Pieter Erasmus het in 1699 die plaas Groenenberg naby vandag se Bovlei, Wellington, van Simon van der Stel gekry. Die plaas staan nou bekend as Onverwacht in die Bovlei. ('n Bondige verwysing is in "The Old Buildings of the Cape" van Fransen en Cook, bladsy 240).
Sasa Malan het in die KAB gaan kyk na die ou lyste van Kaapse inwoners - die VC39 en VC49, lêers wat oorgeskryf is - en die volgende daar gekry:
| 1692 | Pieter den Deen (die vroegste moontlikheid). |
| 1693 | Pieter Erasmus (geen Pieter den Deen). |
| 1694 | geen lys. |
| 1695 | Pieter Jerassemus (Drakenstein - geen P d D). |
| 1696 | Pieter Erasmus (Drakenstyn - geen P d D). |
| 1697 | geen lys. |
| 1698 | Pieter Erasmus (Drakenstyn - geen P d D). |
| 1699 | niks oor PE of P d D. |
| 1700 | Pieter Erasmus en Anna (sic) Elisabeth (Stellenbosch; geen P d D); Eerste melding van 'n vrou maar die Opgaafrol sê hulle het 1 seun en 1 dogter. |
| 1701 | niks oor PE of P d D. |
| 1702 | Pieter den Deen met vrou en 3 kinders (geen Pieter Erasmus; die laaste van P d D). |
| 1703 | Pieter Erasmus en Maria Jooste (voortaan onder Drakenstyn). |
| 1703 | (weereens) - Pieter Jerasmusz en Maria Elisabeth. |
| 1704 | Pieter Erasmus en Maria Pieters. |
| 1705 | Pieter Erasmus en Marij Joosten. |
| 1706-09 | Pieter Erasmus en Maria Elisabeth. |
| 1710 | Pieter Erasmus en Maria Lysbeth. |
| 1711 | Pieter Erasmus en Maria Elisabeth Joosten. |
| 1712 | Pieter Erasmus en Maria Elisabeth - Opgaafrolle sê hulle het 4 seuns en 4 dogters. |
| 1723 | Maria Elisabeth verskyn vir die laaste keer - die jaar van haar dood. Nou ook vir die eerste keer hul oudste seun selfstandig as Erasmus. Pietersz Erasmus; net daaronder, die toekomstige skoonseun, Carel Pietersz de Jager. |
| 1724 | Pieter Erasmus met Erasmus Pieters Erasmus, Laurents Pietersz Erasmus (die eerste keer) en Carel Pietersz de Jager. |
| 1725 | Dieselfde vier, maar nou saam met Carel de Jager ook sy vrou, Hester Erasmus. |
Sasa lewer die volgende interpretasie:
Dit lyk dus nou Pieter Erasmus en Pieter den Deen dalk dieselfde mens sou kon wees, maar . . . nog iets wat opval, is dat Maria Elizabeth se van blykbaar nie baie seker staan nie. In hierdie tyd het daar darem selfs toekomstige stamvaders uit Nederland gekom sonder duidelikheid oor hulle vanne (Louw en Smuts kan ek aan dink). Daar was gissings dat Maria dalk van slawe-afkoms kan wees (omdat sy nie 'n van gehad het nie??), maar daar word nooit in hierdie lyste na haar verwys as "van de Caab" nie, wat maar net sê dat sy waarskynlik nie hier gebore is nie.
Terwyl ek nou aan die gang is: ek dink nie 'n mens kan teveel waarde heg aan elke spellinkie of lettertjie nie. Ek stel my voor die beampte wat moes lyste opstel, het dalk sommer vir die bure gevra "Woon Erasmus nog daar oorkant? En wat is nou weer die vrou se naam?"
Die naam Laris: dit is soms ook Larius en in sy testament (MOOC 7/1/20 - 33) is hy Elardus (Pieters) Erasmus. Sy broer Lourens vernoem hom en dit word in Daniel Elardus se nageslag 'n baie gewilde naam.
Erasmus Hanz se woonplek kry 'n mens op 'n kaart ander kant Helshoogte - van Stellenbosch af. Daar is ook 'n Erasmus Hansz vanaf Lier, maar hy verskyn saam met Pieter Erasmus en hulle is dus twee persone (Hierdie man het 'n ruk lank 'n plaas aan Simonsberg naby Stellenbosch dink ek, gehad; dit lyk egter nie of hy 'n vrou en kinders gehad het nie.)
Iemand anders in die opgawes oor wie 'n mens kan wonder is 'n Asmus Hans van Lier (VC 39 deel 1 p. 82; 1688), wat seker heel moontlik dieselfde is as Erasmus Hans. Dan is daar ook Laurens Asmus van Tonningen (VC 39 deel 1 p.38; 1670 en p.41; 1671); daar is so 'n plek in wat destyds Denemarke was maar nou deel van Duitsland.
Augustus anno 1656
15 dito....
Weijnich voor den avondt gebeurde van dito boots volck een deerlijk ongeluck, als nemend een matroos, genaemt claus de logie, een vuijr roer inde handt dat, geladen sijnde met hagel, onversiens los sprongh ende een ander persoon, genaemt Erasmus Erasmusz., achter int hoof soodanigh treften datter den selven omtrent 2 uijren daer nae aff stierff. Des die 't gedaen hadt in apprehentie gestelt ende last gegeven is om vande saecke te nemen behoorlijke informatie, etc., doch is niet anders cunnen vernomen worden als een onnosel ongeluck te sijn...
Daar word na twee weergawes van die dagboek-transkripsie verwys "Haagse hs" en "Bosman". Volgens die voetnotas die volgende:
Erasmusz.: H. het net Jerasmus(!) met oopgelate ruimte vir Erasmusz.; so gelaat deur Bosman.
Volgens die betrokke Resolusie was dit Jerasmus Teunisz, van Tonsbergen (Noorweë).
Bronne