DIE sonde van ons tyd is wanpersepsies. Dit is nodig om let op die verskille tussen die geestelike- en
die menslike vlak.
Die menslike vlak sê:
Verset, weerstand, veg, ja, selfs oorlog. Die geestelike vlak bied egter ‘n
heel ander prentjie.
Die Bybel leer dat niemand die Christendom enige skade
kan berokken nie. Die Christendom kan net homself skade berokken deur verkeerd
op tree op aanvalle teen hom.
Dit is Skriftuurlik dat
die Christendom die gesag wat oor hom gestel is, sal erken en hom sal onderwerp
aan daardie gesag.
Die Liggaam se
lojaliteit aan Christus word juis gekenmerk aan sy Skriftuurlike gehoorsaamheid
om byvoorbeeld die gesag van die Staat te erken en hom as Liggaam aan daardie
gesag te onderwerp, al sou daardie Staat selfs Kommunisties van aard wees!
Kortom, dit gaan hier om
een van die mees miskende dope van Die Bybel, die lydingsdoop.
Onder die tussenhoof
"Pligte van Christelike Diensknegte" in 1 Petrus 2:18, staan:
"Diensknegte, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan
die wat goed doen en vriendelik is nie,
maar ook aan die wat verkeerd is."
Vers 19: "Want dit
is genade as iemand, ter wille van die gewete, leed verdra, deur onregverdig te
ly."
Vers 20: "Want
watter roem is daar wanneer julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan
word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly –
dit is genade by God."
Vers 21: "Want
hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle
'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle Sy voetstappe kan navolg."
Vers 20 sê duidelik dat
dit 'n sonde is om nie die Owerheid se gesag te erken nie. En al sou die
Owerheid verkeerd wees, en die Christen as gevolg daarvan skade ly, dan moet die
Christen dit nogtans aanvaar en ly.
Die Christendom word
juis gesuiwer deur middel van die lydingsdoop. Om die lydingsdoop deur te gaan
is 'n roeping(!) want, sê die Skrif: "Hiertoe is julle geroep!
Vanaf vers 21 lees ons
dat Christus ook onregverdig gely het. Ons lees te meer nog dat Christus selfs
(boonop) sonder sonde was. Ons wat dan sonde doen, hoeveel te meer moet ons nie
die roeping van die lydingsdoop waardig wees nie? Die lydingsdoop bewerk ware
verlossing, bevryding.
In Suid-Afrika bevind ons
onsself in 'n demokrasie waar vryheid van spraak deel van die Grondwet uitmaak.
Dit is dus heeltemal binne orde om op Christelike toon, diplomaties en taktvol
aan die Owerheid te sê dat ons met hom
verskil en waarom.
As die Owerheid egter
voet by stuk hou en nogtans "ongewenste" wetgewing en optredes
deurvoer, dan is ons geroep(!) om dit te aanvaar, al maak dit ook hoe
seer. Die Liggaam, ook genoem die Kerk,
mag dus die Staat tereg wys, vermaan, maar hy durf nie die Staat teengaan nie.
Hierdie besondere
roeping, die lydingsdoop, is 'n voorbeeld wat Christus aan Sy Liggaam nagelaat
het en God verwag van ons om Christus se voetstappe na te volg.
Het die grootste seën in
die wêreld – die verlossing en versoening bewerk deur Jesus Christus –
dan nie gekom juis vanweë die grootste onregverdige lyding nie? Selfs
Christus kon weerstand bied en ‘n legioen Engele opdrag gee om hom te verlos.
Christus het selfs 'n
verraaier in Sy midde gehad. Hy het geweet wie die verraaier is, maar Hy het
die man nooit gekonfronteer nie.
Inteendeel, Christus het
die verraaier geignoreer, en Sy aandag by Sy eie missie – om die wil van Sy Vader te volbring –
bepaal, en geslaag!
Hy is sonder verset,
sonder wraak, sonder teenstem, deur die lydingsdoop. En, wat 'n fantastiese
oorwinning was dit nie! Die beker is nie by hom verby nie. Hy moes dit ledig.
Die Christendom het ook
'n missie om die wil van die Vader te volbring. Dis waar ons aandag hoort.
Lees maar die drie boeke
van Johannes en sien self waar skiet ons te kort. Ons het nog nie eers die
Liefde onder mekaar volbring nie.
Die Christen, of dan die
Liggaam, het sekere roepinge om op aarde te vervul: Die uitdra van die Evangelie
van Jesus Christus en dit wat daarmee saamgaan soos byvoorbeeld
barmhartigheidswerk, liefde, die dra van mekaar se laste, bid vir mekaar, ens.,
en ten tweede om die suiweringsproses, die lydingsdoop, deur te gaan, want,
wanneer Christus kom, kom hy om Sy Bruid te haal, 'n Bruid wat sonder vlek of
rimpel sal (moet) wees.
Wanneer die Here sê:
“Ter wille van My naam sal julle vervolg word,” dan is dit nie 'n waarskuwing
nie, maar 'n belofte!
Dieselfde geld wanneer
die Here sê: “In die wêreld sal julle verdrukking hê,” maar hou goeie moed, Ek
het die wêreld oorwin.
Die geestelike lewe, die
lewe in Christus, is beslis die interessantste wat enigeen ooit kan beleef.
Hoor wat sê die Here in
Openbaring 8 -11: “En sal God nie Sy uitverkorenes wreek wat dag en nag na Hom
roep nie?”
Natuurlik! Let op hoe
duidelik die Skrif dit stel wanneer die Staat, of watter gesag ook al,
onregverdig teenoor die gelowiges optree.
Dit is dan wanneer God
aan die Staat, of watter gesag ook al vyandig teenoor die Liggaam van Christus
staan, sê: "Vir sovele soos julle dit aan die geringste van My doen, doen
julle dit aan My." Matt. 25:45.
En aan die een wat die
lyding deurloop, sê die Here: “Onthou, aan My kom die wraak toe. Ek sal
vergeld."
Verder sê die Here:
"Bid vir julle gesag sodat julle in vrede kan lewe." Hoop vurige kole op sy hoof op. Rom: 12:20.
Wanneer die Christen te
na gekom word, vervolg word, durf hy
dit nooit in 'n negatiewe lig sien nie, maar eerder as 'n besondere seën, 'n
toets van Bo, en ons moet sekermaak dat ons die toets slaag.
Dit is seker die
vernaamste wyse waarop die Here sy Liggaam hier op aarde suiwer.
Titus 3:1-2 lees:
"Herinner hulle daaraan om onderdanig te wees aan owerhede en magte, om
gehoorsaam te wees, bereid tot elke goeie werk; om niemand te belaster nie, nie
strydlustig te wees nie, vriendelik te wees en aan alle mense alle
sagmoedigheid te bewys."
'n Verdere
interessantheid vind ons in Gen. 15:13 "Daarop sê God vir Abram: “Weet
verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie
behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word, vier honderd jaar
lank."
Dis God self wat so
besluit het, al klink dit ook hoe verskriklik. Sou ons 400 jaar se verdrukking
kon deurstaan, boonop deur diensbaar te wees en deur toe te laat dat ons
verdruk word deur 'n vreemde owerheid?
Maar vers 14 is 'n
juweel, wanneer die Here sê: "Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie
die volk diensbaar moet wees...."
Die een oomblik stel die
Here 'n vyandige Volk oor Sy eie Volk aan, aan wie Sy Volk noodgedwonge
diensbaar moet wees, maar die volgende oomblik sê die Here aan die vyandige
volk: Pasop hoe julle My Volk behandel, want
Ek sal daardie nasie wat Ek oor My Volk aangestel het, oordeel!
Kan u nou verstaan dat
God deurentyd in beheer van sake is?
Daarom, niemand kan die
kind van God, God se Volk, enige skade berokken nie. Die Christen kan net
homself skade berokken deur met die verkeerde reaksie te kom op die aanvalle of verdrukking teen hom. Verstaan u nou
wat dit beteken om die ander wang te draai?
In Rigters 6:1 sê God
aan Gideon: Maar, toe die kinders van Israel gedoen het wat verkeerd was in die
oë van die Here, het die Here die kinders van Israel OORGEGEE in die hand van
die Midianiete – sewe jaar lank!
Sewe jaar lank! Dis mos
nie nodig om langer vrae te vra nie. Ons eie situasie moet vir ons mos nou meer
duidelik wees as ooit te vore.
Dit lei geen twyfel nie.
Die Christen moet hom onderwerp aan die Owerheid wat oor hom aangestel is.
So, loof die Here, bid
vir die owerheid, dien die Here. Alles is nog lank nie verlore nie. Dit lyk
maar net so.
Die prentjie word verder
ingekleur wanneer God ons verbied om te vergeld. God sê dat Hy 'n jaloerse God
is en dat die wraak Hom (alleen) toekom.
Met ander woorde, terwyl
ons wraak wil neem met allerlei verset en optredes, staan God terug, want ons
probeer doen wat God sê sy eksklusiewe reg is. Die Christen moet sy verstand
afskakel sodat hy kan hoor wat die Gees van God aan hom wil sê.
Wanneer die Here sê dat
Sy Liggaam vir die regering moet bid, dan is dit 'n opdrag wat eenvoudig
uitgevoer moet(!) word, al is dit ook hoe moeilik. As daar nie vrede in die
land is nie, dan is dit heelwaarskynlik omdat die Liggaam nie vir die regering
bid nie.
Die Here is in beheer
van die koning. In Spreuke 21:1 lees ons: "Die koning se hart is in die hand van die Here soos
waterstrome; Hy lei dit waarheen Hy wil."
Die nuwe vertaling lees:
"Die Here kan 'n koning se gedagtes net so maklik beheer soos water in 'n
leivoor en dit stuur in die rigting wat Hy wil!” Skitterend!
So, kom maar gerus u
plig en opdrag na en bid vir die Owerhede. Hulle dink maar hulle is in beheer.
Luister wat sê Psalm 149
oor “Lofgesang en Oorlogswaard”:
Halleluja! Sing tot
eer van die Here ‘n nuwe lied,
Sy lof
in die vergadering van die gunsgenote!
Laat
Israel hom verheug in sy Maker;
Laat
die kinders van Sion juig oor hul Koning!
Laat hulle Sy naam loof in koordans,
Hom
psalm sing met tamboeryn en siter.
Want
die Here het ‘n welbehae in Sy volk;
Hy
versier die ootmoediges met heil.
Laat
die gunsgenote juig in heerlikheid;
Laat hulle jubel op hul bedde.
Lofverheffinge van God is in hulle keel,
en ‘n tweesnydende swaard in hulle hand;
Hoekom?
om wraak te oefen onder die heidene,
strafgerigte onder die volke;
om hulle konings met kettings te bind
en hulle edeles met ysterboeie;
om ‘n vonnis wat opgeskrywe is,
aan hulle te voltrek.
‘n Eer is dit vir Sy gunsgenote!
Halleluja!
Dus, nie deur krag of
geweld nie, maar deur lofprysinge aan die God van ons heil. Lofprysinge is ‘n
tweesnydende swaard: Terwyl ons God loof, oefen ons ook wraak uit onder die
heidene, strafgerigte onder die volke, om hulle konings in kettings te bind en
hulle edeles met ysterboeie…… Waarom? Om ‘n vonnis te voltrek wat reeds
opgeskrywe is!
Dit moet onthou word: Terwyl die Liggaam van Christus
onregverdig ly, is die hoeksteen van God se heerskappy op aarde, juis Sy
onbeperkte en onverskrokke geregtigheid.
Die morele wet is so
onveranderlik soos die natuurlike wette: Wat die mens saai sal hy maai. Gal.
6:7.
Net soos die Wet op
swaartekrag nie verbreek kan word nie, net so kan die wette, verordeninge en
insettinge van God, ook nie verbreek word nie. Die een wat hier oortree, bring
'n oordeel oor homself. Onthou Sy waarskuwing: Dis vreeslik om te val in die
hande van die Lewende God!
Dit beteken, ons moet
ook uiters versigtig wees hoe ons teenoor mekaar optree.
Ons dink altyd
verootmoediging gaan oor ons sondes teenoor die Here, maar om dit te bely is
nie genoeg nie. Ons moet ook ons misdade wat ons teen mekaar gepleeg het, bely.
Kyk na die volgende: 1 Petrus 3: 8-9.
Wees almal eensgesind, medelydend, VOL Broederliefde,
en ontferming,
vriendelik. Vergeld geen kwaad vir kwaad of skelwoord met skelwoorde nie...... maar
INTEENDEEL.........................Seën mekaar!
Waarom? Want hiertoe is
julle G E R O E P!!!
Hoekom? OM SEëN TE KAN
BEëRWE!
Ons mis ons ROEPING. Ons is GEROEP om mekaar te
SEëN. Omdat ons ons roeping mis, daarom is ons nie eensgesind nie, nie medelydend nie, nie VOL
Broederliefde nie, ontferm ons ons nie
oor mekaar nie, is ons nie vriendelik nie. Bid ons nie vir mekaar nie, dra ons nie mekaar se
laste nie.
Inderdaad is ons gedurig
besig om in een of ander vorm kwaad met kwaad te vergeld, en maak ons ons
skuldig daaraan om skelwoord met skelwoorde te vergeld.
Ons MIS ons ROEPING. Dis
'n SONDE. Dit vra om diepe verootmoediging teenoor God, maar groter nog, teenoor MEKAAR!
Ons kan nie seën beërwe
nie, want ons seën nie mekaar nie. Wanneer het een van ons ooit 'n ander
geseën? Ons doen dit nie.
Ons beroof onsself
van seëninge. Ons beroof mekaar
van eensgesindheid, van medelye, van ontferming, van volle
broederliefde, van vriendelikheid. Ons is
slagoffers van ons eie optrede.
Daarom, verootmoediging
teenoor God moet geskied, maar ons moet ook ons saak met mekaar regmaak en dit
reghou.
Ons mis ons ROEPING!
Ons mag nooit
as kinders van die Here in konflik teenoor mekaar staan. Die Liggaam en
die Staat, die Christen en sy gesag, mag ook nooit in konflik teenoor mekaar
staan nie.
Die Christen vergeet so
maklik, maar dit is noodsaaklik dat die Liggaam, bewus bly van die Vader se
regverdigheid en geregtigheid, want so verseker 'n mens dat jy nooit in die
versoeking kom om self te wil vergeld nie.
Ons moet versigtig wees
dat ons nie ten gronde gaan weens 'n gebrek aan kennis nie.
In plaas van vergelding,
moet die Christen eerder bid: "Vader, vergewe hulle want hulle weet (tog)
nie wat hulle doen nie." Dan gryp God in!
Vir die Christene om
teen die Staat op te tree, is dieselfde as om die Staat by die Satan aan te
kla. Daar sal nie 'n verhoor wees nie.
As die Christen God se hand in beweging wil sien kom, begin
dan onder andere bid vir die Owerhede.
Ons moet God meer
gehoorsaam wees as die mens. God sê aan die een wat Sy kind mishandel: Vir
sovele soos wat hulle dit aan die geringste van My doen, doen hulle dit aan My,
en onthou, My kom die wraak toe, Ek sal vergelde sê die Here.
Twyfel u nog? Rom. 13:
vanaf vers 1 lees:
"Laat elke mens hom
onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe
van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
"…… sodat hy wat
hom teen die mag van God versit, die instelling van God weerstaan; en diegene
wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang.
"want die Owerhede
is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die
slegte......."
As mens jou dus verset
teen die owerhede wat oor jou aangestel is, dan sondig jy teen die Here, want
die Here is in beheer van daardie owerheid.
Laat ons dus voortgaan
om die Here te behaag deur alles wat ons sê en doen, Hom te verheerlik. Kom ons
onderhou weer Sy insettinge, Sy verordeninge. Kom ons verbly die hart van die
Here.
Ons sal onsself nie net
voor God moet verootmoedig nie, maar ons sal ook moet terugkeer na ons eerste
liefde:
"Jy moet die Here
jou God liefhê met jou hele hart, en met jou hele siel en met jou hele verstand
en uit jou hele krag, en jou naaste (mekaar) soos jouself".
Die liefde wat onder ons moet heers, is net
nie langer daar nie. Ons eerste liefde het verflou. Ons het kragteloos geword,
soos sout wat laf geword het.
Die strafgerig is egter
nie daar om ons te vernietig nie, maar juis om ons terug te kry op die plek
waar ons hoort.
Met menslike liefde sal
ons nie kan slaag nie. Petrus kon ook nie.
Toe Christus Goddelike
(Agape) liefde bedoel het, het Petrus menslike (fileo) liefde verstaan. Daarom
dat hy so maklik gesê het: “Ja Here U weet ek het U lief.”
Toe die toets kom, moes
hy in trane na die gekraai van die haan luister.
Daar is diegene wat
redeneer dat ons nie geroep is om te ly nie, maar om te oorwin. Feit is dat ons
in Christus Jesus reeds oorwin het. Deur onreg te ly is deel van die oorwinning.
En as die regerende
gesag ons sou verbied om die Bybel te lees en die Vader te aanbid, dan moet ons
die Vader meer gehoorsaam wees as die mens. Dan gaan ons voort om die Bybel te
lees en die Vader te aanbid, en, as ons as gevolg daarvan deur die regerende
gesag gestraf sou word, dan is dit bloot deel van die lydingsdoop.
Mag hierdie skrywe 'n ewewig, 'n
korrekte persepsie, 'n nuwe visie, nuwe
moed, 'n nuwe ywer, in die midde van ons mense plaas.
Laat die Liefde heers!