Wat sê Die Bybel, Wie is EK?

 

DIE Bybel doen telkens ‘n beroep op ‘n mens om nederig te wees. Baie Christene het ‘n verkeerde persepsie hieroor en meen dat as hulle hulself verkleineer, hulle nederig is.

          So verstaan hulle dat wanneer die Skrif sê ons moet die HERE “vrees” dit beteken dat hulle vir GOD bang moet wees. Vervang egter die woord “vrees” met die woord “respekteer” en eensklaps is hulle persepsie omgekeer.

          Die sonde van ons tyd is wanpersepsies. Dit veroorsaak ‘n binding in ‘n mens se gees. Dit veroorsaak dat ons onder omstandighede lewe in plaas van bo die omstandighede. Kom ons kyk nou wat sê GOD, wie is ek!

 

·        Ek is GOD se kind want, ek is wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, (hoe?) deur die Lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly (1 Pet. 1:23);

·        Ek is ‘n nuwe skepsel, omdat ek nou in Christus is (11 Kor. 5:17);

·        Ek is verlos van die mag van die duisternis en ek is oorgebring na die Koninkryk van die Seun  van Sy Liefde (Kol.1:13);

·        Ek is losgekoop deur Christus van die vloek van die Wet (Gal.3:13);

·        Ek is deur GOD uitverkies nog voor die grondlegging van die wêreld (Efes. 1:4);

·        Ek is verlos deur Jesus se bloed (Efes. 1:7);

·        Ek is ‘n geroepe Heilige (Rom. 1:7);

·        Ek deel in Sy erfenis (Kol. 1:12);

·        Ek is triomfantelik (Openb. 21:7);

·        Ek is dood vir die sonde (Rom. 6:2);

·        Ek is ‘n uitverkorene (Kol. 3:12);

·        Ek is bevestig tot die einde toe (1 Kor. 1:8);

·        Ek is deur die Waarheid vrygemaak (Joh. 8: 31-33);

·        Ek is besny met ‘n besnydenis wat nie met die hande verrig is nie (Kol. 2:11; Det: 10:16; Filp. 3:3; Rom: 2:28-29);

·        Ek is met Christus gekruisig (Gal. 2:20);

·        Ek is gered deur die bloed van Jesus (1:14);

·        Ek lewe saam met Christus (Efes. 2:5);

·        Ek is saam met Jesus opgewek (Rom. 2:12);

·        Ek is ‘n getroue navolger van Jesus Christus (Efes. 5:1);

·        Ek is die Lig van die wêreld (Matt. 1:14);

·        Ek is die sout van die aarde (Mat. 5:13);

·        Ek het ‘n heilige roeping (2 Tim. 1:9);

·        Ek is meer as ‘n oorwinnaar (Rom. 8:37);

·        Ek is gewortel en opgebou in Hom en bestig in die geloof (Kol. 2:7);

·        Ek weet al my behoeftes is vervul (Phil. 4:19);

·        Ek het lewe en oorvloed (Joh. 10:10);

·        Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee (Fil. 4:13);

·        Ek jaag na die doel om die prys te verkry (Fil. 3:14);

 

          Mens hoor baie dat Christene sê: Onder die omstandighede gaan dit so en so. Ons is egter nie veronderstel om onder  die omstandighede te lewe nie, maar juis bo die omstandighede, op oorwinningsgrond!

          In 11 Kor. 2:14 lees ons: Maar dank GOD, want Hy laat ons altyd triomfeer in Christus. Boonop laat Hy die geur van Sy kennis oral deur ons versprei.

          Die “Amplified”-vertaling sê:  … Hy lei ons om altyd te triomfeer! Ons moet net bereid wees om ons te laat lei.

          Om nederlae te aanvaar, is om GOD se beste vir ons te verbeur. Te veel Christene lewe vandag as Verbondsvolk met veel minder as wat GOD se regte en voorregte vir hulle inhou.

          Om te triomfeer is ons geboortereg. Jes. 54:17 lees: Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. (Hoekom?) Want dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here.

          Waarom sou enigeen van ons ‘n nederlaag aanvaar wanneer  triomf ons legitieme reg is?

          Die Skrif sê GOD laat ons  altyd, en nie net soms nie, triomfeer. Dit beteken dit is nie GOD se Wil dat ons ooit ‘n nederlaag moet ly nie.

          Natuurlik is daar Christene wat nie altyd triomfeer nie, maar dis hul eie skuld as hulle ‘n nederlaag aanvaar. As ons onder druk toegee, dan is dit nie GOD se skuld nie.

Om altyd te kan triomfeer, beteken dat ons moet vasstaan in die geloof, moet weier om te twyfel, moet weier om ‘n nederlaag te aanvaar. Dit beteken dat ons tot volle wasdom in Christus moet groei.

·        Psalm 78:8-9,41 lees: dat ons nie koppig en wederstrewig moet word en ‘n onvaste hart en ontroue gees teenoor God moet openbaar nie. Want dit het die kinders van Efraim gedoen en toe  hulle die nederlaag aanvaar het deurdat  hul gewapende boogskutters omgespring het op die dag van oorlog.  En vers 41 sê: … hulle het GOD versoek en die Heilige van Israel gekrenk!

         

Dis tog nie wat ek en u wil doen nie. GOD wou hê dat hulle moes triomfeer maar hulle het teenspoed aanvaar. As ons weier om op te gee, dan sal ons beslis triomfeer!

          Psalm 27:13-14 lees: Wat sou tog gebeur het as ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie, en,  Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!

          Dit beteken die goedheid van GOD is die manifestasie van die teenwoor-digheid van GOD.

          Psalm 41:12 lees: Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het: dat my vyand oor my nie juig nie (triomfeer nie).

          Daar is geen wyse waarop die satan, ons kan verslaan nie, beslis nie wanneer ons in GOD se guns wandel nie!

          Psalm 5:13 lees: Want U seën die regverdige, o Here, U omring hom met welbehae soos met ‘n skild!

          Ons durf dus nie nederlae aanvaar nie. Ons slagspreuk moet wees: Nooit gee ek op nie!  Onthou, om altyd te triomfeer, is ons erfenis.

          Let op hoe Paulus vir die Liggaam van Christus, dit sluit u en ek  in, gebid het wat betref ons erfenis:

Kol. 1:9-14 … en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig!

          Bekwaam gemaak beteken deur aan ons volmag te gegee het, of ons te gemagtig het, om aan ons gesag te gegee het.

          Vers 13 lees: Hy het ons verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring na die Koninkryk van die Seun van Sy liefde.

          Kol. 2:15 lees: …. Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee het, en hulle in die openbaar ten toon gestel het en daardeur ook oor hulle getriomfeer het!

          Ons is dus as Sy kinders almal bemagtig, die gesag gegee, om te triomfeer. Dit is ons erfenis. Dit is ons reg. Ons triomfeer oor alle omstandighede. Ons is meer as oorwinnaars!

          Ons kan geen nederlaag ly as ons ‘n openbaring het van die verlossingswerk wat Jesus Christus op Golgotha vir ons bewerk het nie. Golgotha is GOD se meesterstuk.

          Niemand het Jesus vermoor nie want aan niemand is so ‘n voorreg ooit gegee nie. Nee, Hy blaas self Sy asem uit en Hy gee self Sy gees oor in die hand van die Vader.

          En die Hoofman oor Honderd skrik en met verwondering sê hy: Waarlik, dit was die Seun van GOD. Hoekom? Want dit was die eerste keer dat hy gesien het iemand besluit self wanneer om te sterf.

          Ja, Christus het selfs die dood oorwin en ons het dit ook reeds gedoen want geen Christen sterf nie, elkeen vertrek bloot na ‘n nuwe, ewige, lewe. Ja, ons moet selfs ons persepsies oor die “dood” verander.

          Wanneer ons, ons persepsies reg het, dan begin ons ook besef wat die verskil is tussen wasdom en onvolwassenheid. Dan besef ons wat die verskil is tussen melk en vaste spys – Hebr. 5:12-14.

          Rom. 8:20 lees: Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Die Grieks dui aan dat die woord kinders hier “volwasse” kinders bedoel.

          Die Ou Testament is letter en die Nuwe Testament is Gees. In 1 Kor. 3 vanaf vers 1, sê Paulus: Ek kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.

          En verder: Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe instaat nie, en julle is nou nog nie daartoe instaat nie (hoekom nie?) omdat julle nog vleeslik is (hoekom is julle nog vleeslik?) omdat daar onder julle nog jaloersheid, twis en tweedrag is.

          In Heb. 5:12 sê Paulus: Want hoewel julle vanweë die tyd reeds leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat mens julle die eerste beginsels van die Woord van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spyse nie.

          En verder: Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die Woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir die volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit (hoe verkry mens dit?) deur die gewoonte geoefen om goed van kwaad te onderskei.

          En verder: daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God.

          Wat is dan die pad van die volmaaktheid? Eenvoudig. Efes. 5:1: Wees navolgers van God, soos geliefde volwasse kinders, wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het, en Efes: 4:1 … wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra, en, ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van vrede.

          Dit verkry ons deur sensitief na die leiding van die Heilige Gees te luister, deur die Woord in diepte te bestudeer.

          Elkeen van ons, sê Efes. 4:7, is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus, daarom moet ons voortgaan op die pad van volmaaktheid sodat ons ook  kan word apostels, profete, evangeliste en herders (hoekom?) om, soos Efes. 4:12, die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en ons ook almal kom tot die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.

Lees weer die voorafgaande paragraaf stadig deur. En dan lees jy verder vanaf strofé 14: sodat ons nie meer kinders sou wees nie, wat soos die golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid en listigheid tot dwaling te bring…

          Sommige Christene kan so maklik ander oordeel aan sogenaamde sondes wat sigbaar is. Dit veroorsaak ‘n binding in hulle gees en hulle kan nie geestelik groei nie. Terloops: GOD sê Hy het die werk in elkeen van ons begin en Hy sal dit voleindig. Ons durf dus nie tussenbeide tree nie.

          Dieselfde Christen is dalk groter in die skuld, want, terwyl die ander Christen se sigbare “sonde” dalk nie eers sonde is nie, sit eersgenoemde met ‘n onsigbare sonde: ja, hy of sy is soos Jak. 1:6-7 sê: hulle sondig deur te twyfel. En dan is daar die waarskuwing dat iemand wat twyfel moenie dink dat hy iets van die Here kan ontvang nie.

          As u skuld het aan so ‘n onsigbare sonde soos twyfel, rig dan uself op, bely dit by die HERE, weier om langer te twyfel, en groei voort na wasdom.

         

         

 

         

 

Hosted by www.Geocities.ws

1