Louisa Erasmus (b3c8), weduwee van den Burg


Louisa was die weduwee van Stephanus van den Burg (b4) ~20-4-1740. Hulle was getroud op 2.11.1766. Stephanus was 'n seun van Roelof van den Burg van den Haag en Catharina Erasmus, weduwee van Jan Janse Mulder; Catharina was b6, Louisa se vader Lourens se suster.

SAG Vol 1 p511 gee Lousia en Stephanus se gesin soos volg aan:

Sasa Malan het die volgende artikel in 2001 vir Capensis geskryf het oor Louisa:

 


Louisa Erasmus, weduwee van den Burg (*19.11.1743 – +c1818)
Die veelbewoë lewe van 'n gewone pioniersvrou
soos dit neerslag gevind het in die Kaapse Argiefbewaarplek.

Op soek deur die ou landdrosargiewe in die Kaapse Argiefbewaarplek na inligting oor die lewe van een van my voorvaders, het briewe oor en deur sy een suster telkens my oog gevang. Metteryd wou Louisa my glad nie laat los nie. Uit die moeisaam geskrewe briewe van gewone mense aan die landdros van hul distrik, kry ons vandag dikwels die enigste inligting oor hoe ons ongekunstelde voorouers die probleme van hul omstandighede verwerk en op hul medemense gereageer het.

Louisa Erasmus was 'n kind van die Warm Bokkeveld ook soms genoem "Agter de Bokkeveld" geleë agter die Witsenberg, op die pad van die huidige Ceres na Matjiesfontein. Uitkoms waar haar mense gewoon het, was kortby Karoopoort waar daar 'n geproklameerde uitspanning was vir reisigers na die noordelike binneland. Vandag is Uitkoms nie op die hoofpad nie maar op die sypad oor die Swaarmoedpas en verby Lakensvlei waar die sneeu in die winter so diep lê dat "warm" Bokkeveld misleidend is.

Lourens Erasmus (b3) en Martha Pienaar (b2c2) se "Uitkomst" was uit Kaapstad, en vanaf Tulbagh waar hul naaste kerk was, slegs bereikbaar deur die afskrikwekkende Mostertshoek, waar die Mitchellspas nou is, of oor die Witsenberge waar vandag niks meer as 'n voetpad is nie. Maar hulle oë was waarskynlik gerig in die teenoorgestelde rigting waar daar weiding was vir hul skape in die wye Karoo en op die hoë Roggeveldplato. Die gesin moes dikwels saam met die vee trek en by hul wa in die veld huis-opsit.

Louisa oor wie die storie gaan, was die sesde kind in 'n gesin van dertien; sy het tien broers en twee susters gehad. Toe die jongste broertjie twee was, is die pa Lourens oorlede (1). Martha het die gesin verder alleen groot gemaak; sy en haar kinders het die boerdery behartig. Met haar dood in 1798 was haar boedel nie onaansienlik nie en al haar kinders was onafhanklik. Die meeste van hulle het ver die binneland in met hul vee gewoon; die jongste, Abel Jacobus, het op Uitkoms bly woon en die opstal uit die boedel gekoop (2).

Louisa is in 1766 (3) getroud met haar neef, Stephanus van den Burg (~1740), enigste seun van haar pa se suster, Catharina, en haar tweede man, Roelof van den Burg afkomstig uit Den Haag. Watter soort mens was Louisa se man?

Soos van die meeste gewone mense van sy tyd, is daar min bekend oor Stephanus van den Burg. Volgens die monsterrolle moes hy gereeld militêre oefening bywoon en gewoonlik was hy in dieselfde kompanjie as een of meer van sy veelvuldige swaers: in 1768, nou reeds pa van 'n dogter, was hy saam met swaer Jacob 'n dragonder by kaptein Adriaan van Brakel; in 1774 was hy saam met Carel, Jacob en Philip onder Joost Rynhardt van As; in '79, '81 en '84 kry ons die vier nog in Van As se afdeling. Stephanus moes dus fiks en gesond gewees het (4).

En hoe was hy verder? In 1767 was hy blykbaar in 'n dispuut met Gerrit van Emmenis oor koring wat hulle om 'n deel gesaai het. Dit was toe nodig vir Jan Lowies du Plessis van die Wagenmakersvallei om namens Van Emmenis te verklaar dat hy, terwyl hulle koring gesny het, vir Stevan van den Burg gevra het op welke kondisie hy, Van den Burg, met Van Emmenis gesaai het, waarop Stephanus gesê het dat Van Emmenis "een derde by hem heeft gezaajid"(5).

Heelwat later, in 1791, kla Johan Adam Raubenheimer wat uit die Swartberg 'n kommando moes organiseer, dat van sy manne geweier het om op te trek, onder andere Stevanis van den Burg (6).

Verre sy dit van my om uit hierdie skamele gegewens af te lei dat Stephanus van den Burg 'n moeilike man was!

Louisa en Stephanus het hul getroude lewe dus waarskynlik begin iewers in die Wagenmakersvallei, wat tans Wellington se wêreld is, en waar hy in 1767 met Van Emmenis in aanraking was. In 1762 het hy en Louisa egter toestemming gehad om op "Tygercatteboschvalleij gelegen in de Slangehoek” te boer. Slangehoek is seker die vallei naby Goudini. Teen 1772 was die plaas egter deur hulle verlaat (7).

In hierdie jare word hul woonplek egter by die doop van hul kinders aangegee as Land van Waveren wat dui op Tulbagh of selfs die Warm Bokkeveld en verder die binneland in – Graaff Reinet het nog nie 'n gemeente gehad nie (8).

Tussen 1777 en 1784 is Stephanus in die padmaakspan van sy swaer Pieter Erasmus; hulle is verantwoordelik vir die pad tussen die Vogel- en die Sondagsrivier wat daarop dui dat hulle in dié omgewing gewoon het (9). Die Hoop van Afrika waarop hy leenreg gehad het, lê trouens aan vandag se Vogelrivier wat by die huidige Pearston in die Oos-Kaap verby loop. Teen hierdie tyd was Stephanus en Louisa dus deel van die bevolkingsuitsbreiding na die Oosgrens van die Kaapkolonie.

In Januarie 1795 is Stephanus in die ouderdom van ongeveer 55 jaar oorlede. Louisa en vyf van hulle kinders het agtergebly met 'n batige saldo van Rx1872 uit die boedel (10).

Daar het dus darem iets oorgebly nadat die "Edele Kompanje" hier sy kans waargeneem en agterstallige "recognitie" van altesame Rx1527 geëis het vir die gesin se woonplekke oor die jare. Dit gee 'n mens 'n goeie idee van waar hulle was: Die skuld was vir 22 jaar en 4 maande op "Scholtzcloof geleegen over Leeuwen Rivier", vir 21 jaar en 5 maande op Hoop van Afrika "geleegen aan de Heemraads Rivier onder de Bruyntjes Hoogte", vir 13 jaar en 10 maande op "Renosterfontein geleegen in die Zwarteruggens" (11) en vir 6 jaar en 7 maande op Buffelshoek "geleegen over de Sneeuwberg".

Op elkeen van hierdie plase was 'n opstal, want soos die meeste boere het hulle waarskynlik van een plaas na die ander verhuis agter weiding aan – en miskien ook weg van die "Bosjesmanne". Die waardasie van die opstalle gee 'n idee van die relatiewe grootte en gehalte van die geboue: Scholtzkloof Rx666, Hoop van Afrika Rx200, Renosterfontein Rx50 en Buffelshoek Rx100. Op Buffelshoek moes die boedel nog Rx400 ("Caabsche waarde") betaal aan die vorige eienaar, Pieter Erasmus Laurentszoon, Louisa se oudste broer (12).

Selfs in hedendaagse terme is hierdie plekke waar hulle blykbaar gelyktydig geboer het, baie ver uit mekaar – ten minste vanaf Prins Albert tot by Pearston.

Wat was die lief en leed van hulle lewe? Ongelukkig is daar gewoonlik slegs die leed opgeteken en van die lief nie meer as huwelike en dope nie. Benewens sonde met die bure is die grootste neerslag van die lewe van die gewone mense in die "Briewe aan die Landdros", strooptogte deur die "Bosjesmanne".

". . . van Daniel Erasmus vier paarde van de rovers weggenomen en niets weer gekrege, van Stevanis van de Burg tien osse en seeven beeste weggenomen en een hottentot vermoort . . . " skryf Jacob van Deventer op 1-5-1790 uit Cambebooruggens (13).

". . . Steph. van den Burg , De Hoop van Afrika en de Buffelshoek . . is overleden zedert omtrent 2 jaaren, de Wed. zynde door de Bosjesmans van alles berooft . . " (14).

Pieter Ernst Kruger, veldwagmeester van Sneeuberg, skryf in Julie 1792 'n verbitterde brief aan die landdros van Graaff Reinet, nadat opdrag ontvang is dat die kommando's vir 'n militêre oefening bymekaar moet kom. Hy skryf hierdie opdrag het hom "niet alleen groot verwondert maar ook in een verbaastheid doen zeijn", want, sê hy, uit die gereelde verslae aan die owerheid behoort dit baie duidelik te wees dat plase en gesinne in groot gevaar van plundering en moord verkeer wanneer "den manschappen met 't drillen van hujis moet . . .  Zoo is 't te vresen dat in dese Contrijen onweerbare vrouwen en kinderen onnosel bloet zal vergoten worden, ja een Geheele Ruini te vresen, en terwijl dat 't den Representanten des volks beter bekent is als mijn, dat 't volk door den verslende langduurende strooperije sware koste verselt met tijdversuijm tot op het gebeente zijn uijtgemurgelt vermoeit en kragteloos is geworden . . ." Hy teken homself nogtans as "U Edl. Onderdanige Dienaar", uit "Beklagenswaardigen Sneeuwberg" (15).

Nie 'n wêreld vir 'n vrou alleen nie! Maar Louisa se kinders het by haar gestaan. Volgens die opgaafrolle vir 1800 (16) het daar op Scholtzkloof saam met Louisa gewoon:

Die dogters, Cartharina en Louisa, is getroud met twee Botes-broers, en Stephanus vermoedelik met hul suster. Hulle was die kinders van Anthonie Botes *Enkhuizen en Engela Erasmus (b6c7 - 'n niggie van Louisa se pa).

Scholtzkloof waar Louisa, bekend as die Weduwee Stephanus van den Burg, en haar kinders nou gewoon het, is vandag nog 'n bekende plaas naby Prins Albert. Die pad daarheen draai af kort nadat die Swartbergpas uit die noorde aangepak is. Die wye vrugbare kloof is van noord en suid ingesluit deur die onverbiddelike kranse van die Swartbergreeks.

Die uitgebreide gesin Van den Burg het dus bestaan uit tien volwassenes en een kind; en hul het altesame vier slawe en vyf slavinne besit; vyftien manlike en sewentien vroulike Hottentotte het by hulle gewoon en waarskynlik vir hulle gewerk. Hierdie versameling mense het geboer met twaalf perde, 224 beeste en 31,412 skape op Scholtzkloof en nog een ander leenplaas (17); daar groei toe sowat 12,500 wingerdstokke en hulle verbou ook gars en koring (18).

In "Prins Albert, Kontreistories" van die plaaslike Fransie Pienaar-museum vertel Helena Marincowitz kortliks ook 'n deel van Louisa se verhaal soos dit op Scholtzkloof afgespeel het: van die veldkornet wat haar voortdurend getreiter het en van haar ongelukkige tweede huwelik. (Marincowitz gee erkenning aan navorsing deur Hertha Bokelmann.)

Dit was juis die briewe van veldkornet Samuel de Beer (a2b5c8 – SAG1)) met klagtes oor die Weduwee van den Burg aan die landdros van Graaff Reinet wat eerste my aandag op haar gevestig het. Van De Beer het 'n destydse, uitgesproke, reisiger geskryf: "Deze man schynd van zyne districtsgenoten niet zeer bemind te zyn, en men geloofd het niet gewaagd te zeggen, dat hy veel praat en weing doet. Hy had vele klagten en bezwaren en juist tegen lieden gericht, die wy ook gezien hadden, en van welken wy ten minsten niets dan goeds ondervonden"(19).

In Oktober 1799, toe die Britte die Kaap vir die eerste keer oorgeneem het, was een van die nuwe bewind se amptenare op reis na Graaff Reinet deur De Beer se wyk. Die veldkornet moes ouder-gewoonte sorg dat daar vir hom, "Commissaris Somerwiel", en sy mense reggestaan word. Maar moontlik het al die reëlings nie glad verloop nie, want Samuel de Beer skryf daarna 'n verduideliking aan die landdros van Graaff Reinet. Hy skryf hy het die Weduwee v. d. Burg gaan vra "waar zij beland was en wat er aan geweest heeft, dat er geen broode, die gecommandeert was, gekoomen is? Zij antwoorde mij, als ze te huys geweest was dat zij alles zoude gedaan hebbe wat mogelijk was aan zijn Majestijts troepes . . . " Sy sê dat sy weg was "aan die Witwater by Erasmus", dat die osse daar weggeraak het en . . .en . . . en . . . Verder het hy, De Beer, Louisa se slavinne voor stok gekry oor hul versuim om brood te bak en hulle verskoning was dat die bakoond stukkend was. Hy het gaan kyk en die oond was wel stukkend, maar "ter nood had er dog konnen gebakt worden. Ik heb de mijden willen geselen, maar gehoord dat de Onder Commissaris hen riets een pak geven, hat ik 't ditmaal zo gelaten." (20).

Samuel de Beer het blykbaar gewoon op Kweekvallei, die plek waar Prins Albert later aangelê is. Hoewel dit volgens vandag se norme taamlik ver van Scholtzkloof af is, was daar tog gedurig onenigheid tussen hom en die Van den Burgs – hoofsaaklik oor weiveld en water vir sy vee; en omdat hierdie koppige mense nie sy bevele wou uitvoer nie. Op 23 Augustus 1800 skryf hy aan die landdros dat hy die landdros se orders aan die Weduwee v. d. Burg. voorgelees het naamlik dat sy haar vee uit sy kloof moet hou en nie sy fontein deur haar vee mag laat vertrap nie (21).

Louisa stel op 21 Augustus ook haar saak aan die landdros: " . . . het doet meijn leet dat ik meijn overrighijd moet lastig valle maar ik wort daar toe geperst; mijn heer de veltcornet genamd de beer die is den 19 Agustus beij mijn geweest en hij laas mijn een papier voor dat heij van de heer kommesaars en landros sou hebben, dat ik mijn vee moet uijt zijn revier houwen; mijn heer zijn revier loop door mijn weij en ik heb het altoos gebruikt van dat mijn man de plaats gekogt heb en dit gaan 1770 . . . " Sy kla ook dat De Beer al haar seuns en skoonseuns gelyk opkommandeer sodat haar huis "oop en bloot staat . . . mijn heer mijn ootmoedig versoek is aan mijn heer om tog de goedheid te hebben en skrijf mijn hoe dat ik mijn sal gedraagen in (hier)die stuk . . ." (22).

In sy brief oor die saak skryf De Beer ook aan die landdros dat die voorlees van die landdros se brief nie goed ontvang is nie. Stephanus v. d. Burg en Abraham Botes, die skoonseun, het maar aangehou om die vee weer daar laat wei; maar nou was hulle gewapen! (23).

Nie dat die Van den Burgs geen samewerking aan De Beer gegee het nie. In 1799 skryf hy aan landdros Bresler dat die jong Stephanus een van dié is wat die wa met ammunisie, wat by Kweekvallei weg is op pad na Graaff Reinet, vergesel. In dieselfde brief skryf hy dat hy sy mense moes ontmoedig om "Kaapwaarts" te gaan om rekognisie te betaal en so hul plase onbewaak te laat (24).

'n Jaar later, 29-8-1801, word daar aan die burger, Joseph de Beer, broer van Samuel ". . . vergund om op zeekere in de Zwarteberg geleege plaats de Middelkloof te mogen zaaijen,  mits dat hy geene andere gebouwen van belang zal mogen oprigting . . . en voorst zorgen dat nog de Wed. Stephanus van den Burg nog de besitters inder tyds van de plaats de Scholtsekloof geen hinder nog overlast worde tegebragt in haare veeweiding." Get. deur Bresler, Landdrost van Graaff Reinet (25).

Heelwat later, toe Louisa haar laaste testament maak, benoem sy tóg vir Samuel de Beer as een van die eksekuteurs (26).

In die tussentyd het Louisa op Scholtzkloof deur baie diep waters gegaan. In Junie 1800 berig De Beer weer eens dat sy kontrei "ontbloot" is aan manskappe en dat hy bevrees is die hele Swarteberg sal deur die Bossiemanne oorweldig word . . . (27).  In 1801 skryf hy in sy gereelde verslag aan die owerhede dat in sy wyk oorlede is, onder andere, die huisvrou van Sybrand Botes. Louisa se oudste dogter laat een kind na: Stephanus Lourens ~ 14-11-1802. (28).

Met die geboorte van Lourens Stephanus Botes het Louisa nou twee kleinkinders gehad; haar dogter, Martha, en Jan David Stroh se seuntjie, Stephanus is in 1798 gebore (dV&P). Maar Martha is ook vroeg oorlede; Jan David trou in 1803 vir die tweede keer – met Anna Maria Martens (dV&P).

Nog een van Louisa se dogters, Louisa Margaretha, sterf ook en sonder kinders: in 1804 hertrou haar wewenaar Abraham Adriaan Botes met Anna Maria Maas (SAG1).

Louisa het in sowat vyf jaar al drie haar dogters as jonggetroude vrouens verloor en uit haar testament blyk dat ook Stephanus voor haar en sonder kinders oorlede is.

Haar enigste oorlewende en jongste kind, Petrus Johannes, maak in 1813 saam met sy vrou, Johanna Catharina Botes (b2c3d1 ~18-11-1792) , 'n testament (29). Hulle is in 1809 getroud (SAG1).

Maar in 1804 neem Louisa self 'n belangrike, en blykbaar onbesonne, stap. Sy trou weer (30). Sy is nou omtrent 60 jaar oud. Volgens "Kontreistories" was die bruidegom, Frederik Nielsen, 'n Deen van geboorte, en heelwat jongers as Louisa, maar "baie intelligent en het geëksperimenteer om olie uit lemoenbloeisels en skille te onttrek. Hy het ook peperment, anys en koljander gekweek. Vir al die produkte het hy 'n goeie mark in die Kaap gehad. As gevolg van afguns het die vrederegter, Samuel de Beer, vir Nielsen getreiter... Toe die toestand vir Nielsen onuithoudbaar word, pak hy sy goed en in 1811 verlaat hy Scholtzkloof en vir Louisa."

In hul aansoek om te skei verduidelik Louisa en Nielsen dat hulle "in den Jaar 1804 met den anderen gehud (had) met het vlyend vooruitzicht van in hun klimmende jaaren elkander tot troost en ondersteuning te zullen zijn en elkander genoegen te zullen bevorderen en also met den anderen een gelukkig leven te zullen leijden. Echter tot hunlieder leedwezen hebben mochen ondervinden van dit doel door hunne verschillende humeuren te hebben gemist (?), integendeel . . .hunlieden zyn geveezen (?) oneenigheeden en geschillen welk tot de hoogte zyn geklommen dat zijlieden zig met geen mogelijkheid eenig geluk kunnen voorstellen . . . " (31).

'n Aanduiding van die struweling tussen ook Nielsen en De Beer, blyk ook uit die briewe in die argief. In 'n ongedateerde brief uit Graaff Reinet skryf Nielsen aan De Beer "de 3de Januarie is het tyd om u weegens mijn te verantwoorde en dan Kaapwaarts – Daar kunt gij u belanges in brenge met u getuigen en ik de mijne. Verder maak ik niets of . . . als bij de Raat van Justitie . . . breng u getuige daar en ik de mijne." (32).

Maar 'n mens wonder tog of De Beer en selfs hul onderlinge onaanpasbaarheid die werklike rede vir Louisa en Nielsen se egskeiding was. Daar is ook dokumente wat bewys dat Nielsen, met Scholtzkloof as sekuriteit, sakebedrywighede aangepak het wat uiteindelik misluk het. Die egskeiding kon Louisa se desperate poging gewees het om die plaas en opstal te behou. Daar is met die egskeiding ooreengekom dat sy wel die plaas kan behou en vir eiendomsreg daarop kan aansoek doen. Die res van hul besittings moes egter verkoop word om die boedel te kan verdeel (33).

Toe hierdie bepalings rugbaar word, was daar 'n heftige reaksie van 'n Marthinus Cerff uit Kaapstad. Dit is gedateer 24-1-1811 en gerig aan die "President en Heerlieden der Desolate Boedelkamer". Nielsen, sê Cerff, skuld hom geld vir goedere wat hy in 1808 aan hom verkoop het. Blykbaar sou Nielsen die goedere weer verkoop en Cerff daarna dadelik betaal, maar hy het nie. Later is die skuld uitgestel tot 1810. Op dié stadium het Nielsen 'n skulderkenning vir Rx12,320 geteken. Nou meen Cerff dat Nielsen insolvent is. Hy het ook gehoor dat Louisa om eiendomsreg op Scholtzkloof gaan aansoek doen. Die plaas, sê hy, moet in die boedel bly (34).

Op 7, 8 en 9 Mei 1811, is daar op Scholtzkloof vendusie gehou en alles, vee, plaasgereedskap en alles in die huis is verkoop. Louisa moes Rx4,000 vir die opstal betaal; nadat sy haar slawe vir Rx1,300 gekoop het, was daar skaars geld oor vir 'n paar huishoudelike artikels en meubels (35).

Nielsen was wel insolvent. Volgens SAG6 is hy na sy egskeiding van Louisa nie weer getroud nie, maar daar word vir hom drie buite-egtelike kinders aangegee.

Op 18-1-1811 maak Louisa, nou as "gesepareerde huisvrou van Frederik Nielsen, woonende over de Leeuw Rivier in die Swarteberg op de plaats de Scholtzkloof'", 'n nuwe testament en herroep die een wat sy in 1806 saam met Nielsen gemaak het. As erfgename benoem sy die enigste nakomelinge wat sy nog het: haar seun Pieter Johannes v d Burg en haar kleinkinders Stephanus Johannes Stroy (sic) en Stephanus Lourens Botes. Sy benoem haar seun as eksekuteur van haar boedel en voog van haar minderjarige erfgename se erfenis. Haar drie ou slawe moet vrygestel word ten koste van haar boedel en daar moet gesorg word dat hulle nie in armoede en gebrek raak nie. Die slawe is Hanna, Clara en Esau en aldrie is aan die Kaap gebore. Die vierde slaaf, Adam (geboortig ?), moet vrygestel word mits hy sal bly by haar kleinseun, Stephanus Botes "onder conditie van wel behandeling"(36).

Op 14-3-1817 verklaar Louisa in die teenwoordigheid van Samuel de Beer en Petrus Johannes Botes (b2c3, haar seun Petrus se skoonvader) dat sy Scholtzkloof aan "mijn kind en deszelfs echgenote", Petrus Johannes v d Burg, verkoop het vir Rx600 (37).

In 'n verklaring wat op 18-11-1818 by die weesheer ingedien is – saam met haar testament – sê sy dat sy haar seun se testament goedgekeur het "en de wettige legaat daarin begrepen, mij als moeder competereende, aan mijn schoondogter Catarina Johanna Botes wed. Petrus Johannes van den Burg present te doen, . . . en wel voor de laatste welvaart die zij aan mijn zoon haar echtgenoot gedaan heeft" (38).

Petrus Johannes is dus nog kort voor Louisa oorlede. Hulle boedeldokumente is saam geliaseer. (39).

Dit is duidelik dat Louisa Erasmus in haar sowat 75 jaar waarskynlik heelwat fisiese ontbering die hoof moes bied, konflik moes hanteer, verlies moes verwerk. Al wat die "papiere" vir ons bevestig is dat sy aan die einde van haar lewe al vyf haar kinders kort na mekaar verloor het asook die meeste van die besittings waarvoor sy haar lewe lank gewerk het. Hoeveel van haar teenspoed op haar eie rekening moet kom, sal 'n mens nooit weet nie. Hoe ook al, 'n mens van vlees en bloed met wie jy simpatie kan hê, kom wel uit die gebrekkige gegewens te voorskyn. 'n Mens sou hoop dat daar iewers nog nasate is van haar twee kleinseuns: miskien Strohs en Botesse?

En Scholtzkloof het na die dood van al die gebore Van den Burgs dus behoort aan Petrus Johannes se vrou, Catharina Johanna Botes. Sy is in 1819 getroud met Carel Christiaan Giebeler (b2c1) en hulle het op Scholtzkloof bly woon. Volgens "Kontreistories" was dit 'n stormagtige huwelik en is hulle in 1824 geskei en in 1829 weer getroud.

Volgens SAG2 het Giebeler met hul troue reeds twee buite-egtelike kinders gehad en verder word daar vir hom nog twee seuns en 'n dogter aangegee. Voorts blyk dat Catharina, as geskeide vrou van C C Giebelaar, in 1852 op Beaufort-Wes getroud is met Josephus Johan Nicolaas Dekkers wie se enigste kind uit 'n vorige huwelik, Francois Nicolaas E B Dekkers, in 1879 op Scholtzkloof oorlede is. Teen hierdie tyd was die plaas reeds die eiendom van die familie De Wit wat vandag nog daar boer.


Bronne:

Hosted by www.Geocities.ws

1