·       Onheilswolke pak op die horison saam

Christus se opdrag aan Sy kudde is

 – Moenie vrees nie!

 

Ons lewe in ‘n onstuimige wêreld, ‘n plofbare situasie waar geweld en onrus ter enigertyd in ‘n grootskaalse oorlog kan ontaard.  Barbarisme en terrorisme vier hoogty.  Onheil bedreig die voortbestaan van die aarde.

          Matt. 24:6 lees:  “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë.  Pas op, moenie verskrik word nie (moenie vrees nie), want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.

          “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.

          “Maar al hierdie dinge is die begin van die smarte.

          “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.

          “En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.

          “En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.

          “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.

          Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.

          “En hierdie Evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”

          Strofé 15 sê die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek word deur die profeet Daniël, sal selfs die Heiligdom binnedring.

          Daar is drie opdragte aan die gelowiges:

 

·        Moenie vrees nie

·        Volhard tot die einde toe, en

·        Verkondig die Evangelie

 

As jy soos Paulus daarin roem dat jy kind van God is, dan is hierdie uitdaging en hierdie drie opdragte vir jou.

Lees die hele Matt. 24 en jy sal besef dat wat gaan gebeur, buite ons beheer is.  God in sy Almag gaan optree.  Hy gaan sekere dinge laat gebeur, en saam daarmee eis Hy ons betrokkenheid met hierdie drie opdragte.

In hierdie laat uur waarin ons, ons bevind, duik noodwendig sekere vrae op:

 

·        Waarom ontbreek die dringendheid jou om hierdie opdragte uit te voer?

·        Het jy enige beplanning in hierdie verband?

·        Waarom sien jy kans om die gevaar te loop om onbetrokke te bly?

·        Waarom verloor jy die wedloop teen tyd?

·        Is die Evangelie nie die antwoord nie?

·        Is die wedergeboorte dan nie die oplossing nie?

·        Het jy ‘n huisaltaar?

·        Bid jy en jou en gesin saam?

·        Sien jy kans dat ander in die hel moet eindig terwyl jyself hoop om in Hemel te eindig?

·        Is jou lewe ‘n lewende getuienis vir Christus?

·        Dink jy God is tevrede met jou houding en jou situasie?

·        Waarom breek jy nie met die bande wat jou in jou gees bind nie?

·        Waarom verlang jy nie na volle vryheid in Christus Jesus nie?

·        Hoeveel verlore mense sal die dag voor die Groot Wit Troon jou verwyt, die vinger na wys en sê:  “Jy was toe al die tyd gered en jy het my nooit vertel nie!”

·        Waarom ken jy nie die Woord nie?

·        Waarom is jy nie met die Heilige Gees vervul nie?

·        Is jou kinders gered en dien hulle die HERE?

 

Die antwoorde lê in die redding van siele en die bou van die Koninkryk van God. Die antwoord lê nie in die bou van kerkgeboue nie, maar dat jy en ek as lewende boustene in die Heiligdom ingemessel word deur liefde.

          Komaan, maak wat Heb. 12:12 sê:  “Rig jou slap hande en jou verlamde knieë weer op, en maak reguit paaie vir jou voete, sodat wat nou kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word!”

          En dan volg jy dit op met Heb. 12:13:  “Jaag die vrede na met almal en die heiligmaking, waarsonder niemand die HERE sal sien nie.”

          En terwyl jy dit doen bly jy waaksaam sodat jy nie weer in die genade van God veragter nie, dat geen wortel van bitterheid weer by jou opskiet en onrus verwek en baie daardeur besoedel word nie.     

          Onthou, ons moet as gelowiges so naby aanmekaar leef, dat selfs die wind nie tussen ons kan deurkom nie. Job: 41:7.

          Wanneer jy in die volheid van die Heilige Gees beweeg, sal jy ook geen vrees hê nie want, die HERE het jou nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. 2 Tim. 1:7.

          Ons moet vir mekaar bid, mekaar se laste dra, vir mekaar intree in gebed, mekaar seën.  Wanneer laas het jy jou man, jou vrou, jou kinders geseën? Het jy al jou vriend geseën?  En jou buurman?  En jou familie?  Daardie vrymoedigheid kan jy net in Christus Jesus hê.

          Die tyd waarin ons onsself bevind, roep om ‘n magtige geestelike herlewing, ‘n onvoorwaardelike terugkeer na God.  Doen dit self en begin ernstig bid dat dit van jou af wyer uitkring.

          God bewys sy liefde en genade oor en oor aan jou.  Wanneer gaan jy jou liefde teenoor Hom betoon?

          Wanneer jy by die Groot gebod, Liefde, wat Hy ons nagelaat het, uitkom, dan sal jy ook met vrymoedigheid soos die Psalmdigter kan sê:  Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe. Inderdaad!

         

         

         

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hosted by www.Geocities.ws

1