Ma Sofia is ‘n sterk vrou. Van die ou soort. In die nuwe Suid Afrika. Boervrou in die regte sin van die woord. Baas van die plaas want pa is maar min daar. Sy werk in die stad neem baie tyd in beslag en die plaas is net effe meer as ‘n familie stokperdjie. Met haar beeste en blomme is sy die heel dag besig en sy het nie aldag regtig tyd vir ander mense om haar nie. Haar idee van die buurmense is in elk geval nie veel besonders nie, dit wissel van aanvaarding met voorwaardes tot by totale minagting. Die geskinder van die omgewing staan haar nie veel aan nie. Haar familie is haar alles. Pieter en die seuns.
Haar kinders. Met ‘n gesukkel in die wêreld gebring, en baie kosbare tyd aan hulle bestee. En wat het sy daarvan? Pieter woon oorsee, klein Johan is maar altyd doenig op die plaas, en dan Dirk.
Haar Dirkie…
Haar middel kind. Liefling van haar hart. Min verstaan deur die res van die mense. Hartseer kind en moeilik mens.
Ag Here hoekom juis hy? Die stil gevoeligheid van sy gees het haar nog altyd aangegryp. Pieter was soms skoon opgeruk oor die kind se lewensuitkyk. Wil nooit by wees waneer ‘n dier geslag moes word nie. Liewer in die veld gaan stap en eers ure later teruggekom waneer die doodsreuk van die werf af is. Sal liewer ‘n kuiken probeer water gee en aanhelp tot hy self sterf as om sy nek af te druk.
Die dag toe die hond geskiet mos word, het die duiwel vir Pieter ingevaar. Die geweer vir Dirk gegee. Sy wou nog keer, en die kind se groot oë het haar geroep om te help. Maar Pieter het haar binne toe gejaag en die deur agter hulle toegetrek. Stil sekondes het soos ure verby getik. Toe die slag. Dirk het binnetoe gekom, verby haar gehardloop en in sy kamer gaan wegkruip. Nog ‘n skoot het gevolg en na ‘n ruk was Pieter weer in die huis.
Na daardie dag was dinge tussen Pieter en Dirk nooit weer dieselfde nie. Dirk het sy pa aanmekaar ontwyk. Waneer hulle saam moes wees, was daar altyd ‘n ongemaklike stilte en Dirk het ‘n minagtende houding ingeneem. So teen sy aard. Die kind moes daardie dag gebreek het, maar sy het van beter geweet as om te vra wat gebeur het.
Haar gedagtes word onderbreek deur ‘n skaduwee wat oor die blombedding langs haar val. Sy kyk om.
“Ja my kind, voel jy beter?”
“Ja ma. Ek kry net koud.”
“Hoekom gaan sit jy nie op die stoep uit die wind uit nie. Dis nogal koel
hier onder die bome.”
“Ek is oraait ma.. Ek moet bietjie uit kom, dis so ‘n mooi dag..”
Dit is ‘n mooi dag. Maar sy sien dit nie meer raak nie. Nie vandat hulle gehoor het nie… Die Here is besig om stukkies van haar siel dag vir dag uit te skeur met diè ding wat hulle oorgekom het. Sy kyk egter moedig op na Dirkie.
“Toe nou! Gaan sit op die stoep, ek bring vir jou
‘n ietsie om te drink. Is jy al honger??”
“Miskien net ‘n stukkie toast. Ek is weer naar vanoggend.”
Sy gaan kombuis toe en maak die toast en koffie. Die telefoon lui, maar voordat sy dit kan antwoord, antwoord Dirkie in die studeerkamer. Sy wonder wie dit is, maar hy roep nie en sy gaan aan met die kos. Sy maak klaar en neem dit vir hom. Hy is nog aan die gesels in die studeerkamer en sy neem dit soontoe. Hy praat sag en die moegheid is duidelik in die stem te bespeur. Hy lyk egter stralend daar waar hy op die stoel sit en gesels. ‘n Kwaadgeit stoot in haar op.
Hulle gesels al weer! Hoe kan hy na alles wat met hom gebeur het??! Gesels met sy doodsengel, die een wat hom tot by die deur van die dal gelei het en hom nou net daar los!
Sy sit die bordjie effens hard neer. Dirkie kyk gesteurd op, sien haar gesig en praat sagter. Sy gaan uit en trek die deur agter haar toe. Trane loop warm teen haar wange af.
“God! My kind is besig om te sterf! Om dood te gaan! Hoekom laat Jy dit toe?? Hy het nie gevra daarvoor nie… ons het nie.. Wat het ek verkeerd gedoen dat al die dinge oor my moet kom?! Was dit nie genoeg om my te straf met sy ‘andersheid’ nie? Nou nog dit ook!”
Sy gaan sit op haar hurke voor die “Lady Di”
roosboom.
“Bleddie luise! Nou moet julle ook nog my dag kom staan en bederf!”
Dirkie kom by die voordeur uit. Met die agterkant van haar hand probeer sy ongemerk
die traanspore oor haar gesig bedek, maar dit trek modderstrepe oor haar wange.
“Ma…”
“Ja my kind?”
“Wil ma nie maar dit aanvaar, as dit nie vir ons is nie,… net ter
wille van my??”
“Dirkie! Ek probeer hard my kind… die Here weet!... dit maak seer,
jy word van my weggesteel deur iemand wat ek … ek … sukkel om te
aanvaar! Dis asof ek ‘n toffie gedruk word! Asof ek nou my verdiende loon
kry.. As ek net weet vir wat???..”
“Maar ma, ma weet dis mos nie so nie! Ons is lief vir mekaar.. wat gebeur het, is alles my skuld, ma kan nie ander mense blameer omdat ek siek is nie! Dis iets wat ek aan moes gedink het, ek was die verkeerde een.”
“Moenie so praat nie, Dirkie!! Jy weet dis nie so nie! Dis,… dis hy wat jou in al die gemors laat beland het!”
“Is nie ma! Ek het mos al gesê dit was my besluit”
“Jou besluit?!… Het jy besluit om siek te word?! Is dit wat jy sê?”
“Ma weet dis nie wat ek bedoel nie! Ek het myself in ‘n situasie geplaas want my oop gemaak het vir die ding… die siekte… ek is nie gedwing nie.. en wou dit doen… ek het nie besef ek kan regtig siek word nie… dit is iets wat so ver is, net met ander mense gebeur… en nou het ek self dit ook versprei ma! Ma moet asseblief verstaan! Ek het hom aangesteek!! Ek is bly ek gaan dood! Ek wens net dit is al tyd. Ek kan nie meer met die gedagte saam leef nie!”
“My kind! Moenie so praat nie! Jy maak my bang! Ek wil jou so lank as wat ek kan, by my hê!”
“Ma vergeet, ek is ook nou ‘n moordenaar, ek vermoor die een wat vir my die belangrikste is! En die beste van alles is, dat ek dit stadig doen, met tyd… en pyn… en seer… en skande. Dis die laaste ding wat ek vir ons beplan het, hierdie gemors van ‘n lewe. Ek wou alles mooi en rustig gehad het, ons het gedroom van saam oud word, die lewe geniet, en ewige liefde. En wat gee ek?… Ewige skande en ewige dood!”
‘n Hoesbui skeur deur sy ligaam en hy snak na asem. Hy gaan sit moeg op die trappie en hyg na asem. Die siekte het in sy longe ingetrek. Elke trachea en tracheoli besmet met ‘n duiwel wat dit opvreet van binne af. Sel vir sel. Sy hele lyf is al swak, maar sy longe het die eerste moed opgegee. Eers gedink hy het long ontsteking, toe asma,… maar toe hy ‘n kol op sy long in die middel van die somer ontwikkel, het die dokter erg bekommerd geword. Hom gestuur vir elke toets denkbaar. As hy toe al bietjie verder gedink het, kon hy hulle al die soek gespaar het. Gesê het waarvoor om te kyk, maar dit het selfs hom ontgaan. Hy is mos nie soos die ander nie.
“Ek gaan maar weer so bietjie lê….”
Haar seun word voor haar oë opgevreet deur ‘n monster wat sy nie die naam van kan sê nie… nie wil sê nie. Die dag toe hy vir haar kom vertel dat hy ook nou een van die miljoene is wat binnekort gaan sterf, was ook haar sterfdag. Dit het in haar lyf kom sit, die vrese.. die skande… wat die bure alles gaan sê, moenie jou hande sny en hom help nie, pasop vir skrapies… hou sy koppie eenkant… nuwe messegoed sonder dat hy dit agterkom… sy het darem nog ander om voor te sorg ook.. Die wete dat hy nie vir ewig haar sonstraalkind gaan bly nie, dat sy ook binnekort by sy oop graf sal moet staan… al is ‘n moeder dan nou veronderstel om nie haar kinders se dood deur te maak nie,… kan sy nie self gaan voor dit tyd word nie?.. Die ‘struggle’ met haar God oor die ongeregtigheid van die lewe… die haat en vennyn teen die siekte, en veral teen die een wat dit aan hom gegee het. Hy wat haar kind kom staan en verander het… dinge in hom wakker gemaak het wat seer sekerlik liewer kon gebly het. Hy kon maar liewer ‘n oujongkêrel geword het, die gemis van kleinkinders sou sy kon verwerk, maar dit?!! Die dag toe hy vir hulle vertel dat hy verlief is op ‘n man… toe Pieter hom bo oor die bank gedonner het omdat nie een van sy seuns ‘n moffie is nie, haar beskuldig het omdat die skewe gene van die ma afkomstig is,… soos ‘n lamsiek ooi wat gebreklike lammers voortbring, so het sy gevoel. En die vermetelheid van die mannetjie om hier te kom kuier! En toe Dirkie self normale regte vir hulself begin opeis… selfde kamer slaap.. privaatheid… ja die nuwe Suid Afrika het vir hul meer skade gebring as goed. Dit praat nou selfs die kinders se skewe idees goed. Sy het so gehoop dit sal hom ontgroei, dat dit net ‘n lawwe fase is wat sy kunstenaarsgees vir ‘n rukkie sal fasineer. Dit sou sy nog kon verwerk. Sy is nie verniet een van die verligte mense in die omgewing nie. Het selfs in die stillegeid “Ja” gestem sonder dat Pieter daarvan weet. Verandering kan mos nie gekeer word nie. Maar min kon sy dink dat die verandering ook haar huis sou raak. Tot diep in haar siel sou kerf en dit wat vir haar die kosbaarste is, sou wegsny en opvreet.
Dirkie wat vir die eerste keer in sy lewe woorde met haar het omdat hulle nie sy lewensmaat wil aanvaar nie… Maar hoe kan mens. ‘n Bul wat die ander bulle klim, word eenkant gehou. Selfs geskiet as hy nie sy lus kry vir die koeie nie. Nie dat dit eens baie gebeur nie! Maar deesdae is elke tweede jongetjie mos ge-oorbel en ‘gestreak’.
Toe sien sy dat dit hom seermaak, en sy probeer hard om hom te aanvaar. Vra selfs vir God om begeleiding. Smeek en bid sy seën op haar seun toe, en ook die res van die gesin, hulle wat nie wil en kan aanvaar nie… Vra Hom raad en slaan dan die Bybel oop by Levitikus 18 vers 22.
“Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ‘n afstootlike sonde.”
Dis die antwoord wat hy haar gee, en wie is sy om te twyfel, dis dan juis die nuwe vertaling ook nog…
“Maar Here, wat dan van die romeinse offisier wie se Enog slaaf siek was en U hom gesond gemaak het? Was U self nie verwonderd oor die man se geloof nie? Hy is nie vir U koningkryk bedoel nie, maar tog sê U dat hy eerder daar sal wees as diegene wie ‘n plekkie as vanselfsprekend aanvaar.. En ek weet dat ‘n Enog niks minder is as ‘n seks slaaf van dieselfde geslag is nie?…”
So het haar worsteling aangehou totdat sy later nie meer die krag gehad het om die Boek oop te maak nie.
Hy het nie weer uit die bed opgestaan na die oggend in September nie.
Dokter Jan het uitgekom plaas toe en gesê dat hulle
hom vir die laaste dae hospitaal toe kon vat.
“Die ergste is nou besig om te gebeur Sophia. Jy het nie nodig om dit
alles deur te maak nie. Kom kuier in die hospitaal, maar fokus op die res van
jou gesin. Hulle het jou nodig”
“Hoe kan jy dit van my verwag Jan??! Hier lê ‘n stukkie van my siel,… my vrouwees.. my sonstraalkind… ek kan hom nie oorlaat in die sorg van vreemdes nie!! Nee!! Hy bly net hier! Ek sal liewer ‘n verpleegster kry om te help, maar my kind gaan nie alleen in ‘n hospitaal sterf nie. Hy is nou hier, naby die veld en die diere waarvoor hy so lief is.”
“Ek sal tannie Ann na jou stuur. Sy is goed met hierdie soort van ding…”
Sy sien dat iets besig is om hom te eet. Nee, nie die siekte, dis iets anders. Nee, hy wil nie praat nie, maar sy siele stryd is besig om haar hele wese oor te neem. Emosioneel word sy oorrompel deur hierdie nuwe wending. Sy weet dat sy stryd om haar is.. en sy pa. Wat kan die kind dan nou pla? Asof sy nie weet nie.. maar God, hoe kan hy van my verwag om nou, op sy sterfbed… nou te wil vrede maak met hierdie ding.. hierdie onding! Ek kan waaragtig nie! Nie terwyl hy die een is wat as gevolg daarvan nou moet sterf nie! Dis so onregverdig! Sy kan nie met ‘n oop hart na hom kyk en sê dat sy verstaan nie. Want sy verstaan nie. Al wat sy vra is nog ‘n kans.. ‘n klein Dirkie om mee van voor af te begin. ‘n Klein Dirkie wat onbesmet van hierdie wêreld se dinge staan en wie sy sal kan vorm in die regte rigting, sodat hy nie weer dieselfde foute hoef te maak nie. Gesond sal kan bly en ‘n oulike vroutjie kry om mee te trou en baie klein kinders wat die werf gaan vol hardloop en haar blomme vertrap! O God, hoe smag ek nie daarna nie! Die bleddie tuin sal kan wag en vergaan, solank sy net haar seun terug kry.
“Ma..”
“Ja Dirkie?..”
“Ek weet ek is besig om dood te gaan ma,..”
“Moenie so praat nie..”
“Nee wag, dis belangrik. Ma hulle is nog altyd teen my en Gerrit se verhouding gewees, maar ek moet nou iets vra..”
“Moet ons regtig daaroor praat my kind?”
“Ja ma. Ek wil hom so graag weer sien voor ek,… voor ek gaan , ma.. ons het dinge om oor te praat..”
Sy bly stil want sy weet wat gaan kom. Moet sy haar kind deel met hom in hierdie laaste dae?… is dit die voleinding van haar straf?
“My kind, is jy seker?? Jy moet rus… en ek weet nie of jou pa dit sal toelaat nie..”
“Dan gaan ek vir dokter vra om my hospitaal toe te vat, sodat ek Gerrit daar kan sien..”
“Ek sal met jou pa praat…”
Pieter is ‘n harde man. Maar sy kan tot binne in hom sien. Agter die skild,
is ‘n klein seuntjie wat hard stry om die seer en kwaad af te weer. Die
ding met Dirkie, sy lewenskeuse en die uiteindelike siekte, het hom hard geslaan,
en hy weet nie regtig hoe om dit te verwerk nie. Hy het al hoe langer tye op
kantoor deurgebring en die brandewyntjie & coke wat hul elke aand geniet
word, het twee geword, drie, en later tot die hele bottel op ‘n aand.
In die nag waneer hy rondrol en met homself praat, kreun van borspyne oor die
stres, het sy geweet.
Maar hoe praat jy met ‘n man wat nie na rede wil luister nie. Des te meer
omdat dit indruis teen die gehardheid van sy hart?
Na aandete, terwyl hy hulle drankies skink, probeer sy.
“Ons moet or iets praat, Pieter..”
Die klank in haar stem laat hom opkyk.
“Wat is fout?”
“Dis Dirkie”
Hy sit die bottel neer.
“Is hy erger?”
“Elke dag meer. Hy wil vir Gerrit sien..”
“Ek laat nie daai moffie in my huis toe nie!!”
“Wag nou asseblief! Luister na my!! Die kind is op sy laaste Pieter… hoe lank gaan ons hom nog by ons hê? Wil jy hê hy moet dit ook teen ons hou?? En hy is ernstig daaroor. Praat selfs van hospitaal toe gaan net sodat hulle tyd kan hê om te praat.”
“Dan moet hy aandonner hospitaal toe. Ek soek nie daardie man weer in my huis nie.”
“Pieter asseblief!! Ek wil nie my kind op die laaste verloor nie. Kom ons doen dit… vir hom.. asseblief?? Of dan ten minste vir my.. “
Sy begin huil. Die afgelope dae skawe aan haar en sy kan nie meer nie. Pieter sug en gaan sit op die kombuisstoel langs haar.
“Ek weet nie meer nie. Dit sal seker niks aan Dirk se situasie verander as ons die man hier toelaat nie. Maar ek raak skoon bedonnerd as ek hom voor my sien. Ek wil nie eens daaraan dink dat hy die een is wat verantwoordelik is vir Dirk se.. toestand.. nie.”
“Kom ons probeer vergewe vir Dirkie se onthalwe my man. Hoe lank gaan ons hom nog by ons hê? Ek wil nie myself vir die res van my lewe verwyt dat ons sy laaste dae hartseer gemaak het nie.”
“Ek verstaan wat jy bedoel, maar dis moeilik. As dit is wat jy wil hê, dan moet jy maar voortgaan en dit reël, maar ek wil niks daarmee te doen hê nie.”
Sy het in die studeerkamer gaan sit en haarself probeer
instel voor sy die oproep maak. Wat sy gaan sê… om nie stroperig
te klink nie.. om die situasie korrek oor te dra…
Moenie laat die hardheid van jou hart nou die situasie beduiwel nie, Sophia!
Jy doen dit uit jou liefde vir jou kind. Wees die minste en probeer vir Gerrit
oorreed om plaas toe te kom.
Stadig druk sy die knoppies. Die telefoon lui lank. ‘n Moeë stem
aan die ander kant antwoord.
“Gerrit naand”
“Gerrit?…. dis Dirkie se ma..”
Stilte.
“Gerrit?”
“Nee tannie, moenie vir my dit sê nie… is hy.. weg?..”
‘n Paniekerige stilte wag op haar antwoord. Sal sy dit sommer nou net hier eindig met ‘n leuen wat dit vir hulle almal sal rustig maak.? Maar sy dink aan haar kind se oë en sy sê:
“Nee, my kind, hy wil jou sien..”
“Ek is nou skoon lam geskrik tannie. Natuurlik sal ek oorkom, maar… wil julle my dan daar hê?… Ek het gedink..”
“Die belangrikste een om gelukkig te wees nou is Dirkie, my kind.. ek en die oom het gepraat.. ons kan jou nie van Dirkie weghou in hierdie tyd nie.. God weet, wat gebeur het, het gebeur.. Julle altwee dra die merk, die straf… maar ons moet deur die ding kom, dit help nie om ons harte te verhard nie… nie ten koste van my kind nie… Jy is welkom om te kom kuier. Ek kry vir jou die spaarkamer langs syne reg.”
“Tannie sal nooit weet wat dit vir ons beteken nie… dankie”
Sy kan nie meer nie en sit die telefoon neer.
Trane loop vryelik oor haar wange terwyl sy krom in die leerstoel by haar pa
se ou lessenaar sit. Die afgelope maande was vir haar hel. Sy het altyd gewonder
oor die kind se alewige siekwees, maar net gedink sy gestel is af van die werkery
in die stad. Nooit gedink dat hy regtig siek is nie, veral nie die siekte nie.
Sy het altyd vermoed die kind is anders, maar elke ma hoop maar dat dit nie
so is nie. En toe die dubbele skok. Eers dat hy en Gerrit besluit het dat hulle
die eerste gay paartjie van die omgewing wou wees wat trou!.. en toe.. dat hulle
albei ‘siek’ is! In vyf minute het haar wêreld in twee geskeur.
Pieter het sy humeur verloor, vir Gerrit ‘n paar vuishoue gegee en toe
die huis belet. Eers daarna het hy besef dat daar bloed aan sy vuiste was. Vir
ure in die badkamer gestaan en ‘n hele bottel Dettol opgebruik. Dirkie
het alles still aangekyk, sy kop geskud en kamer toe gegaan. Skielik het hy
begin agteruitgaan. Niks kon help nie, nie dat dit in elk geval seker sou nie,
maar dokter Jan het aan haar gesê dat die kind sy wil om te lewe verloor
het. Dit is ook nog op haar skouers. Verhaas hulle die onvermydelike met hul
optrede?? Sy wil nie so dink nie. Doen hulle dan nie God se Wil nie? Onthou
die kind van die skandelike sonde…
Sy oë is toe, maar aan sy asemhaling kan sy sien dat hy wakker is. Die nagliggie gooi ‘n sagte geel skaduwee oor sy mooi gelaat en ewe skielik is hy weer haar ou Dirkie. Skoon en ontnugterd deur die wêreld en sy dinge daar buite. Hy maak sy oë moeg oop en kyk haar vraend aan.
“Dis gereël my kind. Ek het Gerrit gebel. Hy sal kom…”
“Waneer…?”
Sy besef dat sy nie eens met hom die tyd gereël het nie.
“Ek is nie seker nie. Wil jy hom bel en self vra?”
“Ek is bietjie moeg om op te staan ma…”
“Ek sal vir jou die koordlose telefoon hierheen bring, dan hoef jy nie op te staan nie.”
Sy stap terug studeerkamer toe om die telefoon te gaan haal, en besef skielik hoe ontspanne sy nou voel. Dit is amper of daar ‘n berg van haar skouers verwyder is. Sy tel die gehoorstuk op uit die laaier en neem dit na Dirkie se kamer.
“Bel maar gou, ek gaan solank kombuis toe. Roep my as jy enige iets nodig het.”
Sonder om te antwoord, neem hy die telefoon uit haar hand en glimlag flou. Hy is regtig gedaan vanaand. Met inspanning druk hy die knoppies. Die telefoon lui lank, maar hy hou aan, want hy weet dat dit Gerrit ook al langer neem om by die telefoon uit te kom.
“Gerrit, naand…”
“Skat??..”
“Dirkie!! Hoe gaan dit met jou??”
“Dit kan seker beter, maar ek praat darem met jou… snaakse dinge wat nou aangaan hu?”
“Ek was so geskok toe jou ma my bel! Ek het eers gedink… maar jo! Ek het amper van die stoel af geval terwyl sy met my gepraat het..”
“So jy gaan kom?”
“Natuurlik! Ek mis jou verskriklik baie”
“Ek is klaar Gerrit… ek voel dit.. dis nie meer lank nie”
“Moenie so praat nie! Ek wil…”
“Wag eers… ek is bietjie moeg om te praat, sê my eers.. waneer kom jy?”
“My suster het gesê sy sal my more al kan wegbring. Ek moet net eers by die dokter ‘n draai maak en nog pille kry voor ek deurkom, so ek sal seker more aand so ses uur daar wees.”
“Dis goed… ek wag vir jou… moet asseblief nie laat wees nie… ek wag vir jou”
“Moenie worry nie, ek sien nou so uit na die kuier, ek wens ons kon nou al gery het”
“Ek moet eers gaan, ek voel bietjie moeg vanaand…”
“Rus nou goed uit.. more aand is ek by jou…. En Dirkie… ek is baie baie lief vir jou..”
“En ek vir jou”
Met die telefoon nog net so in sy hand het hy aan die slaap geraak, met traanspore wat in droë strepies op sy wange blink.
Dit was egter nie ‘n rustige nag vir Dirkie nie en dokter Jan was vroeg oggend daar om hom ‘n inspuiting teen die pyn te gee. Met ‘n sug kom hy uit die kamer en stap na Sophia waar sy in die kombuis doenig is met niks besonders nie. Sy moet besig bly, want haar kind het hulp nodig, en sy self is hulpeloos.
“Dit raak tyd, Sophia… is julle reg daarvoor…”
“Ag Here Jan, sal ons ooit wees? Hoe lank nog?….”
“Enige iets van nou af tot na die einde van die week se kant toe, maar dis nog steeds Sy Wil..”
Sy sak op die stoel neer en begin saggies huil. Dokter Jan maak sy tassie oop en begin ‘n kalmeer inspuiting voorberei.
“Kom, dit sal jou laat ontspan Sophia.”
“Nee!! Moenie, ek wil by my positiewe wees as my kind my nodig het!”
“Dit sal jou net laat ontspan Sophia, kom jy gaan beter voel, en dit sal jou gestel versterk.”
Sy sit vooroor en neem die inspuiting sonder enige verdere teenstribbeling.
Teen ongeveer kwart oor vyf die middag, trek ‘n vreemde motor by die werf in.
‘n Jong meisie klim uit, haal iets uit die kattebak
uit en gaan dan om die passasier uit te help. Gerrit.
Stadig kom hy die stoeptrappie opgeloop, ‘n skynsel van die mens wat hy
eens was. Ten spyte van alles, was hy ‘n lieflike kind, met ‘n spontane
geaardheid en ‘n aansteeklike vrolikheid. Dis nou voor hulle geweet het
wat eintlik tussen die twee aangaan. Skielik loop haar hart oor van deernis
vir die jong man . Sy gaan vorentoe en hou hom teen haar vas.
“My kind! Ek is so jammer…”
“Tannie Sophia… “
Sy hou hom teen haar vas en die hartseer en pyn vloei vryelik uit haar en heel wonde wat toe nie so ongeneesbaar is nie. Pieter is nêrens te sien nie.
“Kom… kom ons gaan in, Dirkie wag vir jou..”
“Hoe voel hy nou tannie?”
“Ag my kind, dokter Jan sê dis die einde,
maar kom ons vertrou op die Here, dis al wat my nog dra die afgelope tyd.”
Hulle stap saam tot voor Dirkie se deur, en Sophia steek vas.
“Hy wag vir jou, gaan jy in, ek gaan solank met jou sussie gesels.”
Stadig draai hy die groot geelkoper knop aan Dirkie se
kamerdeur. Hy is verskriklik bang vir wat hy gaan sien. Hy weet hy lyk self
nie goed nie, maar Dirkie…
Die bedlampie is aan en Dirkie lê met sy oë toe. Sy vel is byna deurskynend
en die lagdimpels op sy wange is nou ingeval, sodat hy byna soos ‘n geraamte
lyk wat op die bed toegemaak is om iemand ‘n poets te bak. Hy gaan saggies
in en gaan sit op die stoel langs sy bed. Met deernis vryf hy oor die deurmekaar
kuif wat hom eenmaal na die man voor hom aangetrek het. Die dag toe hulle die
eerste keer ontmoet het, het Dirkie ‘n bofbalpet op sy kop gehad, en toe
hy dit afhaal, het sy deurmekaar krulle die wêreld volgestaan. Spontaan
het hy vorentoe geleun om die krulle plat te druk, en tydens die aanraking,
het hul albei die elektrisiteit deur hul voel vloei. Sedert daardie dag was
hulle onafskeidbaar.
Hy kyk op en sien dat Dirkie na hom lê en kyk.
“Ek is so bly jy het gekom…”
“Hoe voel jy my skat?…”
“Beter vandat jy hier is… ek moet met jou praat Gerrit… dis belangrik..”
“Wag eers en rus ‘n bietjie… ons kan more lekker gesels!”
“Nee! Ek moet nou praat… ek is so moeg.. ek is so bly jy is hier.. Ek wil jou vergifnis vra Gerrit…”
“Nou maar vir wat Dirk??
“Dat ek jou ook siek gemaak het. Ek is so jammer, ek het nie gedink eers daaraan dat ek die virus kon hê nie..”
“Ons is mos al hierdeur… ek is nie kwaad vir jou nie my skat, ek is lief vir jou, en ons altwee het mos daai aand..”
“Ja, maar ek is die een wat ‘n swak keuse gemaak het, in die hitte van die oomblik met daai ou van Duitsland seks gehad het sonder ‘n kondoom.”
“Dis verby, gedane sake… ek belowe jou dat ek nie vir jou kwaad is daaroor nie… ek voel net bevoorreg dat ek die een is wat saam met jou huis toe gegaan het daarna… jou lewe met jou kan deel… jy maak my so onbeskryflik gelukkig. Jy het my lewe verander.. dit vervul… ek het nooit gedink dat ek waarlik geluk sou vind nie, maar ten spyte van alles wat met ons gebeur het, het ek dit toe wel gesmaak. Ten spyte van selfs hierdie siekte van ons, sou ek dit weer alles oor wou hê as ek moes kies.
“Is jy seker? Jy sê nie net so omdat jy vir my jammer is nie?…”
“Het ek al ooit vir jou gelieg??”
“Nee, jy het nie. Gerrit, ek voel baie beter nou, ek was so bang jy neem my kwalik.. as ek net geweet het… dan was jy ten minste nou nog gesond..”
“En dan moes ek die res van my lewe sonder jou wees???! Nee dankie! Ek is bly want ek weet dat ons binnekort ten minste saam gaan wees sonder enige van die dinge wat ons nou van mekaar af weghou.”
“Waarheen dink jy gaan ons gaan…”
“Ek glo ek gaan hemel toe, en jy?”
“Ja, ek ook, maar sê nou net my ma hulle is reg, dat ons bestem is vir die hel… ek is nog altyd ‘n kind van die Here gewees…”
“Ons moet hulle maar verskoon Dirkie, maar ek dink hulle sal hulle gedagtes begin verander..”
“Hoekom?..”
“Jou ma het vanaand vir my gesê sy is jammer..”
“Regtig??!”
“Ja, en weet jy, ek glo haar die keer.”
Met ‘n glimlag raak Dirk vir die eerste keer in
maande aan die slaap.
Sophia het hulle kos kamer toe gebring, maar die twee was vas aan die slaap,
Dirkie in die bed, en Gerrit langs hom op die stoel. Sy het Gerrit wakker gemaak
en gevra of hy nie maar wou gaan lê nie, maar hy wou by Dirkie bly. Sy
het toe maar teen haar beterwete vir hom gesê om langs Dirkie te gaan
lê en rus. Die kind se oë toe sy dit sê, sal haar nooit ontgaan
nie. Sonder om iets te sê, het hy opgestaan en saggies op die bed langs
Dirkie gaan lê. Deur die nag moes hulle koud gekry het, want die volgende
oggend ses uur was Gerrit onder die komberse en het hy Dirkie styf vasgehou.
Sy het die deur weer toegetrek en gaan ontbyt maak.
Dit moes reeds al nege uur gewees het, toe sy besef dat daar nog geen beweging uit Dirkie se kamer is nie, wat sy koffie maak en vir hulle vat.
Gerrit het op die bed gesit met Dirkie in sy arms en hom sag gesus terwyl die trane oor sy wange geloop het.
Copyright 2003 LOUIS NELL