ps. 33:10:
Die HERE vernietig die raad van die nasies. Hy verydel die gedagtes van die volke.
In strofé 11 beklemtoon hy die feit
dat alleen die raad van die HERE bestaan en dit bestaan vir ewig, en die
gedagtes van Sy hart (nie ons harte) bestaan van geslag tot geslag.
In strofé 12 is die antwoord:
Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as
erfdeel uitverkies het!
En verder: Die HERE kyk van die Hemel af;
Hy sien al die mensekinders (al lewe sommige van ons asof dit nie die
geval is nie). Uit Sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy
wat die hart van hulle almal formeer, wat let op hulle werke! (En ons dink ons
kan maar lewe soos ons wil).
Ons is arm en beklaenswaardig omdat
ons geestelik so arm en ellendig is.
Dan kom sommige nog en gee God die
skuld vir die toestand waarin ons is en hoor mens gereeld die vraag: Waarom doen God nie iets nie?
Intussen is dit ons wat iets moet
doen. Ons kan die hele situasie omkeer.
Die dissipels sê vir Jesus:
Die 5 000 man en hulle vroue en kinders is honger en ons het nie vir
hulle kos nie en ons kan ook nie vir hulle kos gaan koop nie.
En Hy antwoord: Gee julle vir hulle iets om te eet!
Die paar broodjies en vissies voed
daardie dag al daardie mense en agterna word 12 mandjies brokstukke ook
opgetel.
As die dissipels bly staan het en gesê
het: Waarom doen God nie iets nie, het
niks gebeur nie.
Toe hulle egter daardie paar treë na
die eerste ry mense stap (geloof en vaste vertroue) en die bietjie kos begin
uitdeel, toe kom God se vermenigvuldende krag in werking.
Dit is wat ons nodig het. Ons moet ons tonge muilband en die negatiewe
praatjies staak. Ons moet terugkeer na
God se raad, God se gedagtes. Ons moet
ons verlamde knieë optel (voordat ons heeltemal inmekaar val) en sonder ophou
begin bid, sonder ophou begin werk, want,
dis tyd dat ons weer God se vermenigvuldende krag in werking sien. Hoe lank wil ons nog so sonder rigting voortploeter?
Ons leef in ‘n land met allerlei
politieke vryhede, maar ons is geestelik gebind. Voordat ons nie geestelik vrykom nie, kan God nie die honger, die
pyn en die lyding oplos nie. Ons is vasgevang in ‘n bose kringloop waarin almal
kla dat hulle armer word. Hoe lank moet
dit nog so voortgaan?
Dis tyd dat ons met durf en daad
opstaan en sê: Genoeg is genoeg, nou
gaan ons, ons na God keer! Vir die HERE
sal ons sê: HERE, ons los U nie, nie
voordat U ingryp nie.
Dawid – gesalf as koning oor God se
volk – was ook eens in ‘n benarde situasie in Ps. 142. Hy was die man wat die uitverkorenes van die
HERE moes lei. Tog bevind hy homself in
‘n spelonk waarheen hy vir sy lewe moes vlug.
Strofé 2: Hardop (!) roep hy tot God.
Hardop (desperaat) smeek hy God vir hulp.
Dawid het sy toevlug na die regte
persoon geneem. Hoekom doen ons nie
dieselfde nie?
Strofé 2: Hy stort sy klagte voor God uit.
Hy maak sy nood aan God bekend.
Dikwels wil ons met die predikant en
met iemand anders oor ons probleme gaan praat.
Soms help dit, maar ons kan elke keer hulp kry wanneer ons (hardop en
desperaat) na God roep!
Strofé 3: Sy gees versmag in hom, maar hy weet God ken sy pad vorentoe.
Ja, God het ‘n plan vir elkeen van
ons, maar ons leef so ver verwyderd van Hom dat ons die pad en die plan byster
is – soos ook nou die geval is.
Strofé 5: Hier vind ons hoe dat Dawid in sy verlatenheid rondkyk of daar
nie iemand is wat hom kan help nie. Tot
sy verdriet ontdek hy dat niemand eers na hom vra nie. Niemand stel blykbaar meer in hom belang
nie.
Sy enigste troos is dat God hom steeds
liefhet en hom graag wil help.
Strofé 6: In sy nood roep(!) hy weer tot God. Dit was ‘n wanhoopskreet tot sy Skepper. Dit was die kreet van ‘n man wat besef vir
hom is die lewe verlore as God nie in guns aan hom dink nie.
Strofé 7: Hy smeek God om asseblief na hom te luister. Hy bely voor God dat hy swak is en homself
nie kan help nie.
Strofé 8: God moet hom uitlei en guns aan hom bewys. Hy besef dat God hom uit sy toestand kan red
en dat hy daardeur ook weer by sy mense guns gaan vind.
Kom dan, kom ons maak soos Koning
Dawid: Kom ons neem ons toevlug na God.
Hy wag vir ons!