Armoria corporitiva
http://www.geocities.com/corporatio

SA Uitsaaikorporasie

deur Mike Oettle

SA Uitsaaikorporasie

Wapen deur die College of Arms verleen volgens oktrooibriewe gedateer 22 April 1958 en deur die Buro vir Heraldiek geregistreer volgens ’n wapenbrief wat 8 Junie 1966 met Afrikaanse bewoording uitgereik is. Die blasoen lui:

 

Wapen: In swart, ’n gevleuelde fakkel van goud met rooi vlam.

Helmteken: ’n Rooikatkop en -hals van natuurlike kleur.

Dekklede: Goud en swart.

Skildhouers: Twee Springbokke van natuurlike kleur met goue halsband en tou.

Wapenspreuk: E CAELO SCIENTIA.

 

Die fakkel simboliseer die korporasie se funksie in die verspreiding van inligting, terwyl die helmteken-dier, ’n rooikat of karakal (Felis caracal), in Engels ook bekend as die (African) lynx,[1] met sy fyngeskulpte ore wat soos antenne lyk, daarop dui dat dit ook noukeurig ag slaan op gebeure in die land en wêreldwyd.

Die rooikat se natuurlike gebied wei oor Afrika en die weste van Asië: alhoewel dit nóg in woestyne nóg in reënwoude voorkom nie, word dit vanaf Kaap Agulhas tot aan die Middellandse See aangetref, in die Midde-Ooste en langs die kuste van Arabië, en sover die vasteland in as (die eermalige Sowjet-) Sentraal-Asië.

Aan die ander hand gebruik die naam Felis caracal die terminologie van die tyd vóór DNS-ondersoeke. Onlangse navorsing toon dat die genus Caracal apart is van Felis, en dat daar miskien soveel as vier verskillende spesies van hulle voorkom.

Die skildhouers, twee springbokke (Antidorcas marsupialis), is die nasionale dier. Die krae en toue dui daarop dat hulle vir die diens van die nasie ingespan is.

Die wapen is nie meer in gebruik nie, en die korporasie gebruik tans ’n verskeidenheid logo’s vir sy verskeie televisie- en radiostasies. Televisie is ’n innovering sedert die wapen in gebruik geneem is, want die eerste lootsprogramme (in volkleur) is 1975 uitgesaai, en ’n volle TV-diens is eers in ’76 ingewy.

 

Oor die SAUK en die uitsaaiwese in Suid-Afrika:

Radio in Suid-Afrika het laat in 1923 begin toe konserte vanuit Johannesburg uitgesaai is onder die aanvoering van die Suid-Afrikaanse Spoorweë se uitsaaikomitee.

Die eerste gereëlde diens vanuit Johannesburg het 1 Julie 1924 begin, onderneem deur die Associated Scientific and Technical Associations of South Africa, of die AS&T Broadcasting Company. Kaapstad het 15 September aangesluit toe die Cape Peninsula Publicity Broadcasting Association Ltd begin uitsaai het. In Durban het die stadskorporasie 10 Desember die leiding geneem, en dus die eerste munisipaliteit ter wêreld geword wat sy eie radiostasie gehad het.

N J Naudé skryf:[2] “In 1934 het die Eerste Minister, Gen Hertzog, die Direkteur-generaal van die British Broadcasting Corporation,[3] sir John Reith (later lord Reith) uitgenooi om die Unie te besoek en om raad te gee oor die toekoms van die uitsaaiwese in Suid-Afrika. Nadat hy ’n deeglike studie van die situasie gemaak het, het hy aanbeveel dat ’n openbare nutskorporasie gevorm word om uitsaai oor te neem wanneer die Schlesinger-organisasie se konsessie verby is, en om dit in die landsbelang te bestuur.

“Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) is dus daargestel in terme van die Uitsaaiwet (No 22 van 1936) en het 1 August 1936 sy werk begin, met oorname van Schlesinger se diens.”

Alhoewel die korporasie in sy vroeë dae ’n standaard van onpartydigheid gestel het wat op dié van die BBC gebaseer is, het dit mettertyd ’n werktuig geword van die Nasionale Party-regering wat in 1948 aan die bewind gekom het met die beleidsplatform van apartheid.

Toe die NP uiteindelik nà die algemene verkiesing van 1994 die mag oorgegee het, en meer spesifiek nadat dit onttrek het uit die Nasionale Eenheidsregering onder president Nelson Mandela, het die korporasie in die hande van die African National Congress geval, wat selfs meer deurgaande partydigheid ten opsigte van sy beleids­rigtings getoon het.

 

Taalbeleid:

Terwyl die vroeë uitsaaistasies slegs in Engels was, is die SAUK op ’n tweetalige grondslag gevestig, met ’n Afrikaanse Diens en ’n Engelse Diens.

Die eerste kommersiële diens, Springbok Radio, is 1 Mei 1950 gestig. Dit was veronderstel om geheel tweetalig te wees, maar dit was hoofsaaklik Engels met sekere programme in Afrikaans en ’n paar waar albei tale gebruik is.

Uitsaai in Bantu-tale het stadig gekom. Die oprig van FM-torings die land oor gedurende die 1970s het die uitbreiding van die diens vergemaklik, en uiteindelik is al 11 Bantu-tale wat in Suid-Afrika gepraat word, gebruik. Aanvanklik het hulle onder die sambreelnaam Radio Bantu geval, maar aparte dienste is toe vir elke taal gestig.

Ook tydens die 1970s is die Afrikaanse en Engelse dienste gekommersialiseer, en Springbok het weggeval. Afrikaans het so dominant geword dat alle nuusberigte eers in daardie taal vertaal is, en deur politieke beamptes goedgekeur, en dan in Engels terugvertaal, wat na haglike foute gelei het. Die dienste in die Bantu-tale is ook gekommersialiseer.

As propaganda-middel het die SAUK ook in 10 tale na ander lander die wëreld oor uitgesaai..

Die televisiediens het ook aan Afrikaans voorkeur gegee, en dramatiese produksies in daardie taal het heelwat meer bevondsing gekry as dié in Engels. Franse en Duitse reekse is ook in Afrikaans vertaal.

Onder die ANC is Afrikaans ’n mindere status in beide radio en televisie. Maar alhoewel Engels voorkeur kry, is dit dikwels baie swak gebruik.

Afrikaanse uitsaaiers is selfs verbied om die diens se Afrikaanse naam te gebruik. In plaas van SAUK word dit van hulle verwag dat hulle dit die SABC noem.



[1] Dit moet nie met die los of lynx van die Noordelike Halfrond verwar word nie. Hierdie spesie, Felis lynx, word aangetref dwars oor Noord-Amerika en in Eurasië (in Europa, hoofsaaklik in die Skandinawiese skiereiland en in aangrensende dele van Rusland, en in Asië, sover suid as Tibet, Assam en noord-Burma/Mjanmar).

Soos in die geval van die genus Caracal, blyk dit tans (weereens as gevolg van DNS-toetse) dat die los (as die genus Lynx) ook in ’n aantal spesies erken behoort te word.

[2] Waar hy in die Standard Encyclopædia of Southern Africa skryf (my vertaling).

wapen van die British Broadcasting Corporation

[3] Die BBC se onpartydigheidstradisie het grotendeels behoue gebly, behalwe dat dit by tye dit nodig vind om nie so erg ’n politieke onpartydigheid te toon nie, maar eerder ’n modieuse linksgesinde houding wat die sittende eerste minister (hetsy Konservatief of Arbeidersparty) in ’n swak lig voorstel.

Hierdie linkse tendens is ook moontlik die rede daarvoor dat die korporasie feitlik heeltemal die geheue van sy heraldiese wapen uitgewis het. Tot nou toe was de enigste beeld daarvan wat aanlyn verkrygbaar was, ’n klein, rowwe skets in swart en wit. Die kleurbeeld regs kom uit Boutell’s Heraldry soos hersien deur J P Brooke-Little (1966-uitgawe).

Die korporasie se geboue is in die verlede uitgeken aan ’n wapenbanier, maar dit lê ook in die geskiedenis se snippermandjie. Flags of the World beskryf ook die BBC se huidige, grootliks betekenislose vlag.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Geskiedkundige inligting uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa.

Beeld van SAUK-wapen afkomstig van ’n webwerf oor Suid-Afrikaanse beelde wat nie meer funksioneer nie. Die beeld is ongelukkig ietwat te nou gesny, en die punte van die skildhouers se horings is afwesig. BBC-wapen geskandeer deur die guns van Godfrey von Sponneck.


Terug na Armoria corporativa-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1