Wie sal Lei…. Sal jy?
DIE
Bybel leer dat ons as Christene die sout van die aarde is. Vir sout om te kan
preserveer, moet dit oral deeglik versprei word. Dit beteken dat ons as
Christene by elke sektor van die samelewing
betrokke moet wees. Die Christen-stem moet oral gehoor word.
Steeds gaan stemme op
dat ‘n leier onder ons moet opstaan, maar, ons is eintlik elkeen ‘n leier. Dit is ons wat moet
verootmoedig en moet opstaan. Dadelik!
Die volgende pragtige
Bybelse verhaal laat die Volk na homself in ‘n spieël kyk.
Toe die
heerser, na 40 jaar van vrede in die land, dood is, het die mense van God
vergeet. Hulle het vergeet dat Goddelike leierskap groot seën vir ‘n land
beteken.
Tog het hulle skielik
nie meer omgegee wie die land regeer nie.
Die een wat sy stem die
dikste kon maak, kon maar regeer. Die een wat al sy teenstanders kon uitwis, hy
kon ook maar regeer. Die sterkste of
die slimste kon die troon bestyg. Dit het
die Volk min gepla.
So gaan Abimeleg dan
heen en dood 69 van sy volksgenote wat dalk aanspraak op die troon kon maak.
Net Jotam het ontkom, want hy het hom gaan versteek.
Die volk het stil geword
en uiteindelik Abimeleg by die terpentynboom van die gedenk-teken wat by Sigem
is gaan koning maak.
In plaas van vrede, voorspoed en seëninge, beleef die
Volk toe jare van verdriet, ellende en probleme onder Abimeleg se heerskappy.
Dit kon voorkom gewees het as die Volk
verenig het en God se aangesig gesoek het sodat die Here hulle kon lei
in hul besluite om die "regte” man tot koning te kroon.
Let nou mooi op na die
volgende. Jotam het op die berg Gerisim
gaan staan en sy stem verhef en uitgeroep en
aan die Volk gesê: "Luister na my, burgers van Sigem, sodat God na
julle kan luister ……?
En toe het hy hulle die
verhaal van die bome vertel.
Eendag het die bome
besluit om vir hulle ‘n heerser aan te
stel. Hulle besluit toe op die olyfboom en sê aan hom: “Wees koning oor
ons.”
Maar die olyfboom het
geantwoord: “Sou ek my vettigheid opgee
wat God en die mense in my prys, en oor die bome gaan swewe?"
Daarna het die bome weer
beraadslaag en wend hulle toe tot die vyeboom: "Kom, wees jy koning oor
ons."
Maar die vyeboom het
verskoning gemaak en gesê: “Sou ek my soetheid en my goeie vrugte
opgee……?"
Maar ‘n leier moes daar
wees en toe nader hulle die wingerstok: "Kom jy, wees jy koning oor
ons".
Die wingerstok antwoord
egter: "Sou ek my mos opgee wat
God en die mense vrolik maak .…..?"
Die tyd het aangeloop.
Niemand wou koning wees nie. Verskonings was volop. Uit desperaatheid wend
hulle hul toe na die steekdoring: “Kom, wees jy koning oor ons”.
En die steekdoring
antwoord: "As julle in waarheid my as koning oor julle salf, kom dan,
skuil in my skaduwee; maar so nie, laat daar dan vuur uitgaan uit die steek-doring en die seders van Libanon
verteer.”
Ongelooflik, maar waar,
die kleine steekdoring sou regeer oor die magtige seder, die statige olyf, die
soet vyeboom en die geurige wingerdstok.
Die steekdoring sou
sterk word en sy takke en dorings ver uitsprei totdat hy die ander bome in ‘n
wurggreep het.
Wanneer daar min water
was, sou steekdoring alles opgebruik. In die vlak grond sou hy sy wortels oral
uitsprei. Hy was selfsugtig en vraatsug, maar by die alles was hy koning net
omdat diegene wat meer vaardig was en geregtigheid sou laat geskied het, nie in
die koningskap belanggestel het nie.
So gaan dit vandag onder
ons mense. Die minder bevoegdes verkry die hoë poste reg deur Afrika, net omdat
wedergeborenes nie hul selfgesentreerdheid, morele en geestelike verval wil neerlê en hulle voor die Almagtige God wil
verootmoedig nie.
Daar is Volksgenote wat sê hulle behoort aan Jesus Christus,
hulle sê hulle is nie van hierdie wêreld nie. Hulle burgerskap is in die Hemel.
Hulle sit net en wag vir die Wederkoms. In die Hemel sal hulle wel regeer, sê
hulle.
Hulle sê hulle is bereid
om te sterf vir die Here, maar intussen
is dit juis God se roeping dat
hulle sal LEEF vir Hom. Die Here het hulle broodnodig hier op aarde. Ons word
in die eerste plek nie gered om Hemel
toe te gaan nie. Ons word gered om te dien, God te dien, Sy Koningkryk uit te
bou, om die aarde volgens Sy Wil te regeer!
Lukas 12:8 lees: ''Elkeen wat My sal bely voor die
mense (oral in die rade en komitees tot op elke terrein van die Volkslewe) hom
sal die Seun van die mens ook bely voor
die Engele van God." En, gaan
lees gerus ook vers 9.
Twee dinge is baie
belangrik: Een, dat ons die beste man in ‘n pos moet aanstel, die man of die vrou wat God se keuse is, iemand wat sy wysheid
en leiding van God verkry om te kan regeer, en tweedens, moet ons onsself
beskikbaar stel vir die poste in die Volkslewe.
Terloops, net so is dit
die Christen se taak om die Evangelie uit
te dra en die Koninkryk van God
te bou. Dit is nie die taak van die
predikant nie. Herders kry nie lammers nie. Skape moet lam. Die herder voed sy skape sodat die skape lammers kan kry,
ja, selfs twee- en drielinge.
Die instandhouding en
uitbouing van die Volksaak, loop hand aan hand met die instandhouding en die
uitbouing van die Koninkryk van God.
Lei jy?