Armoria corporitiva
http://www.geocities.com/corporatio

Buro vir Heraldiek, Pretoria

Buro vir Heraldiek

Die wapen van die Buro word so geblasoeneer:

 

Wapen: In blou, drie skildjies van goud, 2 en 1 geplaas, en op ’n goue skildhoof die Suid-Afrikaanse leeu (dit wil sê die leeu soos voorgestel in die helmteken van die wapen van die Republiek van Suid-Afrika).

Helmteken: Op ’n wrong van goud en blou, ’n Proteatak met drie bloeiwyses en blare, alles in natuurlike kleure. Dekkleed: Goud en blou.

Stawe: Die voorstelling as geheel word voor twee goue heroutstawe geplaas, wat skuins gekruis is.

Leuse: ARMORUM INSIGNIUMQUE CUSTOS.

 

wapen van die Buro vir Heraldiek soos oorspronklik vertoon

Die wapen is deur die President[1] se kantoor goedgekeur, en is onder Regeringskennisgewing 409 geproklameer, wat in Staatskoerant No 1 067 van 26 Maart 1965 gepubliseer is.

Die Buro het daarna op 1 Maart 1966 ’n wapenbrief uitgereik, wat in Engels is.

 

Oor die wapen:

Die drie skildjies van goud simboliseer duidelik die Buro se funksie om heraldiese wapens te ontwerp en te registreer.

Die leeu in die helmteken kom uit die helmteken van die Republiek van Suid-Afrika (soos tussen 1961 en 2000 gevoer), en simboliseer die gesag van die Staat waaronder dit gedoen word.

Die leeu hou vier stawe, twee van silwer (wit) en twee blou, wat met ’n goue tou saamgebind word.

Die blomme in die helmteken word eenvoudig as Protea genoem, wat beteken dat hulle aan een van ’n aantal spesies van hierdie genus mag behoort. Dit is beslis nie Protea cynaroides, die nasionale blom, nie. Dit lyk heel na aan Protea eximia, ’n spesie wat wydverspreid in die fynbos[2]-gebied tussen Worcester en Port Elizabeth voorkom, en lyk ook effens na Protea magnifica (voorheen Protea barbigera), wat in die westelike bergreeks voorkom tussen Pakhuispas in die Sederberg tot Houwhoek in die Bolandse berge.

Dit lyk ook effens soos Protea caffra,[3] wat ook die tiekie-protea[4] genoem word.

In die ou weergawe van die wapen (wat hier regs verskyn), wat in die vroeë jare van die Buro op alle registrasiesertifikate voorgekom het, is die proteas heelwat meer soos Protea cynaroides geteken.

Nasionale Heraldikus Themba Mabaso (regs) en sy adjunk, Marcel van Rossum, in heraldiese drag in St Andrews [Foto met vergunning van Appleton Studios]

Die skuins gekruiste stawe wat agter die wapenskild staan, simboliseer die heroute-amp.

Die leuse vertaal as “Bewaarder van wapens en insignië” – kortweg die Buro se funksie.

 

Oor die Buro:

Die Buro vir Heraldiek het 1 Junie 1963 tot stand gekom, die hoof-gevolg van die deurvoer van die Heraldiekwet van 1962 (kyk hier vir die gewysigde teks daarvan in Engels).

Dr Coenraad Beyers is in ’n waarnemende kapasiteit as Staatsheraldikus aangestel toe die Buro gestig is.[5]

Hy is opgevolg deur Norden Frederick Hartman, wat vanaf 1 Desember 1964 tot 30 April 1982 as Staatsheraldikus gedien het. Dit was tydens sy ampstermyn dat die Heraldiekwet in 1969 gewysig is.

Nadat Frederick Gordon Brownell vanaf 1 Augustus 1977 as Assistent-Staatsheraldikus gedien het, is hy 1 Mei 1982 as Staatsheraldikus aangestel. Hy het in sy amp aangebly na die gewone aftreedatum, en het finaal 31 Januarie 2002 afgetree, en het 19 jaar en nege maande in die amp voltooi.

Sy opvolger, Themba Mabaso, is 1 Februarie 2002 as Nasionale Heraldikus aangestel (en die posisie is tot die rang van ’n direktoraat opgegradeer). Hy dien steeds.

In Augustus 2006 het mnr Mabaso en sy adjunk, mnr Marcel van Rossum, die XXVII Kongres van Genealogiese en Heraldiese Wetenskappe in die universiteitsdorp St Andrews, Skotland, bygewoon. ’n Merkwaardige opsig van die kongres was ’n parade deur die dorp van heroute in hul volle regalia, en kon mnr Mabaso en mnr Van Rossum gesien word in wat tabards[6] genoem is.

Die Buro vorm deel van die Nasionale Argief, en die vroeë registrasiesertifikate wat in terme van die Heraldiekwet uitgereik is, het altyd die wapen getoon van beide die Buro en die Argief (soos hier links aangetoon).

 

wapen van die Suid-Afrikaanse Nasionale Argief

Kontak met die Buro:

Mense wat by die Buro navraag wil doen, hul wapens of ander embleme laat registreer, of wat die register van wapens wil besigtig, kan na Privaatsak X236, Pretoria 0001, skryf, of die kantoor skakel op 012-323 5300 (wanneer ’n mens van buite Suid-Afrika bel, +27-12-323 5300) – hierdie nommer is vir die Argief-skakelbord.

Daar is twee faksnommers: 012-323 5287 (+27-12-323 5287) en vir faks na e-pos, 086 682 5055 (+27-86 682 5055).

Die Buro het nie tans sy eie webwerf nie, maar dit neem deel op van die Argief-webwerf hier. Vir e-pos, skryf aan [email protected]

Die blasoene van geregistreerde wapens en ander deviese kan ook aanlyn gevind word. Soek in die National Automated Archival Information Retrieval System, of NAAIRS.

Die tarief wat deur die Buro gehef word vir die registrasie van wapens en ander deviese word (in Engels) hier gegee.



[1] Tegnies was die titel van die Staatshoof vanaf die daarstelling van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 tot die verkiesing van 1994 Staatspresident.

Hierdie spoggerige titel (oorgeneem van die presidente van die Boererepublieke) is egter deur gewone Suid-Afrikaners en hul koerante hoofsaaklik oor die hoof gesien, en is hy in die Engelstalige pers hoofsaaklik bloot President genoem.

[2] Die term fynbos word gebruik van die Mediterreense-tipe struikgewasse in die plantegroei van die Kaapse Floristiese Koninkryk.

Dit is die hooftipe in hierdie floristiese koninkryk, die kleinste en mees divers van die wêreld se ses floristiese streke. Dit strek vanaf Kaapstad tot die distrik Albany (Grahamstad) in Oos-Kaap, en noordwaarts vanaf Kaapstad tot Nieuwoudtville, in Noord-Kaap.

Die vlaktes van die Klein-Karoo word van die koninkryk uitgesluit, maar die die berge wat hierdie streek aan die noordekant begrens, die Klein en Groot Swartberge, en ander bergreekse verder noord en aan die westekant word deur fynbos-plantegroei gekenmerk.

Die ander plantegroeitipe in die Kaapse Floristiese Koninkryk is woud, wat hoofsaaklik in die Suid-Kaap tussen George en Plettenbergbaai aangetref word, met oorblyfsels sover oos as Humansdorp en sover wes as die Kaapse Skiereiland.

Proteas (totaal ander spesies wat aan dieselfde genus behoort) word ook in die somerreënvalstreek aangetref. Hierdie streek lê noord- en ooswaarts vanaf Grahamstad in savanna-tipe veld wat in Oos-Kaap, Vrystaat, Lesotho, Swaziland, KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo aangetref word.

’n Heelwat kleiner getal protea-agtige spesies (Protea en ander genera) word ook aangetref in hoogliggende dele van Sentraal- en Oos-Afrika sover noord as Etiopië, en daarvanaf tot sover wes as die hooglande van Senegal.

[3] Hierdie spesie is so genoem omdat dit in die Xhosa-gebied van Ciskei en Transkei voorkom, wat in die 19de eeu as Kaffraria bekend gestaan het.

Dit kom ook heelwat verder noord voor. Die Suikerbosrant naby Heidelberg in Gauteng is miskien die bes bekende deel waar dit gevind word.

[4] Protea caffra het die status van nasionale simbool verkry toe dit op die silwer ses-pennie- (6d) en drie-pennie-munte (trippens of 3d) wat deur die Suid-Afrikaanse Munt uitgereik is.

Die 3d-stuk het algemeen as die tiekie bekend gestaan – ’n aanpassing van die Pondo-woord cici – ’n sirkelvormige klein versieringtjie wat in die oorlobbe gedra is.

Die eerste desimale muntreeks, wat in 1961 uitegereik is, het 2½c- en 5c-munte ingesluit wat steeds P caffra getoon het.

Rondom die proteas in hierdie munte was bondels stawe, geneem van die vier stawe saamgebind wat deur die leeu vasgehou word in die helmteken van die Unie van Suid-Afrika, wat in die skildhoof gesien kan word van die Buro se wapen.

[5] Aantekenings oor die verskeie hoofde van die Buro kom uit die redaksioneel van Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suidelike Afrika, Nuwe Reeks 7 No 1-2, wat hier gevind sal word.

[6] Die wapenrokke wat hierdie here gedra het was eerder oorklede, en het die landswapen (2000-weergawe) slegs voor en agter getoon.

’n Wapenrok (in Engels, tabard) is ’n kledingstuk wat ’n heraldiese wapen toon (in die geval van koninklike heroute, die soewerein se wapen) nie slegs op die bors en rug van die herout nie, maar oop op sy arms. Op so ’n wyse kan dit gesien word dat die draer nie die eienaar is van die wapen nie, maar ’n amptenaar.

Verskeie voorbeelde van wapenrokke kan op hierdie bladsy gesien word.

Die kleding van mnr Mabaso en mnr Van Rossum is voorsien deur die goeie guns van dr Mark Dennis.


Alle kunswerk op hierdie bladsy het sy oorsprong by die Buro vir Heraldiek. Die kleur van die beelde is aangepas met behulp van MS Picture It!©

Foto van heraldici met vergunning van Appleton Studios.


Counter

Terug na bo

For English, click here


Terug na Armoria corporativa-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle

Hosted by www.Geocities.ws

1