·
Bly liewer in dit wat jy geleer het
Die Historiese Christus is ‘n ou
versinsel van die 17e eeu
Die
professore kom met niks nuuts vorendag
wanneer hulle praat van die Historiese Christus nie. Hierdie denkrigting het al in die 17e eeu begin.
Die hedendaagse geleerdes gee hoog op
dat hulle hulself besig hou met wat genoem word “Nuwe Hervorming.” Dis ‘n
loutere versinsel.
Hierdie keer egter gee die (liberale)
geleerdes nie om of hulle die Kerk gaan skeur en selfs vernietig nie. Die propaganda van hervorming word wêreldwyd
versprei.
Met Leben Jesu-Forschung word ‘n rigting in veral die Duitse teologie
aangedui, waarvan die oorsprong in die Aufklärung lê, om agter die Jesus
wat die Evangelies beskryf, na die historiese Jesus te soek soos Hy in
Palestina gelewe en gewerk het.
Daar word aangeneem dat die Jesus van
die Evangelies ‘n produk van die teologie van die gemeente, d.w.s. van die
apostels was.
Reimarus (1778) word as die vader van
dié rigting beskou. Die Bybelse
Ensiklopedie, bl. 416, onder redaksie
van proff. WH Gispen, BJ Oosterhoff, HN Ridderbos, WC van Unnik en ds P. Visser
(Verenigde Protestantse Uitgewers), sê sedert Strauss het liberale teologie
probeer om die raam van die historiese Jesus te vind d.m.v. bronnestudie van
die (klein) Evangelie volgens Markus, wat die minste deur die gemeente-teologie
beinvloed is.
Die strewe van die Leben
Jesu-Forschung , wat deur A. Schweitzer in Geschichte der Leben
Jesu-Forschung (1951) beskryf is,
het verdwyn in net soveel subjektiewe gestaltes van Jesus as wat daar Lebens
Jesu was.
M. Kähler (1956), het ‘n verandering
gebring deur te sê dat slegs die Christus wat deur die geloof uit die kèrugma
bekend is, belangrik is.
Alhoewel Kähler self gemeen het dat
die Christus van die kèrugma dieselfde as die historiese Jesus was, het
veral Bultmann en sy volgelinge hulle op hom beroep vir ‘n skeiding tussen die
Christus van die kèrugma en die historiese Jesus, soos Hy in Palestina
gelewe en gewerk het.
Volgens Bultmann-hulle het die
Evangelies weinig historiese waarde, maar is dit ‘n getuienis van die geloof in
Jesus as die Christus van die vroeë Christelike kerk.
Deur die gemeente se geloof het hulle
die historiese Jesus gemitologiseer, dit is, gaan skuil agter die teologies en
kèrugmatiese vervorming van die oorspronklike oorlewering.
Leerlinge van Bultmann het die
historiese waarde van die Evangelies tog weer hoër geag en het na die regte
ewewig tussen die kèrugma en die historiese Jesus gesoek.
Hierteenoor moet gestel word dat daar
in die Evangelie weliswaar geen historiese Jesus is sonder die kèrugmatiese
Christus nie, maar ook omgekeerd, dat daar geen kèrugmatiese Christus is sonder
Jesus wie se historiese beeld in die Evangelies geskets word nie, aldus die
Bybel Ensiklopedie.
Die kerke loop leeg juis omdat die
waarheid nie langer verkondig word nie.
Wat die jongste geleerdes en ander wil doen, is om die waarheid te
verwater om ‘n nuwe sosiale kerkgemeenskap te skep.
Soos hulle nou aangaan, bv. dat mens
jouself ‘n Christen kan noem al glo jy nie meer in die maagdelike geboorte van
Jesus nie, sy liggaamlike opstandig uit die dood of Hemelvaart nie, sal ons
binnekort hoor dat die wedergeboorte, die doop en nagmaal ook nie langer van
betekenis is nie.
Die vraag wat gevra moet word is of
hierdie geleerdes die Gees van God het, want wie die Gees nie het, kan die
dinge van God nie verstaan nie.
Die goeie raad om vandag aan die
Christene te gee, is: Bly in dit wat jy
geleer was, want dit was en is steeds die enigste weg.
Sou God in al Sy Liefde en Almag eeue
lank toegelaat het dat ons voorouers ‘n verkeerde roete volg? Sekerlik nie. Dis tyd vir die wedergeborenes
om saam te staan en vas te staan!