·      Bly liewer in dit wat jy geleer het

Die Historiese Christus is ‘n ou versinsel van die 17e eeu

 

Die professore  kom met niks nuuts vorendag wanneer hulle praat van die Historiese Christus nie.  Hierdie denkrigting het al in die 17e eeu begin.

          Die hedendaagse geleerdes gee hoog op dat hulle hulself besig hou met wat genoem word  “Nuwe Hervorming.”  Dis ‘n loutere versinsel.

          Hierdie keer egter gee die (liberale) geleerdes nie om of hulle die Kerk gaan skeur en selfs vernietig nie.  Die propaganda van hervorming word wêreldwyd versprei.

          Met Leben Jesu-Forschung  word ‘n rigting in veral die Duitse teologie aangedui, waarvan die oorsprong in die Aufklärung lê, om agter die Jesus wat die Evangelies beskryf, na die historiese Jesus te soek soos Hy in Palestina gelewe en gewerk het.

          Daar word aangeneem dat die Jesus van die Evangelies ‘n produk van die teologie van die gemeente, d.w.s. van die apostels was.

          Reimarus (1778) word as die vader van dié rigting beskou.  Die Bybelse Ensiklopedie, bl. 416,  onder redaksie van proff. WH Gispen, BJ Oosterhoff, HN Ridderbos, WC van Unnik en ds P. Visser (Verenigde Protestantse Uitgewers), sê sedert Strauss het liberale teologie probeer om die raam van die historiese Jesus te vind d.m.v. bronnestudie van die (klein) Evangelie volgens Markus, wat die minste deur die gemeente-teologie beinvloed is.

          Die strewe van die Leben Jesu-Forschung , wat deur A. Schweitzer in Geschichte der Leben Jesu-Forschung  (1951) beskryf is, het verdwyn in net soveel subjektiewe gestaltes van Jesus as wat daar Lebens Jesu was.

          M. Kähler (1956), het ‘n verandering gebring deur te sê dat slegs die Christus wat deur die geloof uit die kèrugma bekend is, belangrik is.

          Alhoewel Kähler self gemeen het dat die Christus van die kèrugma dieselfde as die historiese Jesus was, het veral Bultmann en sy volgelinge hulle op hom beroep vir ‘n skeiding tussen die Christus van die kèrugma en die historiese Jesus, soos Hy in Palestina gelewe en gewerk het.

          Volgens Bultmann-hulle het die Evangelies weinig historiese waarde, maar is dit ‘n getuienis van die geloof in Jesus as die Christus van die vroeë Christelike kerk.

          Deur die gemeente se geloof het hulle die historiese Jesus gemitologiseer, dit is, gaan skuil agter die teologies en kèrugmatiese vervorming van die oorspronklike oorlewering.

          Leerlinge van Bultmann het die historiese waarde van die Evangelies tog weer hoër geag en het na die regte ewewig tussen die kèrugma en die historiese Jesus gesoek.

          Hierteenoor moet gestel word dat daar in die Evangelie weliswaar geen historiese Jesus is sonder die kèrugmatiese Christus nie, maar ook omgekeerd, dat daar geen kèrugmatiese Christus is sonder Jesus wie se historiese beeld in die Evangelies geskets word nie, aldus die Bybel Ensiklopedie.

          Die kerke loop leeg juis omdat die waarheid nie langer verkondig word nie.  Wat die jongste geleerdes en ander wil doen, is om die waarheid te verwater om ‘n nuwe sosiale kerkgemeenskap te skep.

          Soos hulle nou aangaan, bv. dat mens jouself ‘n Christen kan noem al glo jy nie meer in die maagdelike geboorte van Jesus nie, sy liggaamlike opstandig uit die dood of Hemelvaart nie, sal ons binnekort hoor dat die wedergeboorte, die doop en nagmaal ook nie langer van betekenis is nie.

          Die vraag wat gevra moet word is of hierdie geleerdes die Gees van God het, want wie die Gees nie het, kan die dinge van God nie verstaan nie.

          Die goeie raad om vandag aan die Christene te gee, is:  Bly in dit wat jy geleer was, want dit was en is steeds die enigste weg.

          Sou God in al Sy Liefde en Almag eeue lank toegelaat het dat ons voorouers ‘n verkeerde roete volg?  Sekerlik nie. Dis tyd vir die wedergeborenes om saam te staan en vas te staan!

 

Hosted by www.Geocities.ws

1